Belfast: Bomme met bed en brekvis

Lloyd Zandberg
Pedro Vorster



Die vierster-hotel Europa in Belfast, Noord-Ierland, hou die bloedige rekord vir die meeste bomontploffings ter wêreld. Verslaggewers het gereeld hier tuisgegaan, en dit is nie dat die Iere joernaliste haat nie, dit het gegaan om die spoedige nuusdekking van elke sterfte of verminking ná elke insident.

Om dit in perspektief te plaas - in die puin van die stad Beiroet het nie een hotel soveel keer deurgeloop nie. Die grusame mylpaal van 36 bomontploffings is behaal tydens die jarelange konflik tussen Protestante en Katolieke, wat vandag eufemisties “The Troubles” genoem word.

’n Toeris mag anders dink voordat Belfast as ’n bestemming en die hotel as blyplek oorweeg word, maar die hotel se sterre blink weer en rekonsiliasie is die gemeenskap se nuwe slagspreuk. Die stad is tans so veilig soos die meeste wêreldstede kan wees. Die Iere se opregte en positiewe breinspoeling word duidelik gehoor in die inligtingspraatjies van die toergidse op die “Hop on, hop off”-busse. Ja, die busritte fokus op toeriste, maar is een van die vinnigste maniere om ’n oorsig en gevoel van ’n stad, sy inwoners en sy verlede te kry.

Gelukkig reën dit hier nie sommer hard nie en daar is ook toe dubbeldekkerbusse.

Minder as twee dekades gelede het daar nog ’n streng aandklokreël gegeld en het die middestad met skemer in ’n spookdorp verander. Net uitgesoekte bevoorregtes, in besit van die nodige dokumente, soos pasboeke in die Apartheidsjare, kon wettiglik op die sypaadjies rondskarrel.

Dit stem mens nogal morbied, maar aan die ander kant is Ierland ook die geboorteplek van die donker Guinness-bier en verskillende soorte ordentlike enkelmout-whisky. Die lewe het redelik onlangs drupsgewys weer die sentrale besigheidsarea begin binnesyfer. Ons kon skaars sitplek kry in ’n gewilde kroeg waar oud en jonk (en dit was lekker om so te dink), Protestant en Katoliek vreedsaam saamgekuier het.

Die twee grootste voorstede is steeds gepolariseer en verdeel in Protestantse en Katolieke woongebiede. Selfs vandag, om sesuur saans, word die inwoners vir die nag geskei deur reusehekke te sluit. Albei partye het ingestem tot hierdie apartheidsreëling.

Die hekke staan in ’n enorme muurkonstruksie wat die berugte Berlynmuur klein laat lyk. Niemand dink daaraan om dit af te breek nie. Iere glo ’n goeie heining maak goeie bure. ’n Teken dat daar wel vordering gemaak is met vredesonderhandelinge is die onttrekking van die Britse troepe wat by hierdie hekke waggestaan het en verkeer daagliks beheer het.

Een afgetrede Protestantse polisieman vind dit steeds moeilik om oor sy ervarings te praat. Ons kon gevoelens deel en simpatiseer weens ’n soortgelyke gedeelde geskiedenis, al was die konflikte wêrelde uitmekaar.

Hy het nooit vir sy seun gesê watse werk hy doen nie. Tot een skoolaand. Die laerskoolkinders moes hul pa se werk uitbeeld. Daar pryk hy toe in ’n troepedraer, vrolik wuiwend. Toe besef hy die kinders was meer bewus van die toedrag van sake as wat die stryende volwassenes vermoed het.

Afgestorwe aktiviste en onskuldige slagoffers van die “Troubles” word gedenk deur hul portrette op kleurvolle muurskilderye te verf. Sowat 300 van dié werke is deur Belfast se voorstede versprei. Van die belangrikste panele, soos die een van Bobby Sands, kan van die toerbusse af gesien word. Selfs Mandela as vredesikoon kry plek op een muurpaneel. Die bitter stryd het ’n attraksie geword, ’n item op die “township”-toer.

Belfast was ’n vername hawe, maar sedert die Tweede Wêreldoorlog het die skeepsboubedryf geleidelik afgeplat. Die Titanic is hier ter water gelaat en die boot se rampspoedige sinking kom nog gereeld op in die kollektiewe bewussyn van die gemeenskap. Dit is te verwagte, aangesien meer as tweeduisend vriende en familielede van Belfast en omgewing daardie yskoue nag in 1911 oorlede is.

Die dodetal van die 30-jarige “Troubles” is meer as 3 600. Voeg daarby oor die honderdduisend slagoffers wat moet leef met fisieke en geestelike letsels.

In ’n antiekwinkel se venster van die plattelandse dorpie Comber, so ’n kort entjie buite Belfast, vang ’n memento die oog. Die kaartjie het die kaartjiehouer aan boord toegelaat vir die ter water lating-seremonie van die Titanic-stoomskip. Hierdie effens verslete aandenking uit ’n tyd van voorspoed en tragedie stem my melancholies. Belfast, wat eens gereeld stukkend geruk is en nou stadig weer gesond word, wek dieselfde bittersoet gevoel by my.

Vir die Iere was vrede tog so ver, maar nou tog so naby.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!