Beleef die nostalgie van ouma se kombuis

By die splinternuwe Bicycle Padstal buite Windhoek is daar in elke happie ‘n stukkie nostalgie.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - In alles wat by dié Bicycle Padstal verkoop en voorgesit word, is daar ‘n stukkie nostalgie opgesluit.

Of dit die koeksusters, die verruklike pasteie of ander heerlike tuisgebak is. . . Hier beleef ‘n mens iets van jou ouma.

Dié nuwe padstal het vroeg in Mei langs die B1 suid van Windhoek sy deure geopen. Dit is by die ingang van Out of Nature, regoor Omeya geleë.

Tandi de Jager (44), die eienares, is ‘n selfopgeleide sjef wat in die gasvryheidsbedryf in Suid-Afrika grootgeword het. Hulle het restaurante besit en haar ma se slaghuise en vleisreeks, Joey’s Vleisprodukte, is legendaries in die Wes-Kaap.

Tandi en haar man, Jacques, het 8 jaar gelede Windhoek toe getrek. “Ek het ‘n passie vir kosmaak en wou nog altyd ‘n plek skep wat nostalgiese herinneringe by mense wek,” vertel sy.

Só is die Bicycle Padstal gebore. Jacques, wat so handig is as wat sy ‘n goeie kok is, het die gebou help inrig. Die lieflike houtdeure, die toonbank uit sinkplaat en ander kreatiewe elemente is alles sy handewerk.

Tandi vertel met trots dat al die produkte wat sy aanhou, in Namibië vervaardig is. Dit sluit die kunshandwerk soos teddiebere, strooikussings, vatlappies, speldekussings, oulike lapsakkies, gehekelde vatlappe, koekies en beskuit asook die ingelegde produkte soos konfyte, kerriebone, ingelegde pastaslaai en blatjangs in.

Daar is ook juwele en skoonheidsprodukte; alles trots Namibies.

“Ek het persoonlik almal ontmoet wat produkte maak en lewer. Ek het sestien verskillende baksters se koeksusters geproe voordat ek die een gekies het wat ek voel ‘n nostalgiese gevoel in my wakker maak wanneer ek die eerste happie proe.”

Van die vroue wat produkte aan die padstal voorsien, is pensioenarisse. “Ek wil mense help om ‘n inkomste te genereer. Ek wou ‘n afsetplek skep waar die plaaslike gemeenskap hulle handewerk en produkte kan verkoop,” sê Tandi.

Sy bak self die wortelkoek, brownies, melktert en pasteie. En al bestaan die padstal nog nie lank nie, is die pasteie reeds legendaries.

Die vleisprodukte soos boerewors, biltong en droëwors word ook deur hulle gemaak.

Verder is daar ook vars groente en vrugte uit die omgewing te koop.

Tandi se regterhand is Beulah Visagie. “Sy was nie opgelei om koffie te maak of om die kasregister te gebruik nie. Maar sy het vir my gesê sy wil hier werk en sy wil graag leer. Ek het toe iemand van Slowtown gekry om haar as barista op te lei.”

“Ons is mens-mense, ek en Beulah. Dit gaan vir ons oor die persoonlike ervaring – ons is hier om vir jou daardie bietjie nostalgie te skep.

“Ons spot al en sê hier regs op die stoep is die storiehoekie en links is die skinderhoekie,” skerts sy oor die gereelde klante.

Met my besoek aan die padstal is Tandi self nie daar nie. Sy werk nog nie voldag ná sy Covid-19 gehad en nog baie tye baie moeg word nie. Ons voer die onderhoud telefonies.

‘n Mens hóór die passie en geesdrif in haar stem.

Sy het groot planne vir hierdie nuwe toevoeging tot die padstal-landskap van Namibië.

Die Bicycle Padstal is van Dinsdae tot Saterdae oop. Vir navrae kan mense Tandi by 081 347 1823 bel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!