Beset leu00eb huise, su00ea Job
Beset leu00eb huise, su00ea Job

Beset leë huise, sê Job

Volgens die ministerie is 2 796 huise ten volle voltooi en aan hulpbehoewendes oorhandig.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die bou van byna die helfte van die 4 000 huise wat onder die vaandel van die omstrede massabehuisingskema landswyd gebou word, is nog nie voltooi nie en staan leeg.

Die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling was vinnig om op ’n video te reageer wat in die sosiale media die ronde doen, waarin beweer word die massabehuisingsprojek op Swakopmund se Uitbreiding 7 staan verlate en is ’n mors van belastingbetalers se geld.

Mnr. Job Amupanda van die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) het die publiek in die sosiale media aangehits om die huise te beset wat al jare lank leegstaan.

“Ek gee julle toestemming om die huise te beset. Ons kan nie leë huise hê terwyl mense haweloos is nie,” het Amupanda gesê.

Die ministerie sê hy is besig om regstellende maatreëls met betrekking tot die huise wat nog nie voltooi is nie in te stel.

Hiervan is 2 796 ten volle voltooi en is dit volgens die ministerie aan hulpbehoewendes oorhandig.

Met ’n verdere 1 162 is reeds begin, wat tans in verskillende fases van “konstruksie, voltooiing en bewoning” is.

Die meeste van die huise onder die skema op Swakopmund staan egter leeg.

Swakop-huise

Ten spyte hiervan het die Swakopmundse munisipaliteit sowat vyf maande gelede sy eie “40/40-behuisingsinisiatief” aangekondig om ’n bykomende 1 590 laekostehuise agter die DRK- informele nedersetting te bou.

Die ministerie het vandeesweek gesê 1 521 huise moes as deel van die skema op drie persele gebou word.

Tot dusver is 1 016 huise voltooi en oorhandig. Hoewel konstruksie op al drie persele goed vorder, het probleme met die bou van 505 huise ontstaan wat veronderstel was om deur die broers Nelson en Thobias Akwenye van Ferusa Capital CC voltooi te word.

Volgens die ministerie is dít die huise wat in die video-opname in die sosiale media verskyn.

Ferusa het ’n tender vir die bou van 505 huise by die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE) gekry en dit weer aan die Chinese maatskappy New Era Investment (Pty) Ltd en Paving and Construction CC gesubkontrakteer.

Die Ferusa-tender was volgens die ministerie weens ’n dispuut oor wanbetaling tussen Ferusa en die subkontrakteurs nie op skedule nie. Dit ten spyte van die feit dat Ferusa deur die regering betaal is.

New Era Investments het Ferusa hof toe gesleep, wat daartoe gelei het dat alle konstruksie op die perseel gestaak is.

New Era Investments het die saak gewen en het die reg op eienaarskap van die eiendomme tot tyd en wyl Ferusa betaal.

Die regering sê hy is nie deel van die dispuut nie en skuld ook nie enige geld aan Ferusa nie.

Die ministerie het intussen ’n veiligheidsmaatskappy aangestel om die onvoltooide huise teen vandalisme te beskerm. Hy het ook regsaksie teen Ferusa vir kontrakbreuk en verwante skade ingestel.

Die ministerie onderhandel met die subkontrakteurs om ’n ooreenkoms vir die aanvang en voltooiing van die projek te sluit.

Die onderhandelinge is in ’n gevorderde stadium.

Ferusa se tender vir die behuisingskema het N$173 miljoen beloop.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!