Belowende ontwikkeling wink

Verskeie ooreenkomste is vandeesweek by die internasionale be­leggingskonferensie in Windhoek gesluit.
Augetto Graig
Augetto Graig - Van woestynsand tot vis - Namibië bied verskeie geleent­hede waaroor internasionale beleggers opgewonde is.

Hier is van die projekte wat hulle oorweeg:

Staalaanleg

MK International, ''n Suid-Koreaanse maat­skappy, en Otavi Steel Manufacturing beoog ''n PPP tussen private beleggers en die Otavi-dorpsraad om ''n staalfabriek as ''n gesamentlike onderneming op te rig.

Dit sal strategies op die Walvisbaai-korridor-netwerk op Otavi geleë wees en as Namibia Steel Manufacturing bekend staan.

Die produkreeks sal versterkte staal en ander staalprodukte insluit, sodat Namibië minder van ingevoerde konstruksiemateriaal afhanklik is. Die aanvanklike produksiekapasiteit van die aanleg sal 580 000 ton per jaar wees en die geprojekteerde belegging word op US$250 miljoen beraam. Poste vir meer as 800 geskooldes en 700 halfgeskooldes sal geskep word.



''Lego''-baksteenbehuising

Die Duitse maatskappy Polycare se innoverende, lae-koste, duursame en omgewingsvriendelike Lego-tipe boustene, wat 87% uit woestynsand en 13% uit polistireen gemaak word, sal op Okahandja vervaardig word.

Dié herbruikbare bakstene is vier keer sterker as gewone stene en kan gebruik word om strukture soos huise, skole of mediese sentrums op te rig.

Namibiese woestynsand sal gebruik word om Polycare-boustene aan Namibië en die streek te verskaf.

Die Windhoek-munisipaliteit het met Polycare oor die moontlikheid van samewerking vir laekostebehuising gesels. Die voorgestelde huise sal aansoeke vir hernubare energie integreer om die gebrek aan elektrisiteit in informele nedersettings te takel.



Visoliefabriek

Die hoof van die Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap van Cuxhaven, een van die belangrikste visvanggebiede in Duitsland, gaan in die eerste kwartaal volgende jaar ''n sake-afvaardiging na Namibië lei.

Cuxhaven is die tuiste van meer as 30 innoverende maatskappye met meer as 1 000 werkers in visproduksie, verwerking en logistieke dienste.

Die afvaardiging sal die maatskappy Biocerval insluit, wat belangstelling in die oprigting van ''n produksie-eenheid vir vismeel en visolie op Walvisbaai getoon het.



Land Rover op Air Namibia

Land Rover Experience Duitsland is besig met die finalisering van ''n ooreenkoms met Air Namibia, wat die lugredery as voorkeurvennoot van Land Rover Experience Duitsland sal verseker.

Land Rover Experience is besig met die vestiging van ''n sentrum in Namibië waarheen eksklusiewe kliënte deur Air Namibia vervoer sal word.



Skoenfabriek

Die Rundu-dorpsraad het met drie beleggers uit China, Portugal en Angola onderhandel wat ''n fabriek vir boumateriaal, ''n skoenfabriek en skoenkleinhandelaars asook ''n nuwe hotel op Rundu wil oprig.

Nog ''n Chinese groep, gefasiliteer deur Bin Wang van Sun Group, het met die Windhoek-munisipaliteit en die Rundu-dorpsraad ooreengekom om geleent­hede in grondinstandhouding asook lae- en middel-inkomstebehuising te ondersoek.



Sakeraad

Die Namibiese Beleggingsentrum het ''n ooreenkoms rakende die stigting van die Turks-Namibiese sakeraad met die Turkse Raad vir Ekonomiese Aangeleenthede in die buiteland (DEIK) onderteken.

Die doel hiervan is om handel en oorgrensbeleggings tussen die twee lande te bevorder. Dit sal bydra tot nywerheids- en tegnologiese samewerking tussen Namibiese en Turkse maatskappye en instellings, en sal die deelname aan handelskoue en uitstallings fasiliteer.



Gauteng na Walvisbaai

Die premier van Gauteng, David Makhura, het ''n besoek aan die informele nedersettings en een van die massabehuisingsprojekte tans in aanbou in Windhoek gebring, asook aan die Shack-Dweller''s Association in Otjomuise.

Hy het plaaslike markte soos die Soweto-mark besoek en is in gesprek om die modaliteite vir hulp met ekonomiese ontwikkeling soos laekostebehuis­ing daar te stel.

Die Trans-Kalahari-korridor verbind die hawe van Walvisbaai direk met die Gauteng-provinsie en die twee plaaslike owerhede sal dus aan die formulering van ''n memorandum van verstandhouding vir ekonomiese samewerking tussen die twee streke werk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!