Bernal se Tour plof ineen: 'Ek was leeg'
Fietsry
Marnus Kok – Nadat Egan Bernal se aanslag in die Tour de France Sondag sonder omhaal beëindig is, het die verdedigende kampioen erken hy was net nie opgewasse vir die uitdaging nie.
Die 23-jarige Colombiaanse fietsryer het tydens die 15de skof tussen Lyon en Grand Colombier teen die laaste klim, ’n hors catégorie (die moeilikste klim in ’n fietstoer), uitgesak en 25ste oor die eindstreep gery. Dit was sewe minute en 20 sekondes ná die skofwenner, Tadej Pogacar (UAE-span) van Slowenië.
Bernal is nou algeheel in die 13de plek, agt minute en 25 sekondes ná die draer van die geeltrui, Primož Roglic (Jumbo-Visma). Dit beteken sy aanspraak om vanjaar weer as kampioen bekroon te word, is prakties gesproke by die deur uit.
“Dit is moeilik om te beskryf hoe ek gevoel het, maar ek het leeg gevoel en geen krag gehad nie. Toe die ander ryers versnel het, kon ek nie vinnig reageer nie,” sê Bernal, volgens ’n verklaring van sy span, die Ineos Grenadiers.
“Ek is die nommereen-ryer (in sy span) en ek het probeer om my beste te gee, maar daar was ryers wat sterker as ek was.
“Selfs as ek die laaste klim begin het saam met die ander ryers wat om die algehele titel meeding, het ek gevoel dat hulle my sou agterlaat. Ek wou my beste lewer, nie net vir myself nie, maar ook vir my span en die respek wat ek vir die wedren het,” sê hy.
Bernal se onvermoë om sy titel vanjaar te verdedig, het ook ’n einde gemaak aan sy span, wat tevore as Sky bekend gestaan het, se oorheersing in die Tour. Sedert 2012 was die wenner elke jaar, met die uitsondering van 2014, ’n ryer van dié span.
’n Nuwe span is egter nou op almal se lippe – die Nederlandse Jumbo-Visma. Teen die Grand Colombier was dit ryers van die span, soos Wout van Aert, wat vooraan die peloton die pap dik aangemaak het. Alles in ’n poging om ’n ryer soos Bernal te knak en om die spreekwoordelike rooi tapyt vir Roglic uit te rol. Die taktiek het perfek vir hulle uitgewerk.
Teen die hors catégorie was daar geen teken van Bernal se spanmaats in die voorste gestoeltes nie, wat ook opnuut die debat oor die weglating van die ervare Chris Froome en Geraint Thomas laat opvlam het.
Die twee het tussen hulle die Tour vyf keer gewen en veral Thomas sou waarskynlik by Roglic en sy spanmaats kon byhou – selfs al is sy peil dalk nie tans heeltemal wat dit moet wees nie.
Ná gister se rusadag word die 16de skof vandag oor 164 km tussen La Tour-du-Pin en Villard-de-Lans beslis.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie