Belu00ea in water in Afrika
Belu00ea in water in Afrika

Belê in water in Afrika

Ronelle Rademeyer
Vida Booysen - Die ergste droogte op rekord bly die grootste gesprekspunt in baie Afrikalande, insluitend Suid-Afrika, het mnr. Senzeni Zokwana, minister van landbou in Suid-Afrika, verlede maand in China op die byeenkoms van G20-ministers van landbou gesê.
Die Afrikalande wie se binnelandse ekonomieë deur droogte geraak is, het volgens Zokwana ’n harde hou weg.


“Die verwagte skerp styging in voedselpryse sal die meeste arm huishoudings tot ’n status van ernstige weerloosheid aftrek en ons probeer hierdie huishoudings teen die droogte en sy uitkringende uitwerking op inflasie beskerm.”


Hy sê die lande wat deur droogte geraak word, het ’n vroeë waarskuwingstelsel ingestel om te verseker dat hul boere in die toekoms op gepaste wyse op dié en ander natuurrampe kan reageer.


Zokwana het ’n beroep op die G20 gedoen om beleggings in Afrika se waterinfrastruktuur te oorweeg, veral om kleinboere se toegang tot besproeiingswater te verhoog en bestaansboere in tye van droogte te help oorleef.


“Hou in gedagte dat Afrika op ­reën staatmaak vir landbouproduksie, en daarom ook vir voedselsekuriteit.”


Hy het dié lande ook aangemoedig om in landboutegnologie vir Afrika te belê asook in navorsing wat die hele landbouwaardeketting van die saadproduksie tot die bord kan bevorder.


“Ons glo ook dat inkubasieprogramme vir boere, mentorskap en uitruilprogramme baie kan beteken vir boerdery op die vasteland.”


Oor die bereiking van die Millennium-doelwitte het Zokwana gesê Suid-Afrika het al ver gevorder met die hoofdoelwit, naamlik om die aantal honger mense met die helfte te verminder en dat die regering daartoe verbind is om huishoudings se vermoë om weerstand teen hongersnood te bied, selfs meer te versterk.


“Suid-Afrika vereenselwig hom ook met die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte van die 2030-agenda wat deur wêreldleiers onderskryf word. As departement van landbou streef ons doelwitte oor die beëindiging van armoede, hongersnood asook die bereiking van voedselsekuriteit en verbeterde voeding na.”


Die vergadering in die Chinese stad Xi’an was ’n byeenkoms van G20-ministers van landbou, gaslande en internasionale organisasies wat beleidsondervinding deel en innoverende maniere bespreek oor hoe om landbou-ontwikkeling en voedselproduksie in ’n veranderende wêreld te bevorder.


Een van die vernaamste doelwitte van die G20-spitsberaad vanjaar was om voedselsekuriteit en voedingswaarde te verhoog. Volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) sal die wêreld se voedselproduksie teen 2050 met 60% moet styg om in die wêreldvraag te kan voldoen.
-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer