Bergboere stel hul saak oor Erongo-leeus

Mandy Rittmann
CONNY KAYSER EN ANDER ERONGO-BOERE SKRYF:

Die briewe deur die EMRS (Erongo Mountain Rhino Sanctuary) van die afgelope weke in die dagblaaie getuig van eie drome en visies en het dus min te doen met die werklikheid.

Ons boere in die Erongoberge stel graag ons saak.

In die hart van die berge woon die Hinterholzer-gesinne sedert 1933 en boer al vir baie jare daar met beeste en skape. Daar is ook sedert die vorige eeu die gesinne Van Rhyn en Van Alphen; gevestigde boere. In teenstelling met die mening van die EMRS wat beweer dat landbou in die Erongoberge nie moontlik is nie, bestaan hierdie boere en gemeen­skappe al baie jare en het hulle hul plase met hul opbrengs grootliks uitgebou.

Die bygevoegde kaart wys in rooi die grense van die EMRS. Dit is duidelik dat daar geen geslote gebied vir EMRS-lede bestaan nie. In geel gekleur is die gebied van die boere in die middel van die berge, wat geen vrylopende leeus sal toelaat nie. Byna alle aangrensende boere rondom die EMRS is ook teen vrylopende leeus.



LEEUS UITERS SELDSAAM

Leeus was oor die algemeen nog nooit binne die berge woonagtig nie, want daar was baie min wild in daardie jare. Mnr. Fritz Hinterholzer, gebore in 1935 op Farm Ombu, woon vandag nog daar en kon slegs twee enkelleeus aanmeld; een in 1954 en een in 1970. Sedert die eerste setlaars hulle daar gevestig het, het geen leeutroppe in die omgewing voorgekom nie.

Oor die afgelope 30 jaar het trofeejag, gasteplase, lodges en kampeerplekke ontstaan en dus die druk op kommersiële boerdery grootliks verlig. Die meese van hierdie besighede was reeds in volle gang voordat die EMRS gestig is.

Navrae het getoon dat geen noemenswaardige voordele deur die EMRS aangeteken kan word nie. Hierdie besighede het altyd hulle advertensies en besprekings individueel met groot sukses uitgevoer.

Daarbenewens het sommige van hierdie boere, onafhanklik van die EMRS, hul eie bewaringsgebied saamgestel wat ook deur die ministerie van die omgewing en toerisme (MET) aanvaar is.

Waar daardie sogenaamde "oorbevolking van wild" is, is onbegryplik vir ons. Net so is daar geen geslote wildheinings rondom die EMRS nie. Droogte en hondsdolheid het die diere op natuurlike wyse verminder en ons het daarvoor nie nog leeus nodig nie.

Die baie wildbewaarders in die omgewing van EMRS bestaan nie op ons plase nie en ons het hulle nog nooit gesien nie. Tot dusver was ons baie goed in staat om ons eie bewaring suksesvol uit te voer.



WETTE EN REGULASIES

Enigeen wat belangstel om leeus aan te hou, moet aan al die regulasies voldoen soos die Namibiese wetgewing bepaal, anders sal daar geen leeus wees nie. Waarom moes EMRS nie aan hierdie wette voldoen nie? Waarom sit MET eenvoudig die leeus in die Erongoberge op vrye voet sonder nekbande en senders?

Waarom is die boere in en om die Erongoberge en in die streek nie ingelig of gekonsulteer nie? Waarom word 'n verkeerde lidmaatskapkaart in die media geplaas? Waarom is niksvermoedende burgers van die land, gesinne met kinders, natuurliefhebbers, veewagters en toeriste blootgestel aan die gevare van die leeus sonder enige waarskuwings?

Die besluit van MET om die leeus vir 'n tweede keer te hervestig, bevestig oënskynlik dat daar 'n slang in die gras is. Dus het die minister die regte besluit geneem om die leeus weer te verskuif en na 'n veilige gebied te bring om 'n mens/dier-konflik te vermy.

Dat in hierdie geval die EMRS se visie misluk het, is nie die familie Kayser of enige ander plaasboere se skuld of verantwoordelikheid nie, maar net EMRS se eie ongeskiktheid en kwaadwillige onvermoë om die mense en hulle eiendom rondom hulle te respekteer.

Plaas Eileen is 'n produktiewe plaaseenheid en die eienaar is altyd aanwesig - die EMRS beweer die teenoorgestelde! Watter reg het die EMRS om eenvoudig oor die eiendom of grond van ander mense gesag of besluite te neem?



ONS REGTE, JUL VRYHEID

'n Petisie is opgestel en elke burger wat nie vrylopende leeus in die Omaruru-omgewing wil toelaat nie, kan daardie petisielys by die Omaruru-slaghuis teken. Hierdie lyste word dan aan MET en die Namibiese Landbou-unie (NLU) gestuur, sodat dit in die toekoms duidelik verstaanbaar is dat vrylopende leeus tussen ons gemeenskap en mense in die Omaruru-omgewing nie aanvaar word nie.

Onmiddellik nadat die leeus deur MET en EMRS afgelaai was, aan die einde van November, het ons met EMRS en die MET verskeie kere skriftelik probeer kommunikeer, maar beide partye het besluit om ons te ignoreer, tot op die dag van publikasie in die nasionale koerante. Hoekom? Lyk die samewerking van EMRS so?

EMRS is vry om hulle eie visie en wense/drome op hul eie grond uit te leef en te implementeer, maar behoort in die toekoms die wette van die land te gehoorsaam en te respekteer. Watter reg het EMRS om oor ander mense se plase/eiendomme besluite te neem sonder om te vra?

Vrylopende leeus sal geen toekoms op ons plase hê nie.

Geen mens het besware nie dat die EMRS hulle leeus volgens wetgewing, agter goed geëlektrifiseerde en leeubestande grensheinings, in hul eie gebied vestig en vir die bewaring en voortbestaan van die spesie 'n mooi tuiste skep.

Ons mening is duidelik en ons gaan geen verdere kommunikasie oor hierdie tema voer nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer