Beoefen geenbewerking vir volhoubare produksie
Bewaringsboerdery kán werk
Ronelle Rademeyer - Die geïntegreerde bestuur van die beskikbare water, grond en biologiese bronne in kombinasie met eksterne insette is nodig om van geenbewerking – een van die vereistes vir bewaringsboerdery – ’n suksesstorie te maak. Dit is die goeie raad van ’n kenner aan Namibiese graanboere wat die metode wil toepas.
Geenbewerking (of “no-tilling”) as deel van bewaringsboerdery is nie ’n kitsoplossing vir insette wat duurder word nie, maar is waarskynlik die enigste manier om grond optimaal te benut en terselfdertyd volhoubaar te produseer. As ’n boer dié tipe bewerking met sy talle voordele wil benut, moet hy sekere basiese beginsels reg toepas. Die resultaat sal die moeite werd wees, sê dr. André Nel, voormalige senior navorser by die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Graangewasse.
Nel, wat nou afgetree is, sê die grootste voordele van geenbewerking is die doeltreffende benutting van insette en produksiekoste wat met verloop van tyd afneem. Dit bring stabiliteit in die boerdery. As al die voordele van geenbewerking eers benut word, lei dit tot hoër winsgewendheid.
Waarom bewaringsboerdery?
Bewaringslandbou is daarop gemik om te bewaar, te verbeter en natuurlike hulpbronne doeltreffender te benut. Dit dra by tot omgewingsbewaring asook verbeterde en volhoubare landbouproduksie. Volgens die Verenigde Nasies (VN) se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) kan bewaringslandbou ook beskryf word as hulpbron-doeltreffende landbou.
Nel sê in bewaringslandbou geld die toepassing van die volgende beginsels:
Ø die minimum versteuring van die grond
Ø die handhawing van permanente of semi-permanente organiese grondbedekking deur die oesreste bo-op die grond te laat
Ø die toepassing van die regte wisselboupraktyke, en
Ø die beoefening van gekontroleerde spoorverkeer in die landerye.
Volgens hom het graanprodusente in Brasilië oor ’n tydperk van 15 jaar daarin geslaag om hul graanproduksie met 67,2 miljoen ton te verhoog deur op 23,5 miljoen hektaar grond na bewaringsboerdery oor te skakel.
Die vernaamste voordele van bewaringslandbou is dat die produsent op die dieselkoste, arbeid en instandhouding van sy trekkers spaar. Mettertyd verminder die produksiekoste en verhoog die wins. Daarbenewens is gronderosie tot soveel as tien keer minder as wanneer grondbewerking op die konvensionele wyse toegepas word, en die produksie-doeltreffendheid en die biologiese aktiwiteite in die grond verbeter. Voorts verminder hierdie bewerkingsmetode produsente se afhanklikheid van fossielbrandstof en werk dit aardverwarming en die vrystelling van kweekhuisgasse teen.
Grondbedekking en minimum grondversteuring
Hy sê direk nadat geplant is behoort meer as 30% van die grondoppervlakte met organiese plantreste bedek te wees. Dié grondbedekking keer dat erosie plaasvind en dien as ’n stadige vrysteller van voedsel vir grondorganismes. Hierdie organismes speel onder meer ’n belangrike rol in die grondstruktuur en dit voorkom plantsiektes en sekere plae. Daarbenewens verminder grondbedekking die verdamping van vog vanaf die grondoppervlak. Hy sê navorsing in Amerika wys dat met elke persentasiepunt toename in grondbedekking, die opbrengs van mielies met 34 kilogram per hektaar verbeter.
Verder behels geenbewerking dat die grondoppervlak tydens die plant van gewasse so min as moontlik versteur word – minder as 15% is die algemene aanbeveling. Deur dit te doen laat die produsent die grond toe om sy natuurlike struktuur te verbeter. Dit bevorder ook die vestiging en groei van grondorganismes of -mikrobes wat voordelig is vir die plant. Grondbewerking vernietig dié organismes se groei en ontwikkeling.
Die rotering van gewasse is volgens Nel belangrik omdat dit die groei en diversiteit van grondmikrobes stimuleer. Verder bekamp dit wortelsiektes by die plant en kan dit die stikstofvlakke in die grond verhoog indien peulgewasse deel van die rotasieprogram uitmaak.
Die resultate van geenbewerking
Studies ná die kort- en langtermyn resultate van geenbewerking toon dat grondmikrobe-aktiwiteit, die grondstruktuur en oesopbrengs oor ’n tydperk van drie tot vyf jaar aansienlik verbeter, hoewel oeste aanvanklik swakker is as toe konvensionele bewerking beoefen is.
Daarmee saam is gronderosie, die koste per hektaar van sekere insette, die hoeveelheid kunsmis wat gebruik word en die voorkoms van siektes ná vyf jaar dikwels laer as met die oorskakeling na geenbewerking. Gronderosie toon uit die staanspoor ’n skerp daling voordat dit later afplat en stabiliseer. Die koste per hektaar is aanvanklik baie dieselfde as met konvensionele bewerking, maar kan met verloop van tyd ’n daling toon. Dieselfde geld vir die gebruik van kunsmis. Die voorkoms van siektes kan egter aanvanklik toeneem, maar sal mettertyd daal.
Skaf dié implemente aan
Volgens hom moet produsente ’n geenbewerking-planter aanskaf wanneer hulle oorskakel, asook ’n doeltreffende onkruiddoder-spuit koop of self prakseer. Die planter wat hy aanbeveel, word deur ’n trekker gesleep en moet deur die oesreste kan sny sonder om dit in die plantvoor in te druk. Die planter moet ook swaar genoeg wees sodat die saad die onversteurde grond kan binnedring. Die spuit wat hy as voorbeeld gewys het, is aan weerskante van ’n viertrek-voertuig aangebring en is deur die eienaar self gebou om sy behoeftes te pas. (Sien die foto’s.)
Die gebruik van onkruiddoders
Goeie onkruidbeheer is van kardinale belang vir suksesvolle geenbewerking binne ’n bewaringsboerderystelsel. Dr. Nel se raad aan produsente wat hierdie bewerkingsmetode oorweeg, is om uit die staanspoor die regte onkruiddoders te gebruik. Hy waarsku egter teen die aanhoudende gebruik van dieselfde middels. Die rede daarvoor is dat bepaalde soorte onkruid ’n weerstand kan ontwikkel teen ’n bepaalde middel. Die ander teenvoeter vir hierdie weerstandigheid is gereelde wisselbou met verskillende gewasse en die gevolglike gebruik van verskillende tipes onkruiddoder.
Hy sê deur onkruiddoders reg te gebruik, word die groei van onkruid-saailinge onderdruk sonder om die aangeplante gewasse te benadeel.
Grondmonsters, bemesting en kultivars
Die diepte waarop grondmonsters geneem word, moet verander na twee aparte ontledings op 0 – 50 mm en 50 - 150 mm pleks daarvan om ’n enkele grondmonster (soos in die geval van konvensionele bewerking) van 0 – 150 mm te neem.
Aanvanklik moet produsente wat na geenbewerking oorskakel stikstoftoediening met sowat 15% verhoog indien hulle monokultuur-mielies verbou, sê dr. Nel. Daarbenewens mag die grondlaag op die oppervlak geneig wees om suur te word, wat beteken klein hoeveelhede kalk moet gereeld toegedien word.
Sy aanbeveling is om meer as een kultivar van dieselfde gewas te plant en om kultivars te kies wat bekend is daarvoor dat dit bestand is teen die patogene wat op oesreste oorleef.
Ten slotte
Hy wys daarop dat om oor te skakel na bewaringsboerdery en die geenbewerking wat daarmee gepaard gaan, ’n denkskuif vereis. Hoewel minimum grondversteuring, ’n permanente of semi-permanente grondbedekking, wisselbou en beheerde spoorverkeer die basiese beginsels van bewaringsboerdery is, is kleiner aanpassings vir plaaslike omstandighede nodig. Laastens moet die grondtoestand reggestel word indien nodig, naamlik deur gekompakteerde lae te breek en kalk te gebruik indien die grond te suur is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie