Beloning om ontsnapte vas te trek
Beloning om ontsnapte vas te trek

Beloning om ontsnapte vas te trek

Ronelle Rademeyer
Die Namibiese polisie in die Erongostreek vra die hulp van die publiek om George Natangwe Nyanyukweni Ananias (36) op te spoor.

Hy het in April 2003 uit polisie-aanhouding ontsnap toe hy in die landdroshof op Karibib voorgekom het.

Die polisie reik ''n beloning van N$5 000 uit vir enige inligting wat tot die verdagte se inhegtenisneming kan lei.

Volgens ''n woordvoerder van die polisie, insp. Slogan Matheus, is Ananias in September 2002 in die Usakos-omgewing in hegtenis geneem in verband met moord en poging tot moord op die Gruber-egpaar van Duitsland.

"Die Duitse vrou is vermoor en die man is geskiet, maar hy het oorleef," het Matheus gesê.

Ananias staar ook drie klagte van huisbraak en diefstal in die gesig wat hy glo in die gebiede rondom Usakos en Karibib gepleeg het. ''n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is deur die hof uitgereik, volgens Matheus.

Die verdagte is oorspronklik van die Omugulugwombashe-nederstting van Uukwaluudhi in die Omusatistreek, maar hy het tydens sy inhegtenisneming op Karibib gewoon.

Enigiemand met inligting oor Ananias, kan hoofinsp. John Mwatongwe by 064 219 044 en 081 246 1121 of die naaste polisiekantoor kontak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer