Bekende plantkundige laat ryk erfenis
ERINA JUNIUS SKRYF:
Doktor Willem Jankowitz, baie bekende en beminde figuur in natuurbewaring en plantkundige kringe, is na 'n kort siekbed vroeg op Vrydagoggend 27 April 2018 in 'n Windhoekse hospitaal oorlede. Hy word allerweë as een van die grootste kundiges van sy tyd van die Namibiese plantekologie en plantgeografie beskou.
Sedert sy geboorte op 15 Junie 1942 het hy as Suidekind opgegroei op die plaas Gamchawib in die Maltahöhe-distrik en voltooi sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Windhoek.
AKADEMIESE EN
BEROEPSLOOPBAAN
Na sy studiejare aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, het hy sy professionele loopbaan as onderwyser in biologie aan die Hoërskool Etosha in Tsumeb begin. Maar die veld en die buitelewe het sterker geroep en hy begin sy lang loopbaan in die destydse department van natuurbewaring en toerisme – eers in Windhoek en later by verskeie plasings.
In hierdie tydperk het hy sy navorsing oor die aalwyne van die suide van Namibië voltooi vir sy Magisterstudies aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en ook 'n boek, Aalwyne van Suidwes-Afrika, in 1975 gepubliseer.
Vir sy doktorale studies werk hy intensief aan die plantekologie van die Waterberg Platopark en verwerf daarmee sy doktorsgraad aan die UOVS in 1982.
In die vroeë tagtigerjare het hy en sy gesin vir 'n paar jaar na die Oos-Vrystaat verhuis, waar hy as dosent by die UOVS se Qua-Qua kampus by Phuthaditjhaba naby Witsieshoek gewerk het. Suidwes-Afrika se stem het hom egter teruggeroep en hy word by die destydse Windhoekse Onderwyskollege se department natuurwetenskappe eers as dosent en later as departementshoof aangestel.
In 1990 sluit hy by die destydse Akademie vir Tersiëre Onderwys aan, wat later die Politegnikum van Namibië sou word en nou as die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust) bekend staan.
GROOT BYDRAES
As dekaan van die vroeëre department ingenieurswese en natuurbewaring speel hy 'n beduidende en aktiewe rol in die ontwikkeling van die instansie, en veral in die voortgesette ontwikkeling van kursusse vir natuurbewaring. In hierdie tydperk het hy jaarliks wyduitgebreide ekskursies onderneem om sy studente individueel op hul verskillende standplase vir praktiese werk regoor Namibië te besoek.
Na sy aftrede by die instansie, bly hy steeds deeltyds as dosent betrokke.
In 2016 word die Cheetah Conservation Educator of the Year Award aan hom toegeken deur die Cheetah Conservation Fund (CCF) vir sy volgehoue werk in natuurbewaring, sy skakeling as dekaan van die departement natuurlike bronne, landbou en toerisme met die CCF en die opleiding van meer as 100 studente in natuurbewaringsprojekte oor 'n tydperk van 15 jaar.
Dr. Jankowitz was gedurende die laaste paar jaar betrokke as adviseur vir navorsingsgeleenthede oor die sogenaamde “fairy circles” in die Naukluft-gebied, saam met 'n span navorsers van die Universiteit van Pretoria. In hierdie verband tree hy in 2015 as ekspert-spreker op saam met 27 ander navorsers uit verskillende lande by die heel eerste Fairy Circl-simposium, gehou te Wolwedans, Namibrand.
Gedurende die laaste aantal jare was hy ook besonder aktief as lid van die Gideons, en het wyd gereis om Bybels aan skoolkinders te verskaf.
PERSOONLIKE HERINNERINGE
Hy was getroud met dr. Driekie Jankowitz, 'n baie bekende in kerkmusiekkringe in Namibië. Sy het hom reeds in Desember 2011 ontval. Die egpaar laat drie kinders en vyf kleinkinders agter.
As mens word hy allerweë as 'n opregte persoon met 'n baie sagte hart en ontferming vir sy medemens in nood onthou. Swaar kry tye as jong kind op die plaas het hom steeds nederig as volwassene gehou, met 'n vaste waardestelsel en 'n diep geloof in sy Hemelse Vader. Hy was 'n inspirasie vir beide studente en kollegas met sy wye kennis en passie vir die Namibiese planteryk.
Vir sy gesin en breër familie was hy die wyse patriarg en luisteraar. Sy vermoë om staaltjies en stories uit hinterjare te vertel, was legendaries en het vir baie ure se prettige luistergenot gesorg. Vakansies is deurgebring in hul strandhuis, Jankie se Dankie, op Hentiesbaai, waar hy baie ure langs die viswaters spandeer het.
Vir almal wat hy agterlaat - familie, vriende, studente, kollegas en medegelowiges – sal sy liefdevolle geaardheid, sy warm persoonlikheid en sy respek vir sy medemens altyd as nalatenskap gereken en diep bewaar word.
Ons groet jou, Pappa, Willem, Dok, met die wete dat jou wortels vir altyd in ons Namibiese grond geanker sal bly.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie