Besige jaar vir Windhoek se DBV

In 2018 het meer eienaars vrywillig hul diere aan die DBV oorgegee.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg- Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Windhoek het 3 695 diere gedurende 2018 ingeneem.

Altesaam 2 207 honde, 1 434 katte en 54 ander diere wat onder meer ’n vark, skilpaaie, wilde voëls, papegaaie, rotte en hase insluit, is deur die DBV 'n heenkome gegee. Tydens die feestyd alleen is 328 katte en honde ingeneem, waarvan 202 rondloperdiere was en 127 deur hul eienaars ingebring is.

Volgens Hanna Rhodin, die nuwe hoofbestuurder van Windhoek se DBV, is daar ’n toename in die aantal diere wat deur hul eienaars ingebring en oorhandig word. “Dit is nie finansieël vir die eienaars altyd moontlik om hul diere meer aan te hou nie. Dit kan weens kos- of mediese uitgawes wees.”

Die DBV het ook diere ingeneem wat nie in die beste toestand was nie. “Dixie is ’n hond wat verlede jaar ingekom het met ’n gebreekte been wat nie herstel kon word nie. Windhoek se dierehospitaal moes noodgedwonge haar been amputeer. Die publiek het ons ongelooflik baie gehelp met donansies om vir die operasie te betaal, en al die kostes kon gedek word. Ons het besluit om die Dixie-fonds te skep, wat ’n spesifieke rekening is waarin donasies betaal word vir mediese uitgawes vir diere met spesiale behoeftes,” sê Rhodin.

Die DBV het ’n baie suksesvolle boekjaar gehad met ’n netto wins van N$420 000. Dit is ook die grootste wins wat die DBV in die afgelope vyf jaar gemaak het. Die winste is ondanks die hoë kostes verbonde aan die huisvesting van die diere. Dit kos die DBV ongeveer N$3,091 per hond en N$2,132 per kat vir die eerste maand se verblyf en versorging by die vereniging. ’n Gemiddelde 262 honde en katte is op enige gegewe tydstip by die DBV. “Finansiering bly een van ons grootste uitdagings en dit is juis hier waar ons staatmaak op die gemeenskap om ons te help met donasies,” sê Rhodin.

Gedurende hierdie boekjaar is 438 diere aangeneem, waarvan die groter meerderheid (78,1%) honde was. Aannemings is laer as verlede jaar, maar dit kan volgens die DBV toegeskryf word aan die moeilike finansiële klimaat en bedrukte marktoestande.

Die DBV het daadwerklike moeite tydens die jaar ingesit om rondloperdiere wat ingebring word weer met hul eienaars te verenig. Gereelde plasings op Facebook met foto’s en inligting van dié diere word opgelaai om die eienaars te probeer vind. Dit het eindelik gehelp om 657 diere weer aan hul eienaars te besorg.

“Ons doen ons bes om diere sover as moontlik te help, maar ons het die gemeenskap se hulp nodig om die diere te help. Ons wil graag in die toekoms meer aandag gee aan bewusmaking en opvoeding, veral onder die jeug. Met opleiding en bewusmaking is dit moontlik om reeds vanaf ’n jong ouderdom te werk na meer verantwoordelike eienaarskap van jou troeteldiere en eindelik meer medelye vir die diere te bewerkstellig,” sê Rhodin.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!