Ben Nolte se moedige verhaal van hoop
'n Gefolterde gesin van Omaruru bly positief.
Denver Kisting - Nick en Isabel Nolte se ergste vrees as ouers het laat verlede jaar waar geword en hul wind uitgeslaan.
Reg in die middel van sy gr. 8-eindeksamen aan die Privaatskool Moria op Outjo, het die groot K aan die deur van hul 14-jarige seun kom klop.
“Dit is die ergste ding waardeur 'n ouer kan gaan,” vertel Isabel die afgelope week aan Republikein.
127 DAE IN DIE HOSPITAAL
Hoewel Ben onlangs ná 'n totaal van 127 dae in die hospitaal huis toe kon kom, is dit nog lank nie die einde van die pad van ontbering vir dié gesin van Omaruru nie.
Die jong seun se gesondheid ry steeds wipplank en hy moet baie fyn dopgehou word. Die afgelope week het hy opnuut 'n terugslag beleef.
Te midde van die angs en kommer, sê Isabel is hulle oneindig dankbaar vir 'n gemeenskap wat uit die staanspoor laer om die gesin getrek het.
Naas die gebede wat hulle steeds daagliks dra, het baie mense die hand diep in eie boesem en sak gesteek om die las vir die Noltes ligter te maak. Klasmaats en lede van die gemeenskap het op eie stoom en inisiatief verskeie vindingryke geldinsamelingspogings van stapel gestuur.
Vandag maak Isabel haar moeë moederhart oop en deel die gesin se verhaal van hoop.
Die 127 dae se hospitaalbehandeling in Kaapstad in Suid-Afrika – tussen November verlede jaar en Maart vanjaar – het hulle geknak, maar nie gebreek nie.
Eerste doktersbesoek
'n Besoek aan 'n plaaslike dokter verlede jaar weens erge naarheid en vergrote limfkliere het onreëlmatige bloedtoetsuitslae aan die lig gebring, vertel Isabel.
“Ek het gevra dat hulle 'n aantal toetse doen, insluitend vir kanker, net om seker te maak.”
Die dokter het ook vermoed dit kan kanker wees en het 'n noodafspraak met 'n internis in die hoofstad gereël.
Teen die tyd dat Ben op 24 November in die Mediclinic in Windhoek opgeneem is, het sy toestand drasties versleg – die kliere om al sy hooforgane, insluitend sy hart, was vergroot, daar was vog op albei longe en hy het geweldige fisieke pyn ervaar, vertel Isabel via e-pos.
Die volgende oggend – 'n Saterdag – het die spesialis vir Isabel vertel dinge lyk nie goed nie.
Ben moes dringend in Kaapstad uitkom om daar behandel te word. Daar was nie 'n minuut om te mors nie.
Aankoms in Kaapstad
Teen die tyd wat paramedici Ben daardie aand in die gange van 'n Kaapse hospitaal afgestoot het, sê Isabel, was sy deur gevoelens van angs en onsekerheid oorweldig.
“Die vrees om my seun te verloor, was ondraaglik. Om hom in 'n toestand van algehele ongemak te aanskou, het my hart gebreek.”
Die eerste paar angsdae is deur die een toets ná die ander verwyl – van sonars en beenmurgbiopsies tot X-strale, skanderings en 'n pynlike lumbale punksie.
Die uiteindelike diagnose was leukemie en dié witbloedselkanker het reeds na sy een long en onderlyf versprei.
Hierdie kanker lei tot die oorvervaardiging en opstapeling van kankeragtige witbloedselle en kan, uiteraard, tot die dood lei.
Isabel vertel Ben het binne die eerste week in die hospitaal reeds sewe kilogram verloor soos dit ál slegter met hom begin gaan het.
Teen die begin van Desember kon dokters hom egter sodanig stabiliseer dat hy as 'n buitepasiënt behandel kon word.
Maar teen 13 Desember was Ben terug in die hospitaal met 'n hoë koors en 'n infeksie.
Dít het gevolg op 'n verdere drie maande gekenmerk deur opdraande en afdraande waartydens die gesin erge ontbering gely het.
Verdere terugslag
Verlede jaar se feesseisoen was een wat die Nolte-gesin altyd as bittersoet sal onthou.
Hoewel Ben Kersfees saam met sy ouers en suster, Bella, kon deurbring was dit nie lank voor die noodlot weer toegeslaan het nie.
Die dag ná Kersfees, 26 Desember 2017, het die gesin opnuut by die Universiteit Kaapstad se private akademiese hospitaal aangekom vir Ben se weeklikse bloedtelling.
Isabel vertel nadat die verpleegsuster die bloedmonsters geneem het, is hulle gevra om net 'n oomblik op die toetsuitslae te wag.
Omstreeks 09:40 het Ben aangedui hy voel nie lekker nie.
Hy het toe opgestaan, teen Isabel geleun, om hulp geroep en in haar arms ineengestort, deel sy.
Dit was toe 'n hengse gespook om hom weer by te bring, onthou sy.
Daar is toe vasgestel sy bloeddruk het gevaarlik laag gedaal. Om sake te vererger, was sy hartritme baie hoog en sy niere en onderlyf het verskriklik pyn verduur.
Terwyl die mediese personeel alles in die stryd gewerp het om sy lewe te red, het een van die spesialiste 'n verpleegsuster beveel om onmiddellik adrenalien toe te dien om sy hart, brein en niere te ondersteun.
“Al Ben se bene het gepyn – hy het gesê dit het gevoel of sy bene vyf keer gebreek is. Hy was dag en nag in oorweldigende pyn.”
Teen die volgende dag het dit selfs slegter gegaan: Ben se niere het toe begin ingee en sy koors het die hoogte ingeskiet na 39,8 grade Celsius.
'n Ander dokter het die treurige toedrag van sake só opgesom: “Ben het van 100 na nul binne 20 minute geval,” sê Isabel.
Nóg 'n skok
Die dokters was dit eens dat Ben in 'n toestand van septiese skok gegaan het. Daar is gevrees dat dié wydverspreide infeksie tot algehele orgaanversaking en 'n lewensgevaarlik lae bloeddrukvlak sou lei.
Dit het uiteindelik vier dae geneem voor Ben se toestand gestabiliseer kon word.
Daar is vasgestel die rede vir die toeval was 'n kiem in die hospitaal.
Teen daardie tyd het Ben al 'n volle 13 kilogram verloor. Isabel sê dit het 'n geweldige impak op sy herstelproses gehad omdat dit hom verswak gelaat het.
Hy is uiteindelik eers weer op Nuwejaarsdag ontslaan.
Positiewe ingesteldheid
“Daar is 'n aantal maniere wat mens na hierdie situasie kan kyk. God het Ben op die regte plek op die regte tyd gehad. Sou Ben op 'n ander plek ineengestort het, sou ons nie in staat gewees het om hom met die dringende sorg wat hy benodig het, by te staan nie. Deur God se genade is ons seun steeds saam met ons.”
Einde Maart se kant kry die gesin toe die blye tyding dat die kanker in remissie was en dat Ben huis toe in Namibië kon terugkeer.
Weg vorentoe
Hoewel die gesin die goeie nuus verwelkom, is hulle deeglik daarvan bewus dat dit nog nie die einde van die pad is nie en hulle Ben vir sowat twee jaar fyn sal moet dophou.
Vir nou is daar egter dankbaarheid en vreugde in die Nolte-gesin se huis.
Isabel sê hulle sou die mas nooit alleen kon opkom nie en is baie dank verskuldig aan wat sy noem “'n goddelike beweging van meegevoel” van verskeie oorde vanuit die gemeenskap.
“Ons het genade ontvang om ons seun huis toe te vat – elke dag is 'n gawe.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie