Berugte Clifford Fisch wéér vasgetrek

Altesaam sewe mans is verlede week vir veediefstal aangekeer nadat 18 skape na bewering op ’n plaas oos van Rehoboth gesteel is.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Rehobother wat daarvan beskuldig word dat hy na bewering as skaapdief ’n skrikbewind op plase in die omgewing voer, is vir die soveelste keer vasgetrek.

Dié keer kon mnr. Clifford Fisch (37) nie daarin slaag om op borgtog vrygelaat te word nie.

Hy het Woensdag saam met mnr. Hendrik Eixab, alias John Tate, op klagte van veediefstal in die Windhoek landdroshof in Katutura verskyn. Dit was nadat ’n wilde jaagtog Maandagnag om na bewering met twee gesteelde skape weg te kom, deur boere van die omgewing gestuit is.

Mnr. Rainer Ling van die plaas Cowdray oos van Rehoboth vertel hy het Maandagaand gaan ondersoek instel ná ’n berig oor ’n verdagte voertuig in die omgewing, en het ’n bakkie op die suidelike gedeelte van sy plaas gewaar. “Ek het my ligte geflikker om te wys hy moet stilhou, maar die bakkie het weggejaag.”

Ling het die bure gekontak om die vlugtendes by ’n padblokkade voor te lê. “Met tye het hulle teen 140 km per uur voor my op die grondpad gejaag,” vertel hy en sê skaapdiewe “terroriseer” boere in dié geweste reeds geruime tyd.

Toe die vyf insittendes in die voortvlugtende voertuig ná ’n draai in die pad die padblokkade gewaar, het hulle stilgehou. Volgens Ling het Fisch en een man uitgespring en weggehardloop en hulle het vir Eixab saam met twee jong mans van Rehoboth in hegtenis geneem. Daar is na bewering twee skape wat op Ling se buurplaas, Kaukerus, gesteel is, agterop die bakkie gevind. Dié plaas behoort aan mnr. Leon Louw.

Fisch is later in hegtenis geneem, maar die man wat saam met hom weggehardloop het, is nog voortvlugtend. Die ander twee mans wat saam met Eixab in die voertuig was, is nie aangekla nie.

Ling vertel terwyl hulle daar op die polisie gewag het, is ’n tweede bakkie met 16 gesteelde skape op deur die boere by die padblokkade voorgekeer. Die skape, wat almal nog lewend was, is na bewering ook op Kaukerus gesteel. Dit is van daar af glo na die naburige hervestigingsplaas, Bosula, aangejaag en deur die vermeende diewe opgelaai.

Volgens Ling was daar vier mans, wat op Rehoboth woon, in die bakkie. Hulle is mnre. Remmy Kamurongo, Eddie Nowaseb, Seun Kambala en Hesekiël Iyombo.

’n Vyfde man, mnr. Efraim Haihonga, is ook in hegtenis geneem. Hy woon op ’n veepos op Bosula en was na bewering kop in een mus met die vermeende skaapdiewe.

Nowaseb, die koper, het glo aan hom N$2 000 vir die skape betaal.

Dié vyf mans het net soos Fisch en Eixab ook Woensdag in Windhoek in die hof verskyn, en is op borgtog van N$4 000 elk vrygelaat.

Beide dié twee sake is tot 26 Augustus vanjaar vir verdere ondersoek uitgestel.

VORIGE ARRESTASIES

Republikein het vroeër berig Fisch is in 2016 twee keer in verband met skaapdiefstalle op plase in hierdie omgewing in hegtenis geneem.

In April 2016 het hy in die Rehoboth-landdroshof verskyn en is op borgtog van N$2 000 vrygelaat.

In Julie daardie jaar het hy op die ses klagte van veediefstal en kwaadwillige beskadiging van eiendom in die landdroshof op Dordabis verskyn, waar hy op borgtog van N$5 000 vrygelaat is. Dié saak is later van die rol verwyder.

Volgens Ling het boere van die omgewing regshulp hieroor ingewin en word probeer om dit weer op die rol te kry.

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!