Bendes slaan toe op kusdorpe
Bendes slaan toe op kusdorpe

Bendes slaan toe op kusdorpe

Misdaad vier hoogty by die kus met huisbrake en selfs motordiefstal.
Des Erasmus
Des Erasmus - Op Swakopmund is die sosiale media die naweek deur noodinstansies gebruik om besoekers te waarsku dat vervalste N$200-note in omloop is.

Talle Suid-Afrikaners was ook ure lank sonder wettige betaalmiddele gestrand omdat hulle nie voor hul vertrek uit Suid-Afrika reëlings met hul banke getref het vir kaarttransaksies in Namibië nie.

Op Swakopmund en Walvisbaai is motorryers ook gewaarsku dat misdadigers van tegnieke gebruik maak om hul motors te ontsluit. Sogenaamde “jammers” word gebruik om die voertuie oop te kry. Wanneer ‘n voertuig met die druk van ’n knoppie gesluit word, ontsluit die diewe dit dadelik weer met hul eie toestelle. Die Shoprite- en OK-sentrums op Walvisbaai word as spesifieke plekke genoem waar die diewe op die motors toegeslaan het.

In die Swakopmundse see is ‘n minderjarige kind Saterdagmiddag deur medeswemmers uit diep water gered. Dit het gelei tot ‘n waarskuwing dat die gebied tussen die Mole en die ou ysterkaai gevaarlik vir swemmers is.

Naby Arandis het twee jong mans met hul lewens daarvan afgekom toe hulle dubbelkajuitbakkie Saterdag gerol het nadat hulle glo vir ‘n springbok moes uitswaai. Meganiese toerusting moes gebruik word om een van die mans uit die kajuit te kry, maar nie een van die twee was ernstig beseer nie.

Die beseerdes is as mnre. Petie Pelser (29) en Enrico van Zyl (19) uitgeken. Ná die ongeluk is ‘n troetelhondjie genaamd Boesman vermis. Die hondjie word as ‘n Jack Russel of ‘n Foksterriër bestempel. Petie en Boesman is blykbaar onafskeibaar.

Huisbraak

Swakopmund en Walvisbaai is sedert verlede naweek in ‘n greep van misdaad.

Huise in die ganse munisipale gebied van Swakopmund word geteiken en die buit van die bendes beloop reeds miljoene dollars. Op Swakopmund is huisbrake algemeen en die Walvisbaaise bendes konsentreer op diefstal van motors en uit motors. ‘n Voorval waarin vier skote glo gevuur was, is ook Dinsdagmiddag beweer.

Dinsdag was waarskuwings deur die polisie, die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN-kusgebied) en die buurtwag gerig teen bendes wat geruisloos beweeg, toegang verkry deur ruite baie versigtig uit te haal en om dan toe te slaan. In die meeste van die gevalle word die voorvalle eers die volgende oggend aangemeld. Een van die slagoffers was blykbaar ‘n gestremde man wat ‘n dag na sy aankoms op Swakopmund beroof was.

Van die inbrake was selfs helder oordag terwyl die huisbewoners in die kerk was.

Skade

Mnr. Jaco Martinson, ‘n 48-jarige sakeman van Nonidas buite Swakopmund, was een van die slagoffers wat die grootste skade gely het. Terwyl Martinsen verlede Sondag in die kerk was, het die diewe ‘n badkamervenster oopgedwing en toegang tot ‘n kluis gekry. Onder die buit was US$100 000 in verpakkings van US$100-note elk, 24 goue horlosies vir dames, een duur skootrekenaar, ‘n kleiner skootrekenaar, ‘n pistool, ‘n slimfoon, juweliersware, duur kameras en ander kosbare artikels. Saam met die US$100 000 word die waarde van die buit op sowat N$2 miljoen bereken.

Die HAN-waarskuwing vra alle Swakopmunders om vriende en familie uit die binneland te waarsku om snags alle alarmstelsels te aktiveer en om kosbare goed soos skootrekenaars en geld snags op veilige plekke te bewaar. Volgens die waarskuwing verwyder die kriminele nou oral in Swakopmund feitlik elke aand vensters om toegang tot blyplekke te kry. Van die mense is selfs besteel waar hulle langs hul duur goed geslaap het.

In die vroeë oggendure Dinsdag is ‘n venster in Swakopmund se Goshawkstraat verwyder om toegang te kry. Daarna is die voordeur eers oopgesluit om ‘n ontsnappingsroete te skep en toe is na die eerste verdieping beweeg waar ‘n handsak en ‘n skootrekenaar gesteel is in ‘n vertrek waar die inwoners geslaap het. Die ganse buit is op ‘n grasperk uitgegooi waar die inbreker net in die geld belang gestel en gevlug het.

Die buurtwag het ook ‘n beroep op mense in Swakopmund gedoen om enige verdagte persone onmiddellik by die noodnommer 085 999 aan te meld.



MOTORDIEFSTAL

Diewe wat op motors konsentreer, het verlede Sondag in die parkeergebied van die Walvisbaaise waterkantontwikkeling toegeslaan. In die betrokke geval is ‘n man en sy meisie by hul motor op pad huis toe deur ‘n man gekonfronteer. Die man het geld gevra. Die antwoord was dat daar nie geld was nie, waarop die boef die sleutel van die motor uitgepluk en weggehardloop het. Die slagoffer en sy meisie het die boef agternagesit. Hulle het gehoor hoe ‘n motor aangeskakel word en gesien hoe die dief met hul motor wegkom. Die waarde van die wit Toyota-bakkie (N 7211 WB) word op sowat N$240 000 gestel. Dinsdagaand was niks nog teruggevind nie.

Toeriste uit die Nederlande weet nie hoe diewe verlede week hul gehuurde motor oopgekry het nie. ‘n Skootrekenaar, klerasie en kosmetiese produkte van sowat N$35 000 word vermis. Vier verdagtes is dieselfde dag in Kuisebmond in hegtenis geneem en van die gesteelde goedere is by hulle teruggevind. Elkeen van die vier het reeds borgtog van N$5 000 gekry.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!