Beraad besweer beroepsvrese
Beraad besweer beroepsvrese

Beraad besweer beroepsvrese

Menslike elemente soos kreatiwiteit, vindingrykheid en die skep van vertroue sal altyd deel van die werkplek wees.
Petrus Malherbe



Laat vaar maar jou droom om 'n reisagent, bibliotekaresse of bankteller te word.

Volgens Hanli Goncalves, organiseerder van Suid-Afrika se eerste spitsberaad oor toekomstige vaardighede en beroepe, gaan die sogenaamde vierde ­nywerheidsrevolusie kort voor lank die werkplek op sy kop keer.

Goncalves is aan die stuur van My Future 4.0, 'n beraad gemik op jong mense, leerlinge en studente om hulle in te lig oor hoe beroepe in die nabye toekoms kan lyk, en watter vaardighede hulle nou moet slyp ten einde eendag van 'n werk ­verseker te wees.

Die beraad wil nie 'n vrees by mense inboesem dat robotte die wêreld gaan oorneem en ­werkloosheid die hoogte gaan laat inskiet nie, sê ­

sy.

“Dit is vir baie mense 'n angswekkende gedagte dat 'n robot die doeltreffendheid van 'n mens kan vervang, maar 'n persoon sal altyd 'n rol kan vervul in werkplekke waar robotte ook ingespan gaan word.”

Menslike elemente soos kreatiwiteit, vindingrykheid en die skep van vertroue sal altyd deel van die werkplek wees.



DINK ANDERS

Die My Future-beraad wil egter leerlinge en ­studente help om anders te dink oor bestaande beroepe en te fokus op die ontwikkeling van bepaalde vaardighede om steeds daardie beroepe in 'n digitale era te kan beoefen.

Waar 'n onderhandelaar tot dusver sy vaardighede moes gebruik om gyselaars te bevry, sal die onderhandelaars van die toekoms dalk moet leer hoe om met ­kubermisdadigers te ­onderhandel wat 'n maatskappy se data gesteel het en dit as't ware “gyselaar” hou en dreig om dit bloot te lê of uit te wis.

Die rol van weervoorspellers gaan gaandeweg omskep word in dié van weeringenieurs wat die weer met ­tegnologie kan manipuleer.

Robotika sal ook 'n groot rol speel, veral die programmering daarvan, sê Goncalves.

Trouens, kenners ­voorspel dat skole binnekort die aanleer van 'n ­programmeringstaal ­verpligtend gaan moet maak, soos Afrikaans of Engels.

Volgens Goncalves is dit verblydend dat die ­regering al hoe meer oor die koms van die vierde nywerheidsrevolusie praat, maar die nodige aanpassings aan die ­kurrikulum op ­­­skool- sowel as tersiêre vlak gebeur te stadig.

“Dis wonderlik dat die regering tablette aan skole uitdeel, maar hulle versuim om in die eerste plek die leerlinge en ­onderwysers op te lei hoe om hierdie toerusting te gebruik,” sê Goncalves.

Universiteite is ook nog nie gereed om die uitdagings van die vierde ­nywerheidsrevolusie in terme van studente se ­onderrig die hoof te bied nie.

'n Tradisionele B.Com-graad is lankal nie meer genoeg om jou van 'n goeie werk te verseker nie, meen sy.

Op die spitsberaad in Johannesburg in Mei sal leerlinge sowel as ­studente die geleentheid kry om te sien hoe “tradisionele” beroepe soos rekenmeesters, onderwysers en dokters waarskynlik oor tien jaar gaan lyk, en watter ­vaardighede hulle sal benodig.

“Dit sal hulle 'n goeie idee gee van wat die toekoms inhou.”

Volgens Goncalves wil hulle die beraad in 2020 ook na ander stede uitbrei.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!