Beroep op kalmte in DRK
Beroep op kalmte in DRK

Beroep op kalmte in DRK

Teen Saterdag is nog net 47% van die verkiesingsuitslae landwyd ontvang.
Suid-Afrika het 'n beroep op kalmte in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) gedoen nadat die bekendmaking van die voorlopige uitslae die naweek uitgestel is.

Die voorlopige uitslae moes Sondag bekend gemaak geword het.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het Maandagoggend in 'n verklaring 'n beroep op mense in leiersposte in dié land gedoen om verantwoordelik op te tree totdat die plaaslike verkiesingskommissie (Ceni) die uitslae bekend gemaak het.

Ceni sê hy het teen Saterdag nog net 47% van die uitslae landwyd ontvang. Dit is nie bekend wanneer die voorlopige uitslae nou bekend gemaak sal word nie.

Die Afrika-Unie sowel as die Suider-­Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het reeds hul tevredenheid met die verloop van die verkiesing uitgespreek, maar in die veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) is daar nie eenstemmigheid oor die saak nie.

Oudambassadeur Gert Grobler, kenner van internasionale politiek, sê die vertraging met die aankondiging was nie heeltemal onverwags nie.

“Dit is 'n logistieke nagmerrie om verkiesings in 'n land soos die DRK te hou gegewe onder meer die grootte van die land en die gebrek aan infrastruktuur.

“Ceni moet byvoorbeeld die mil­joene stemme wat uitgebring is per hand tel en dit neem tyd. Ons sal eenvoudig moet wag op die voorlopige uitslae. Hopelik sal dit deur die vernaamste kandidate aanvaar word. Die laaste ding wat die DRK nou kan bekostig is 'n nuwe vlaag van oproer en onstabiliteit,” sê Grobler.

Suid-Afrika en Angola het 'n groot rol gespeel om pres. Joseph Kabila te oortuig om ná bykans 18 jaar as staatshoof die tuig neer te lê. Hy moes al in 2016 vir 'n nuwe president plek gemaak het.

Die veiligheidsraad van die VN waarvan Suid-Afrika nou 'n nie­permanente lid is, het die situasie in die DRK Vrydag bespreek het, maar kon nie tot 'n vergelyk kom nie.

Die nuusagentskap Reuters berig luidens 'n interne verslag van die VN wat hy onder oë gehad het, het die VSA die gebrek aan deursigtigheid in die verkiesingsproses veroordeel. Die VSA het intussen as voorsorgmaatreël troepe na die nabye Gaboen gestuur om seker te maak Amerikaners en die land se belange in die DRK is veilig.

China, 'n groot belegger in die DRK, het die proses egter geloof.

Leila Zerrougui, hoof van die VN se stabiliseringsending in die DRK, het aan die veiligheidsraad gesê die situasie in die DRK word al hoe meer gespanne.

Frankryk, wat saam met Amerika, China, Rusland en Brittanje die vyf permanente lede van die VN is, wou hê die veiligheidsraad moes 'n verklaring oor die verkiesing uitreik waarin hy sê hy is tevrede dat die mense van die DRK hul stemme kon uitbring, maar dat hy baie krities is oor die DRK-regering se besluit om die internet tydens die verkiesing af te skakel.

Suid-Afrika het gewaarsku die veiligheidsraad sou die situasie in die DRK vererger as hy gehoor sou gee aan die Franse se voorstel.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!