Beskerm ons boere
Beskerm ons boere

Beskerm ons boere

Dani Booysen
ARTHUR GÖTZ VAN OUTJO SKRYF: Na aanleiding van u berig “Agtien koeie op een slag gestroop” in die uitgawe van 27 Januarie 2022, die volgende:

Jan Alleman besef nie hoe erg en hopeloos die situasie is nie. Hopeloos omdat dit ‘n direkte gevolg van ons sosiaalekonomiese omstandighede is, wat jaarliks versleg. Erg, want dit is gemik op ‘n baie onstabiele sektor, naamlik die kommersiële boer.

Die sektor is een van die grootste werkverskaffers in die land, maar ook een van die mins wingewenste. Die 18 dragtige koeie wat daar geslag is, verteenwoordig ‘n produksieverlies van 30% vir ‘n gemiddelde boer op ‘n gemiddelde plaas in ons kontrei.

Plaas uself in daardie skoene: ‘n Besigheidseienaar wat in die oggend opstaan en vind dat 30% van sy jaarlikse produksie net eenvoudig weg is, en die jaar is nog lank nie verby nie. Daar kom nog siektes. Roofdiere. Droogte. Die natuur.

En nog stropers. Hierdie is nie gewone misdaad nie, dit is ‘n direkte bedreiging vir die boer se gekose beroep, sy werkers se inkomste en selfs die boer se lewe.

Ons boere het beskerming nodig. Ons het die grondwetlike reg om enige beroep te kies en te beoefen, maar dit word bykans onmoontlik gemaak. Waar is daardie beskerming?

Sou jy stropers op heter daad betrap, mag jy nie skiet, maar jy weet nie of hulle sal skiet nie. Sou jy hulle in die dorp vaskeer, mag die stroper weier om die plek van sy misdaad uit te wys. Kry jy dit nie, is daar geen bewyse nie.

Die polisie kan en gaan jou nie help soek nie. Kry jy die slagplek, moet jy self vir die DNS-toetse betaal (N$9 000 per toetssessie). Die staat moet dit eintlik doen; dis hulle plig, maar waar daar nie geld is nie, is daar nie geld nie.

Jy sal ook jou eie prokureur aanstel, want as jy die ding net daar los, sal die stropers uitkom op borg, voor jy jou oë uitvee, of ander tegniese skuiwergate in die wet vind? Jy mag nie die hofverrigtinge bywoon nie om te sien dat reg geskied, want daar is “Covid-reëls”. ‘n Ongrondwetlike toestand van sake, maar ons aanvaar dit so.

Die gevangenisse is oorvol, dis ‘n feit. Dis baie goedkoper vir die staat om die beskuldigdes terug na jou plaas toe te stuur. En as jy so gelukkig en ryk is om alles reg te doen, en hulle word gevonnis, moet jy maar hoop hulle ontsnap nie, soos dit oor Desember met stropers op Outjo gebeur het.

"Die saak word ondersoek," is al wat jy hoor. Moet ons rêrig nog met sulke antwoorde tevrede wees?

Daar is regulasies vir die verkoop van vleis aan die publiek, maar die enigste wat daarby hou, en die tyds- en produksieverliese wat daarmee gepaard gaan, is die boere self. Geen polisieman sal eers daaraan dink om ´n kapanaverkoper vir sy of haar permit te vra nie. Hy, of sy, koop dan self kapana.

My logika sê vir my hierdie ding gaan lelik eindig. Dit gaan verpolitiseer word, soos wat dit reeds gebeur, en ‘n openlike konfrontasie met die regering dreig. Dit moet, dit kan nie anders nie, as om lelike bloedneuse vir alle partye te gee nie. Ernstige gevolge vir die groter Namibiese bevolking is die enigste moontlike uitkoms as ons nie vinnig terugkeer na ‘n veilige, regverdige regstaat nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!