Beleid oor omgewingsonderrig geloods
'n Omgewingsgeletterde samelewing moet geskep word sodat elke individu sy rol kan speel.
Francoise Steynberg
Spaar elke druppel water, moenie rommel in strate strooi nie, sit die ligte af as jy dit nie gebruik nie en omhels alternatiewe tegnologie soos sonkrag.
Dit was die boodskap van die minister van die omgewing, bosbou en tegnologie, mnr. Pohamba Shifeta, toe hy Donderdag in die hoofstad die beleid oor nasionale omgewingsonderrig en volhoubare ontwikkeling saam met die ministerie van onderwys, kuns en kultuur van stapel gestuur het.
“Die produksie- en verbruikskeuses wat ons as individue maak, sal bepaal of ons 'n groener ekonomie sal hê waar ons die volhoubaarheid van ons omgewing en natuurlike hulpbronne vir toekomstige geslagte sal beskerm,” het Shifeta gesê.
Hy sê as 'n nasie het Namibië goed presteer om omgewingsvolhoubaarheid in ontwikkeling in te sluit, maar staar steeds uitdagings in die gesig.
Van die kwessies is klimaatsverandering, grondagteruitgang, erosie, ontbossing, agteruitgang van natuurlike hulpbronne op land en in die see, waterskaarste, habitatverwoesting en afval- en besoedelingbeheer.
“Dan dra sosioëkonomiese uitdagings soos die huidige Covid-19-pandemie, MIV/vigs, geslagsgeweld, armoede, die impak van oneweredige inkomsteverspreiding, stadige ekonomiese ontwikkeling en hoë werkloosheidsyfer ook daartoe by,” het Shifeta gesê.
Hy meen die optrede en apatie van Namibiërs is een van die grootste bedreigings vir die omgewing.
“In 'n tyd wat omgewingskwessies ons ontwikkeling en lewenskwaliteit bedreig, is omgewingsonderrig en volhoubare ontwikkelings uiters noodsaaklik. 'n Omgewingsgeletterde samelewing moet geskep word sodat elke individu sy rol kan speel.
“Ons het van al die positiewe faktore van die beleid gehoor, maar doen 'n beroep op die nasie om daadwerklik op te tree en omgewingsverantwoordelik te wees,” het die minister gesê.
Hy sê die ideale toekoms is dat alle burgers vir die omgewing omgee en dit bewaar.
“Hierdie beleid sal ons riglyn wees vir omgewingsbewustheid en dit is die verantwoordelikheid van almal van ons op Planeet Moeder Aarde.”
Shifeta sê dit is meer as 'n kurrikulum en moet alle sektore van die samelewing soos skole, hoëronderriginstellings, tegniese en beroepsopleidingsentrums, staatsinstellings, die burgerlike samelewing, die private sektor en die publiek insluit.
“Die beleid fokus op die jeug en die opleiding van ons jeug en omgewingsbeamptes van verskeie ministeries, plaaslike owerhede en die private sektor sal 'n aansienlike rol in die implementering van die beleid speel.”
Shifeta het die ministerie van onderwys, kuns en kultuur vir hul ondersteuning bedank, asook die Hanns Seidel-stigting, die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram en die Duitse regering deur die GIZ.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie