Beseerde kampioen Seidler vat dit kalmer

Ná sy agtste triomf op 'n streep in die Jetty Myl het hy “nie juis soos 'n wenner gevoel nie” en is van daar reguit hospitaal toe.
Andrew Poolman
Andrew Poolman en Adolf Kaure – Selfs beseerde skouerligamente en ligte harsingskudding was nie genoeg om Phillip Seidler verlede week van sy gebruiklike heerskappy in die Pupkewitz Jetty Myl op Swakopmund te weerhou nie.

Die ontydige fratsbesering vroeg in die kompetisie sal hopelik geen demper plaas op sy aanslag om vir die Olimpiese Spele later vanjaar in Tokio, Japan, te kwalifiseer nie.

Elke swemslag was pynlik vir die 22-jarige Swakopmunder nadat hy hom oomblikke ná die wegspring misgis het. Hoewel hy opnuut die byeenkoms gewen het, is hy agterna reguit hospitaal toe.

Toe die skoot klap en die oopwater­swemmers gehardloop het om in die eerste branders te duik, het Seidler in sy sierlike duikslag 'n sandbank getref en 'n soort bolmakiesie geslaan.

“My fokus vooraf was daarop ingestel om my bestaande byeenkomsrekord (18 minute 33 sekondes, verlede jaar) te oortref en my beste vertoning te lewer ná al die ure van harde oefening,” het hy agterna op sosiale media vertel.

“Soms word ons as sportmanne se doelwitte egter binne 'n oogwink verpletter wanneer jy fokus verloor. Ek het redelik swak begin – die beste botsing van die dag – toe ek 'n brander misreken en kop eerste teen 'n sanbank vasgeduik het.

“Ná 'n tydjie onderwater, toe ek weer opkom, het ek die swemmers volspoed in my rigting aangehardloop gesien kom. My keuses was óf om tou op te gooi, óf uit hul pad te beweeg en met my resies te begin.

“Ek kan nie eens behoorlik onthou wat ek gedoen het nie. Ek was duiselig en my liggaam het eenvoudig die roete gevolg nadat ek al soveel keer tevore die Jetty Myl geswem en hier geoefen het.

“Elke swemslag was onbeskryflik pynlik.

“Maar ná baie jare van kompeterende swem het ek geleer om nie tou op te gooi nie en dat pynlike oefensessies jou vriend is. Ek kon in my gedagtes hoor hoe Janis (Stergiadis, Dolphins se swem­afrigter) sou sê: 'No pain, no gain'.

Seidler het uiteindelik wel die Jetty Myl vir 'n merkwaardige agtste opeenvolgende jaar gewen, in die 14de bestaansjaar van die byeenkoms wat hy die eerste keer as 'n 15-jarige seun begin oorheers het.

“Dit het soos 'n ewigheid gevoel om die eindstreep te bereik. Ek het tevrede en dankbaar gevoel dat ek deurgedruk het. Hoewel dit my agtste oorwinning is, het ek nie juis soos 'n wenner gevoel nie – bloot tevrede dat ek in hierdie resies my alles gegee het.”



VROUEKAMPIOEN

Seidler (20 minute 10 sekondes) is twee minute later gevolg deur sy Suid-Afrikaanse vriendin Amica de Jager, algeheel tweede en die eerste vrou oor die eindstreep.

De Jager, wat verlede jaar ook die vrouekompetisie gewen het, het agterna gesê die branders en seestrominge wat normaalweg die swemmers aanhelp, was hierdie keer minder gunstig.

“Dit was nogtans 'n wonderlike resies. Ek het dit verlede jaar so baie geniet en ek het teruggekeer vir nog 'n slag. Dit was hard, maar pret.”

De Jager, 'n lewensredder van St. Francisbaai wat ook as oopwater­swemmer meeding, is tans vir die Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskap aan die voorberei.

Net soos Seidler, is haar aspirasies ook daarop ingestel om vir die Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.



OLIMPIESE DROOM

Seidler het gister aan die koerant gesê die bevinding was dat geen operasie nodig is om die mikroskeur in sy skouerligament te heg nie.

“Die mediese advies was dat ek vir twee weke nie die skouer moet beweeg nie.

“Onder toesig van my chiropraktisyn is ek reeds sedert Maandag al op die oefenfiets besig om my fiksheid in stand te hou. Ons hou matigheid voor oë, maar ek sien daarna uit dat ek volgende week geleidelik my swemsessies teen 'n stadige pas sal kan hervat en opbou om ná drie weke tot 6 kilometer te kan aandurf.

“In die dae sedert die ongeluk bemerk ek reeds 'n groot verbetering in vergelyking met die pyn tydens die byeenkoms.”

Die aftel van die laaste 200 dae voor die aanbreek van die Olimpiese Spele in Tokio op 23 Julie is eergister gedenk.

Seidler sê die internasionale swem­owerhede se nuutste korrespondensie in reaksie op die ontwrigting van Covid-19 is dat die Olimpiese kwalifiserende geleentheid vir 10 kilometer oopwaterswem vroeg in Meimaand aangebied sal word.

“Dit sou in Seychelle plaasgevind het, maar is intussen verskuif om waarskynlik by 'n onbevestigde bestemming in Japan te geskied.

“Die mikpunt sal wees om die eerste swemmer van jou vasteland oor die eindstreep te wees en sodoende die Olimpiese kwalifisering te verseker.

“Elke deelnemende land sal maksimum twee manswemmers na die kwalifiserende geleentheid mag stuur. Die twee swemmers van Suid-Afrika sal na verwagting my sterkste kompetisie vir die enkele beskikbare kontinentale posisie wees.”



BYEENKOMS SLAAG

Die Jetty Myl se hooforganiseerder, me. Yvonne Brinkmann van OTB Sport, sê ten einde aan die gesondheidsmaatreëls te voldoen, is vier wegspringgroepe op verskillende tye uitgevoer, naamlik die mans en vroue in die hoofresies, die korter Sprint-afstand (600 meter) en die kinderbyeenkoms (sowat 200 meter).

Geen prysuitdeling is ook agterna gehou nie, om die versameling van 'n skare te vermy, en pryswenners kon agterna hul pryse by die OTB-sportwinkel op die kusdorp gaan afhaal.

Altesame 143 swemmers het die volle afstand van 1.92 kilometer voltooi wat by Tiger Reef weggespring, verby die jetty gestrek en by die Mole geëindig het. In 2019 het 157 deelnemers die hoofafstand klaargemaak.

Die toptien uitslae van die 2020 Pupkewitz Jetty Myl:



MANS

1 Phillip Seidler 20 minute 10 sekondes (elite)

2 Nico Esslinger 22:57 (o.16)

3 Mikah Burger 23:16 (o.16)

4 Maximilian Betts 23:54 (elite)

5 Oliver Ohm 24:03 (o.16)

6 Arkell Wellmann 25:46 (elite)

7 Christoph de Jager 25:53 (o.16)

8 Corné le Roux 25:55 (elite)

9 Tyrone Kotze 26:03 (veterane)

10 Peter Brinkmann 26:10 (veterane)



VROUE

1 Amica de Jager 22:27 (RSA, elite)

2 Heleni Stergiadis 23:47 (elite)

3 Tiana Esslinger 25:56 (elite)

4 Molly Smalley 26:26 (elite)

5 Ilona Sickel 28:18 (veterane)

6 Maja Brinkmann 28:22 (o.16)

7 Maya Stange 28:27 (o.16)

8 Carissa Esslinger 29:09 (elite)

9 Hannah Murphy 29:17 (elite)

10 Nicole Redecker 29:24 (o.16)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!