Besigheid struikel onder Corona-impak
Besigheid struikel onder Corona-impak

Besigheid struikel onder Corona-impak

Die pandemie het talle maatskappye soos 'n hamerslag getref, wys 'n NSA-opname.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Namibië Statistiekagent­skap (NSA) het die bevindings van 'n opname bekendgemaak wat die impak van Covid-19 op persepsies onder besighede in Namibië aandui.

Volgens die statistikus-generaal, mnr. Alex Shimuafeni, wys die opname dat 96,5% van besighede wat deelgeneem het nadelig deur die effek van Covid-19 in Namibië beïnvloed is.

Sakeleiers glo ook die nagevolge sal in die komende maande vererger. Die opname dui aan die helfte van ­Namibiese besighede is tans net ­gedeeltelik handeldrywend en sowat 'n kwart is tydelik gesluit.

Die vermindering in steun deur plaaslike kliënte vir die betrokke tydperk was op gemiddeld 68,8%. Van die besighede het 63,7% 'n afname van meer as 50% in hul inkomste aangemeld.

In terme van inkomstevermindering is vervaardiging, gasvryheid (insluitend hotelle en restaurante), asook die boubedryf die ergste getref, dui die opname aan.

“Die pandemie het die behoefte beklemtoon dat akkurate inligting so spoedig as moontlik vir beplanningsdoeleindes bekom word. Die NSA implementeer verskillende strategieë om besluitnemers en beleidmakers tydens Covid-19 met statistiek te ondersteun. Juis in dié verband het die NSA besluit om 'n eksperimentele waarnemingsondersoek oor die effek van Covid-19 aan te pak,” sê Shimuafeni.

Inligting is vanaf 30 April tot 11 Mei deur 19 statistici, onder toesig van twee senior statistici, ingesamel. In die geheel het 41,4% van besighede wat benader is, terugvoering gegee, spesifiek 226 uit 546 maatskappye. Die opname is deur middel van e-pos- en aanlyn vraelyste met telefoniese opvolg gedoen en kontak met alle geslote besighede is dus nie bewerkstellig nie.

Die terugvoering dui aan die helfte van Namibiese besighede is gedeeltelik handeldrywend, 'n kwart (25,2%) is tydelik gesluit en net 3,5% het aangedui dat hulle permanent toegemaak het.

Besighede wat tydelik toe is, is meestal in die gasvryheidsbedryf, gevolg deur dié betrokke by eiendomsverkope. In die boubedryf sê 23 uit 24 besighede hul inkomste is tans, en sal ook in die komende maande, negatief beïnvloed word. Met betrekking tot vervaardiging is hierdie negatiewe vooruitsig deur elkeen van die 47 deelnemers herhaal.

Die opname dui aan 68,8% van

alle betrokke besighede ervaar minder steun van plaaslike kliënte en 65,1% verwag hierdie trant sal voortduur.

Terselfdertyd moet 29,8% van besighede aanpas by verminderde steun van internasionale kliënte, terwyl 30,3% verwag dit sal so voortgaan. Net 14,2% van die besighede het 'n vermindering in hul beskikbare voorraad aangemeld en net 9,6% verwag voorraad kan in die komende maande moeiliker bekom word.

Besighede het ook 'n tekort aan werknemers (weens inperking) en ander corona-verwante gevolge as impakfaktore uitgewys.

Ander bydraende faktore in die vooruitsig sluit in kwarantyn, skoolsluitings en vervoeronderbrekings, terwyl die tekort aan ondersteuning van die regering as 'n huidige faktor gelys word.

Groot kommer bestaan weens die opname se aanduiding dat 89,7% (204 uit 227 van deelnemende besighede) inkomsteverliese ervaar. Hiervan het 73 besighede hul inkomsteverliese op tussen 91% en 100% verklaar. Nog 24 besighede sê hulle het tussen 81% en 90% van hul inkomste verloor.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!