Besetting van San se grond duur voort

Bestaan van inheemse groepe steeds bedreig
Catherine Sasman
Catherine Sasman

Weke ná die hoërhofbeslissing dat onwettige besetters in die Na+aJaqna-bewaringsgebied hulself, hul omheinings en kudde uit die gebied moet verwyder, beweer desperate San-gemeenskappe in Tsumkwe-Wes dat onregmatige grondbesetting steeds op ’n weeklikse grondslag plaasvind.

Dit duur voort ondanks ’n onlangse versekering van die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, dat hy persoonlik sal toesien dat die onwettige besetters die gebied verlaat.

Die bewaringsgebied se inwoners sê geen teken dat die besetters, wat die omstrede sakevrou me. Teckla Lameck insluit, besig is om hul goed te pak nie.

Die San-gemeenskappe op Grashoek, Kano Vlei, Omatako, M’kata en Mangetti Duin sê hulle sien elke naweek nuwe intrekkers wat voortgaan om groot stukke grond af te kamp wat tot duisende hektare in beslag neem.

Op 16 September is nie minder nie as 14 nuwe onwettige besetters net op Kano Vlei geïdentifiseer. Die Namibiese polisie was blykbaar hiervan ingelig, maar plaaslike gemeenskappe sê nóg die polisie nóg die !Kung tradisionele owerheid het enige regstellende stappe gedoen.

Inteendeel, die plaaslike gemeenskappe beskuldig senior raadslede van die !Kung-owerheid daarvan dat hulle onwettig en op ’n korrupte manier grond vir so min as “’n bottel whiskey tot N$20 000” verkoop.

“Ek het met my eie oë gesien hoe ’n raadslid geld vat en dan dronk by ’n sjebeen gaan word met die klomp kontant,” het die voormalige raadslid van Kano Vlei, mnr. Raino Eino, oor een van die beweerde ontwettige grondtransaksies gesê.

Die San-gemeenskappe het die nuwe hoof van die !Kung-owerheid, me. Glony Arnold, wat haar pa, John, opgevolg het, asook mnr. Agarob (Alla) Sauseb, die voormalige sekretaris van die oudhoofman, uitgesonder as die twee wat vir die onwettige grondverkope verantwoordelik is.

Hulle sê Glony Arnold het blykbaar toe sy gevra word waarom sy dit toelaat, gesê sy het alleenreg oor hoe die grond in die bewaringsgebied hanteer word.

Die sekretaris van die N+aJaqna-bewaringsgebied, mnr. Frans Gomeb, asook ander plaaslike inwoners, het bevestig dat Arnold by ’n onlangse vergadering weer klem op haar sogenaamde “alleenreg” geplaas het.

Die San-gemeenskappe word blykbaar deur Sauseb met dieselfde minagting en arrogansie behandel.

“Toe ons na die owerheid gaan om te vra vir grond, het Alla gesê hy sal nooit, ooit ’n San help nie, want hulle is glo dom,” het die San-man mnr. Hiskia Kukurushe van die Grashoek-omgewing verontwaardig gesê.

Sauseb, wie se funksie nadat die voormalige hoofman gesterf het vir die owerheid onduidelik is, gaan na bewering straffeloos voort om onwettig grond in die bewaringsgebied te verkoop.

Verskeie lede van die San-groepe­ beweer ook dat Sauseb glo hierdie verkope noteer in ’n nie-amptelike kwitansieboek en dat die inskrywings tot 2011 terugdateer word om die indruk te skep dat die grondtransaksies gedurende die voormalige hoofman se termyn beklink is.

Die gemeenskappe kon nie sê of die geld na die tradisionele owerheid gaan nie, maar het opgemerk dat diegene wat betrokke is by die onwettige grondverkope, openlik met groot bedrae kontant in sjebeens dronk raak en met duur motors en deftige klere spog.

Sauseb het eenvoudig geweier om enige antwoorde te verskaf. Arnold, nadat sy aangedring het dat vrae aan haar per SMS gestuur word, het die SMS’e ondanks verskeie pogings nie beantwoord nie.

LEIERSKAP WORD BETWIS

Ontevredenheid oor besetting deur mense van buite die gebied het daartoe gelei dat mense van die bewaringsgebied die wetlike gesag van die hoof en raadslede van die !Kung tradisionele owerheid bevraagteken.

Baie meen dat nóg wyle hoofman Arnold nóg sy dogter Glony die geldige leiers van hoofsaaklik die grondtoekennings is.

Arnold, sowel as Glony drie jaar ná sy dood, is deur die regering as die tradisionele owerheid se hoofde aangewys. Baie mense van die gemeenskap het gevoel dat verkiesings wat deel van die keuringsproses uitgemaak het, ander moont­like leiers misken het.

Hulle meen ook Glony moet nie outomaties as leier aanvaar moet word bloot omdat sy Arnold se dogter is nie. Iemand uit die gemeenskap moes verkies geword het.

Prof. Robert Hitchcock, wat vir meer as 30 jaar met San-aangeleenthede gewerk het, het genoem dat ’n sogenaamde koningshuis of ’n koninklike bloedlyn nooit onder die San bestaan nie.

’n Voorstel om vir die Na+aJaqna-owerheid ’n koningshuis te skep, het misluk omdat die meerderheid van die tradisionele gemeenskap dit verwerp het.

WIE IS DIE BESETTERS?

Volgens Gomeb is die meeste besetters “naweekboere”, professionele mense soos dokters, prokureurs, ’n landdros, en hoëvlak polisie- en weermagamptenare.

Die San-groepe stem saam met Gomeb en voeg by dat die meeste Awaambo is wat op aandrang van en onder die be­skerming van Arnold grond oorneem.

Arnold het blykbaar haar trou uitsluitlik aan die stigterpresident, mnr. Sam Nujoma, beloof en was tot kaptein in die weermag bevorder nadat sy as hoof van die !Kung-owerheid ingehuldig is.

Wyle John Arnold het blykbaar sedert 2006 reeds grond aan Herero- en Owambo-­sprekendes vir so min as N$10 000 verkoop.

“Hoofman (Glony) Arnold dra nie haar mense se belange op die hart nie. Sy is net vir die Owambo’s. Sy sê self sy hang net aan die stigterpresident. Sy het niks met enigiemand anders uit te waaie nie,” het ’n bron gesê.

“Ons het nie ’n probleem dat Owambo’s of Herero’s hier kom woon nie, maar ons word nie ingelig nie terwyl ons wêreld al kleiner word,” het Eino gesê.

Kommer is ook uitgespreek oor die feit dat die regte prosedures nie gevolg word wanneer grond uitgedeel word nie.

Gomeb sê die regte prosedure vir aansoeke om gebruiklike grondregte is om by die tradisionele owerheid aansoek te doen. Dié moet dan dit bespreek en ’n ooreenkoms met die bewaringskantoor bereik. ’n Ander verpligte stap is dat gemeenskappe hul goedkeuring moet gee alvorens die streekgrondraad grondtoekennings bevestig.

Terwyl geen wetlike stappe gedoen word nie, spring heinings oral in die bewaringsgebied vir kilometer na kilometer op terwyl geen regeringsinstansie ingryp nie.

Die stilswye van hierdie regeringsinstansies word deur die plaaslike gemeenskappe as ’n sameswering beskou omdat die meeste begunstigdes van die onwettige grondvergrype hoofsaaklik Oshiwambo-sprekende senior staatslui is.

KONFLIKTE EN BOTSINGS

Die meeste San-groepe voer steeds ’n bestaan uit die natuurlike omgewing. Konflikte en botsings met die intrekkers is daarom onafwendbaar.

Die onwettige besetters het duisende beeste in die omgewing ingebring wat oorbeweiding en die uitputting van veldkosse en ander medisinale plante soos duiwelsklou veroorsaak. Duiwelsklou word kommersieel geoes.

Die indringers word daarvan beskuldig dat hulle ook duisende beskermde bome soos die kameeldoring- en kiaatbome afkap om onwettige heinings op te rig.

Die indringers het blykbaar ook boorgate oorgeneem en San-groepe sê hierdie boorgate word tot die laaste druppel oorbenut omdat so baie beeste in die omgewing ingebring is.

“Mense word geslaan en met die dood gedreig as hulle oor die heinings klim om kos of hout te soek,” sê Eino.

Die Suid-Afrikaanse maatskappy Tourmaline, wat die jagkonsessie in die bewaringsgebied het, dreig ook om die bewaringskantoor te dagvaar omdat dit nie kan jag nie weens die drade wat die omgewing deurkruis en as gevolg van wild wat op die vlug geslaan het.

“Ek weet nie wat hierdie grondbesettings vir die plaaslike gemeenskappe gaan beteken nie. Nooit tevore was daar bek-en-klou-seer hier nie, maar ons is bang dit mag uitbreek omdat die beeste deur die Kavango ingebring word sonder om deur die veeartsenygrens te gaan,” het ’n amptenaar by die !Kung-gewoontereghof, mnr. Issaskar Suob, gesê.

“Wat ons wil hê,” het mnr. Amon Petrus namens die San-groep op Omatako gesê, “is om ons eie leiers te kan kies. Die hoofman en raadslede wat grond onwettig verkoop, moet gaan. Ons wil leiers hê wat vir en met ons werk.”

DIE STRYD OM NA+AJAQNA

Wat voorheen bekend was as die Westerse Boesmanland was oorspronklik as ’n kommunale gebied vir die San in die 1960’s gegee.

Anders as by ander kommunale gebiede wat onder die Odendaal-plan geskep is, was hierdie gebied nooit selfregerend nie, maar die Tsumkwe-gebied, of Boesmanland-Oos, was die administratiewe middelpunt.

Ná onafhanklikwording het die regering eienaarskap van die kommunale gebiede geëis, maar volgens mnr. Willem Odendaal van die Regshulpsentrum (LAC) het die regering nooit voldoende beleide vir die administrasie van sodanige grond bepaal nie.

Odendaal sê voorts die wet op kommunale grondhervorming in die sogenaamde Boesmanland-Wes het misluk.

“Dit is nie duidelik of die regering die grond tot voordeel van die San bestuur nie en of dit op gelyke voet behoort aan enige burger van Namibië wat dalk daarheen wil trek nie,” het Odendaal in besprekingsdokument gesê. Hy voer aan die San het nie beheer oor die grond waarop hulle woon nie.

Die Na+aJaqna-bewaringsgebied is in Julie 2003 verklaar met die meeste van sy lede wat aan San-gemeenskappe behoort.

Volgens Gomeb sal die San-gemeen­skappe meer “krag” oor die gebied hê as dit tot ’n gemeenskapswoud verklaar word omdat dit dan sy eie bywette het.

Die gemeenskappe het reeds in 2006 hiervoor aansoek gedoen, maar nog niks is daaraan gedoen nie.

“Slegs dít sal die mag in ons hande plaas,” het Gomeb gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!