Besin oor die jaar wat was
Besin oor die jaar wat was

Besin oor die jaar wat was

‘Die oog van die baas maak die vee vet’
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher - As mens so bietjie afstand kan kry tussen wat nou aan die gang is met 'n jaar wat na sy einde snel, dink 'n mens onwillekeurig na oor wat was, wat kon wees en wat kan kom.

In die eerste plek vier beeste en skape nie Kersfees nie en het Nuwejaarsdag ewe min betekenis op 'n plaas. Die lewe gaan aan en vir diere is voldoende kos en water en die oog van die herder al wat tel. Die herder se onmiddellike taak is juis dít en daarvoor is daar nie eindes nie – dit is ewigdurend.

As dié herder kan terugdink terwyl hy op sy staf leun, is daar kommer en spyt, maar ook baie dankbaarheid. Dankbaarheid vir die jaar wat verby is vir onverdiende seëninge waarin sy versoek van nie 'n ligter las nie, maar 'n sterker rug, hom toegeval het.

Ja, daar was moeilike tye wat juis daardie leuse gelouter het, maar daarna was die staal sterker.

Die wiel bly draai en die rit bly rof; soveel so dat strategie en styl deurlopend aangepas moes word.

Die mallemeule van die lewe as herder het in baie skakerings gekom; van wipplank ry, stampkarresies en skoppelmaai, maar vir die meeste aktiwiteite sonder vaste grond.

Asof die werklikhede nie al genoeg stampe en stote gehad het nie, smokkel hulle nog met sy kop ook. Dit is verwarrend as wat hy verstaan van die grond, veld en diere en die optimale benutting daarvan wegraak of verwater soos wat dit vanaf plaashek deurvloei na die raadsale waar beleid uitgedink en afgedruk word.

Vir die herder is sy kompas duidelik: boer en sit kos op die tafel vir die wie moet eet, maar hy voel in die steek gelaat as die uitleef van sy visie geblokkeer word deur administratiewe rompslomp en onvermoë.

Beleidsonsekerheid ­manifesteer in ­kwynende vertroue aan die kant van die herder om te doen waarvoor hy die beste toegerus is, naamlik om gestalte te gee aan die spreekwoord wat lui “die oog van die baas maak die vee vet”.

As die herder die jaar heroorweeg, is daar spyt soos dat daar te vroeg of te laat bemark is, goeie, jong ooie bemark moes word om die kontantvloei te skep wat nodig is, en so meer.

Die “wat as”-denke is nie verkeerd nie, want dit is die insette tot nuwe beplanning, leer uit eie foute en les bes, die brandstof om strategies en takties fikser te word.

Gebeure buite die grensdrade het die afgelope jaar meer invloed uitgeoefen op wat binne daardie drade doenbaar was.

Om dit te kon doen, het beteken dat baie herders lang tye weg moes wees van die diere vir wie hy/sy verantwoordelik is.

Hierdie leiers onder die herders het hulle staal getoon in die stel van die saak van hul medeboere, maar ook deur oopkop denke die leiding gegee. Nuwe bedelings ten opsigte van toegang tot hulpbronne, veral grond, het die grense van denke en verdraagsaamheid getoets.

Die verbintenis tot nuwe denke het die reikwydte van dié gesprekke verdubbel. Dié leierherders se siening word geag en verdiskonteer as vennote-in-missie: 'n Beter en meer inklusiewe landbousektor as die grondslag vir volhoubaarheid op plaasvlak en binne die waardekettings en voedselsekuriteit.

Die jaar wat kom, gaan vermenigvuldigend meer uitdagings hê. Een daarvan is die weer, want reën dit nie op tyd nie, is baie van die drome van geen waarde nie.

Wat nou toenemend gebeur, is dat die erken­ning van die werklike rol wat die landbou kan spel, ook baie meer begrip kry en meer besluitnemers betrek as dit kom by die soeke na oplossings vir droogtes, lae pryse, krimpende markte, enso­voorts.

Die herders het die aankondiging van die geboorte van ons Salig­maker die eerste gesien en hulle het die woord versprei.

Dié uitdra van die nuus van die geboorte was nog nooit in gedrang nie, want die herders het dit gesien. Laat ons as herders die vermoë behou om sake van belang eerste te sien.

Geseënde Kersfees en 'n nat 2019 aan elkeen wat die taak en rol van ons herders verstaan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!