Bella, teu00ebls en grondboontjiebotter
Bella, teu00ebls en grondboontjiebotter

Bella, teëls en grondboontjiebotter

Sanet de Waal
Ons boerboel Bella besit, bestuur en beheer ons huishouding. Sy kom met hopeloos te veel weg, maar al probeer ons kwaai of streng wees, kry sy dit reg om met een kyk haar sin te kry.

Hierdie naweek het ons weer besef ons sit met die grootste drama queen in ons huis.

Ons het onlangs in ’n nuwe huis ingetrek. Die huis is ruim, met ’n groter erf vir prinses Bella. Die huis het ongelukkig orals teëls. Normaalweg het ek glad nie ’n probleem met teëls nie, maar as jy ’n enorme hond het wat dit haat om haar naels te laat knip, sal jy vinnig agterkom die kombinasie van teëls en boerboele werk nie.

Bella is die tipe hond wat altyd die middelpunt van aandag moet wees en sy moet ook altyd eerste by ’n vertrek, deur of gebou ingaan. Sy moet altyd weet wat aangaan en wie is besig met wat en waar. Dus, sodra jy beweeg, beweeg sy, want sy mag onder geen omstandighede alleen wees nie, maar sy moet ook altyd eerste êrens wees.

As ek kamer toe loop, loop sy saam. As ek kombuis toe loop, hardloop sy my uit die pad uit en veroorsaak amper dat ek my heup teen die muur kraak. Sy is eintlik bitter ongeskik, maar sy kan ook nie omgee wat jy dink nie. Sy is eintlik die baas.

Hierdie mag dalk oulik klink, maar as jy 400 keer elke dag moet hoor hoe sy met haar naels heen en weer hardloop, raak jy bitter vinnig moeg vir teëls. Bitter vinnig.

Die kliek-kliek-kliek-kliek oor die teëls raak net harder en harder en hoe meer aandag jy aan haar gee, hoe vinniger hardloop sy.

Ons het die naweek besluit dit is belangrik vir my saligheid dat ons net haar naels probeer knip, maar dit is ook makliker gesê as gedaan.

Bella verstaan Afrikaans beter as meeste mense. As jy praat van kos en stap, staan sy reeds in die kombuis of voor die deur, want dit is twee van haar gunstelingwoorde. Maar waag jy dit om die woorde “bad”, “naels knip” of “kom ons kyk” te sê, is dit asof ’n demoon in ons huis losgelaat word.

Ons sien toe hierdie video waar ’n vrou grondboontjiebotter teen haar voorkop smeer sodat sy haar hond kan kry om stil te sit terwyl sy haar naels knip. Ons besluit ons gaan dit probeer, maar sou verkies om dit nie teen ons voorkoppe te smeer nie.

Die plan van aksie is dat ek Bella se aandag moet aftrek deur haar grondboontjiebotter te voer. My ma, gewapen met die knipper agter haar rug, pen Bella dan vas en dan laat waai ons.

Weer eens makliker gesê as gedaan. Bella sit heel rustig en grondboontjiebotter lek, totdat die son die knipper vang en sy besef hier is iets onderduims aan die gang. Ek sit met my knieë oor haar en pen haar vas en my ma probeer teen die spoed van lig knip, maar Bella het besluit dit is glad nie snaaks nie.

Sy spring op en begin hardloop. Sy gooi my af asof ek net 2 gram weeg. Die knipper vlieg regs, my kop mis die linkerkantse muur rakelings en Bella is buite haarself. Soos gesoute Blou Bul-rugbyspelers duik ek en my ma om die hond te probeer vang. My ma breek amper ’n enkel en ek het grass burns wat ek nooit sal vergeet nie, maar Bella weier om gevang te word.

Ek probeer haar weer met die grondboontjiebotter lok, maar ek kry meer in my hare as wat die hond eet.

Vir omtrent ’n halfuur probeer ons haar vang, maar sy het meer energie as ’n kleuter wat rooi koeldrank gedrink het.

Ek en my ma gee moed op en besluit om met ons boude op die gras te val en ons wonde en ego’s te lek.

Ons het dit darem reggekry om drie naels te knip, so die kliek-kliek-kliek-kliek gaan darem nou net kliek-klak-kliek-klak-kliek-klak wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!