Beleggers diversifiseer, maar nie tu00e9 konserwatief
Beleggers diversifiseer, maar nie tu00e9 konserwatief

Beleggers diversifiseer, maar nie té konserwatief

’n Senior beleidsadviseur sê dis interessant dat mense uit suiwer aandele skuif, maar dat baie steeds ’n hoë blootstelling aan aandele verkies.
Hanlie Stadler – Diversifisering blyk die wagwoord vir opbrengs-honger beleggers te wees.

Volgens die Vereniging vir Spaar en Beleggings in Suid-Afrika (Asisa) se syfers vir die derde kwartaal duur die tendens van die afgelope drie jaar voort dat beleggers hulle aan suiwer aandele-effektetrustfondse onttrek en meer geld in geldmark- en ander rentedraende fondse belê. Nuwe beleggings is ook meer geneig om in rentedraende kollektiewe beleggings te wees.

Daar is egter ook ’n invloei na multibate-effektetrustfondse (dus aandele, effekte, eiendom en kontant) wat ’n hoë blootstelling aan aandele het.

Sunette Mulder, senior beleidsadviseur van Asisa, sê dis interessant dat mense uit suiwer aandele skuif, maar dat baie steeds ’n hoë blootstelling aan aandele verkies. “Dit kan daarop dui dat beleggers op soek is na bykomende diversifisering van die onbestendige toestande wat in die aandelemarkte ervaar word.”

Dit kom terwyl rentedraende beleggings oor die afgelope jaar én die vyf jaar tot einde September die hoogste opbrengs opgelewer het.

Dit sal beleggers met hul oog op die horison egter dalk betaam om in ag te neem dat sowel suiwer aandelefondse en multibatefondse met ’n hoë blootstelling aan aandele beter gevaar het oor die afgelope tien en 20 jaar tot einde September.

Net in die derde kwartaal het beleggers R48 miljard in kollektiewe beleggings belê. Die totale netto invloei vir die jaar tot einde September was R137 miljard. (Die netto invloei is die verskil tussen wat beleggers insit en wat hulle onttrek.)

Hiervan is die meeste, R55,2 miljard in rentedraende portefeuljes belê, en die tweede meeste, R51,6 miljard, in Suid-Afrikaanse multibateportefeuljes.

Geldmarkportefeuljes het R32,4 miljard gelok.

Daar was ’n netto uitvloei van R3,8 miljard uit suiwer aandeleportefeuljes, en tog was daar ’n netto invloei van R8,2 miljard in multibateportefeuljes met ’n hoë blootstelling aan aandele.

Die kollektiewe-beleggingsbedryf het nou R2 400 miljard se bates onder bestuur wat oor 1 592 portefeuljes heen versprei is.

Waar is die grootste pot geld belê?

Hoewel meer geld tans invloei na rentedraende fondse en geld uitvloei uit suiwer aandelefondse, bly die totale balans van waar mense belê is, basies onveranderd. Dit lyk só:

· 49% in Suid-Afrikaanse multibateportefeuljes (onveranderd sedert die tweede kwartaal)

· 30% in rentedraende portefeuljes (tweede kwartaal: 29%)

· 18% in Suid-Afrikaanse aandeleportefeuljes (tweede kwartaal: 19%)

· 3% in Suid-Afrikaanse eiendomsportefeuljes (onveranderd).

Deur wie is die geld belê?

Dit lyk asof effens meer mense tussengangers soos finansiële adviseurs se dienste gebruik het. Van die geld is as volg belê:

· 27% regstreeks deur individuele beleggers (tweede kwartaal: 28%)

· 34% deur middel van finansiële tussengangers (tweede kwartaal: 33%)

· 21% deur verskaffers van gekoppelde beleggings soos uitkeerpolisse, uittree-annuïteite en lewende annuïteite (onveranderd)

· 18% deur pensioen- en voorsorgfondse (onveranderd)

Buitelandse fokus

Plaaslik geregistreerde buitelandse portefeuljes het einde September R493 miljard se bates onder bestuur gehad – meer as 4% of R20 miljard meer as einde Junie.

Daar was nietemin in die derde kwartaal ’n netto uitvloei van R9,8 miljard, wat beteken meer geld is onttrek as wat belê is.

Daar is tans 489 fondse wat in buitelandse geldeenhede gedenomineer is, in Suid-Afrika te koop. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!