Bekendes belê groot in gasvryheidsbedryf
The Windhoek Collection is die nuutste toevoeging tot die gasvryheidsbedryf in die hoofstad en getuig van sakevertroue in die land.
Ronelle Rademeyer - Die gewildheid van die drie Stellenbosch-restaurante in die Bougainvillea-sentrum in Klein Windhoek – The Stellenbosch Wine Bar, Tasting Room en Market – is een van die suksesverhale in die plaaslike gasvryheidsbedryf.
Dié leefstylervaring word nou ’n stap verder geneem met die totstandkoming van The Windhoek Collection. Dit sluit benewens die restaurante ’n splinternuwe hotel langs Bougainvillea, asook die bekende selfsorgkompleks, Hillside Executive Accommodation, in Nelson Mandelarylaan in. Laasgenoemde staan kortweg as Hillside@NelsonMandela bekend.
Mnr. André Compion, mede-eienaar van The Windhoek Collection, sê die nuwe hotel word The Windhoek Luxury Suites genoem en open op 2 September sy deure vir gaste.
Compion het as sakeman al in verskeie bedrywe gewerk – van aptekerswese tot die lugvaartbedryf en boerdery. Hy is al selfs as Mielieboer van die Jaar bekroon.
Sy betrokkenheid by die Stellenbosch-restaurante was ’n uitvloeisel van sy vriendskap met die Stellenbosse wynmaker, mnr. Jean Engelbrecht van Rust en Vrede-faam. Hul ander vennote is mnre. Leeba Fouché, Jan Pelser en Michael Smith, wat ook die bestuurder is.
Compion sê omdat die restaurante so goed doen en baie van die kliënte toeriste of sakelui op besoek aan Windhoek is, was ’n akkommodasie-komponent die logiese volgende stap van uitbreiding.
Hy het in ’n onderhoud op Republikein se aanlyn ontbytprogram, KletsKompas, gesê The Windhoek Luxury Suites bestaan uit 40 luukse suites “letterlik 20 m van die drie restaurante af”.
Dit bied noodsaaklikhede soos Wi-Fi en DStv, maar ook luukshede soos Nespresso-koffiemasjiene.
“Die ligging is ideaal, want dit is op die lughaweroete geleë. Verder bied dit veilige parkering en kan die gaste maaltye by een van die restaurante geniet. Ons glo die konsep gaan baie goed werk,” sê hy.
Die luukse suites is op die sake- en korporatiewe mark gerig, asook op die kieskeuriger toerismemark.
Daarenteen is Hillside se selfsorgakkommodasie ’n meer bekostigbare opsie, veral vir gesinne wat familiekamers wil bespreek.
Laasgenoemde blok, bestaande uit studio-, een- en tweeslaapkamereenhede, het onlangs ’n verjongingskuur ondergaan, ’n swembad bygekry en is met nuwe linne uitgerus.
Dit bied besoekers ook geriewe soos Wi-Fi en DStv.
Dit is by Hillside waar die kunstenaars wat hierdie naweek by die Windhoek Woordfees optree, sedert gister tuisgaan. The Windhoek Collection borg hul verblyf.
SAKEVERTROUE
Op ’n vraag aan Compion of sakelui in dié moeilike ekonomiese tye nog genoeg vertroue in die land het vir groot beleggings soos dié, sê hy: “Ons het baie vertroue in die land, veral ná verlede week se Ekonomiese Groei-beraad en die aankondigings wat gemaak is.
“In die kort termyn is hierdie verseker nie die maklikste tyd om in besigheid te doen nie, maar ons glo die ekonomiese dilemma is ‘n sameloop van omstandighede soos die droogte, wat beslis ’n groot impak het.
“Ons het van die restaurante ’n sukses gemaak en ek glo ons sal van die akkommodasie ook ’n sukses maak.”
Compion meen daar is nog baie ruimte vir groei in die toerismemark, hoewel hy maan massatoerisme en oorkommersialisering is nie die pad om te stap nie.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie