Bergfietsryers ondersteun laerskool
Bergfietsryers ondersteun laerskool

Bergfietsryers ondersteun laerskool

Die fondse sal aan die Edward Fredericks Primêre Skool op Uibes naby Maltahöhe geskenk word.
Andrew Poolman
Francoise Steynberg op Solitaire



Deur middel van die Maba­ruli-Solitaire-bergfietswedren wat twee naweke gelede vanaf die Kupferberg-pas na ­Solitaire ­plaasgevind het, is geld vir die ­Solitaire Conservation Fund (SCF) ingesamel.

Mabaruli Safaris wat die bergfietswedren aangebied het, se Britse agent, Exodus Travels, asook Nedbank Namibia, die Namibië ­Onkologiesentrum en Namibië Radio­logie het elk 500 pond geskenk (sowat N$44 000 in totaal).

Die geld sal aan die Edward Fredericks Primêre Skool op Uibes naby Maltahöhe geskenk word.

SCF en die Solitaire Land Trust is verlede jaar gestig om biodiversiteit en die habitat van wildlewe in die omgewing te herstel, het me. Marian Midzi gesê.

“Dit sluit in die verwydering van vee, ou grensdrade en indringer­plante. Boorgate sal ook strategies geplaas word wat water aan wild sal verskaf.”

Dié welsynsorganisasie reik ook uit na wees- en weerlose kinders in die Daweb-kiesafdeling in die Hardapstreek.

“Hierdie gemeenskappe word deur armoede, werkloosheid, geslags­geweld, kindermishandeling, tiener­swangerskappe en ­verslawing geraak,” sê Midzi.

“Met vele ouers wat dood is of ver van die huis werk, word die meerderheid van die huishoudings deur kinders of pensioenarisse gelei.”

Die projek bedien die gemeenskappe van Maltahöhe, Uibes en Vaalpomp.

“Sowat 1 000 kinders trek direk voordeel uit hierdie projek deur voedselhulp, klere, beurse, opleiding, ontspanningsgeriewe en skoolvoorrade,” verduidelik Midzi.



ONDERWYS

Verskeie wees- en weerlose kinders word met beurse, kos, skoolklere en -voorraad geborg.

Sanitêre doekies word aan meisies van Mariental Hoërskool geskenk sodat hulle nie afwesig van die skool hoef te wees nie.

Gereelde kosskenkings word aan 'n sopkombuis by die PA Schmidt Primêre Skool gegee om te help om 800 weerlose leerlinge te voed.

Voedsel word ook aan die 150 leerlinge van Edward Fredericks Primêre Skool geskenk.

Die SCF het ook 'n tydelike kombuis by Vaalpomp gebou waar gesonde kos vir weerlose kinders voorberei word.



LANGTERMYNDOELWITTE

SCF is besig om 'n kombuis, eetsaal, biblioteek en ablusiegeriewe by die Edward Fredericks Primêre Skool in vennootskap met andBeyond se Sossusvlei Desert Lodge te bou.

'n Hidroponiese tuin sal gebou word om die skoolkombuis met groente te voorsien wat ook aan die gemeenskap verkoop kan word.

“Die afgeleë Uibes het geen elektrisiteit of selfoonnetwerk nie; daarom word 'n biblioteek met ­opvoedkundige boeke, ensiklopedieë en dokumentêre natuurfilms beplan,” sê Midzi.

“Gereelde geborgte toere word vir die kinders na die Solitaire Land Trust beplan om hulle aan die natuur bloot te stel en moontlik 'n beroep in die toerismebedryf te volg.”

Jaarliks sal fondse vir bewaringsprojekte toegeken word soos 'n skoonmaakveldtog en die implementering van herwinning.

Fondse vir gemeenskappe kom hoofsaaklik van die Solitaire Land Trust en SCF.

“Wins uit die verkope van ­spesiaal ontwerpte aandenkings soos ­kussings, sleutelringe en magnete bied inkomste aan die SCF. ­Solitaire verkoop mooi kralewerk wat deur die Maltahöhe-gemeenskap gemaak word om die skoolvoedselprogram te steun,” sê Midzi.

Daar word beplan dat die projek vir toekomstige toerismeverkope uitgebrei word. Gaste van Solitaire Desert Farm en Solitaire Lodge gee ook skenkings.

Die eerste jaarlikse Solitaire Charity Cup is suksesvol in Desember met 12 sokkerspanne aangebied.

Deur toegangsfooie, kos- en T-hempverkope is N$47 000 ­ingesamel wat vir kosaankope en boukoste van die Edward Fredericks Primêre Skool aangewend is.

Vir verdere inligting, stuur 'n e-pos na [email protected].

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!