Beskerm ons, pleit konstruksiebedryf
Beskerm ons, pleit konstruksiebedryf

Beskerm ons, pleit konstruksiebedryf

Moratorium op nuwe tenders bring groot druk
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die voortbestaan van baie plaaslike konstruksiemaatskappye is in die gedrang en ''n magdom werkgeleenthede is op die spel ná die regering ''n moratorium op nuwe tenders geplaas het, sê die Federasie van die Konstruksiebedryf van Namibië (CIF).
Weens sy finansiële penarie het die regering op 12 September opdrag aan die tenderraad gegee om, tot ná die 2016-''17-begrotingshersiening afgehandel is, geen nuwe tenders toe te ken nie. Die regering wil eers alle kapitale projekte se prioriteite bepaal. Alle lewensvatbaarheidstudies is eers ook op die lange baan geskuif.
Volgens die meer as 450 lede van die CIF raak hierdie opdrag alle aanskaffings deur regeringsinstansies en ondernemings in staatsbesit, wat uit die sentrale nasionale begroting gefinansier word.
“Die CIF besef dat die Namibiese regering om verskeie redes begrotingsbeperkings in die gesig staar. Dit word verder vererger deur onvoorsiene veranderinge in die makro-ekonomiese omstandighede wat die druk op regeringsbronne verhoog het. Dit is duidelik uit die optrede van die tesourie dat die regering in ‘n moeilike posisie is," sê mnr. Nico Badenhorst, waarnemende president van CIF, in ‘n verklaring.
“Hierdie opdrag sal ‘n geweldige impak op die Namibiese konstruksiesektor hê. Tensy die regering vinnig optree, kan dit ernstige gevolge vir sakeondernemings in die bedryf en ook die ekonomie in sy geheel sal hê. Baie maatskappye verkeer in gevaar en baie regstreekse- en nie-regstreekse werkgeleenthede is op die spel,” sê Badenhorst.
Die konstruksiebedryf het in 2014-''15 werk aan 9 556 mense verskaf, toon die jongste verslag van die Kommissie vir Arbeidsgelykheid (EEC). Meer as 6 000 van hulle was geskool, semi-geskool en ongeskool. Meer as 75% van die konstruksiesektor se totale arbeidsmag in dié tydperk was permanente werkers.
Die CIF sê dit is uiters belangrik dat die regering moet klem lê op die ondersteuning van Namibiese kontrakteurs.
“Ons vertrou dat die regering duidelike doelwitte sal stel en die regte strategieë sal aanvaar om die impak van die drastiese stap op Namibiese ondernemings te verlig. In tye soos hierdie, moet die Namibiese familie eerste kom. Enige prioriteitsprojekte wat geïdentifiseer word ná die begrotingshersiening, moet aan Namibiese maatskappye toegeken word,” het Badenhorst bygevoeg.
Volgens die CIF het Namibiese kontrakteurs voldoende kapasiteit en behoort plaaslike kontrakteurs nie in die huidige omstandighede met buitelandse kontrakteurs mee te ding nie.
Die federasie is van voorneme om voort te gaan om met die regering in gesprek te tree en vas te stel hoe die situasie ten beste beredder kan word.
Van die voorstelle wat deur die CIF voorgestel word, is om ‘n Namibiese Konstruksieraad op die been te bring.
“Een ding is duidelik, baie meer regulering van die bedryf, in belang van instandhouding en die verdere volhoubare ontwikkeling van die Namibiese potensiaal, is noodsaaklik. Ons het die vereiste wetgewing nodig om sou gou as moontlik ‘n raad vir die bedryf tot stand te bring,” het Badenhorst gesê.

''Betaal betyds''
Voorts word dit in kritiese belang geag om die kwessie van betalings op te los, meen CIF.
“Láát betalings het ‘n betekenisvolle impak op die kontantvloei in die bedryf. Dit het implikasies op die likwiditeitsvlak in die konstruksiesektor wat grootskaalse kontrakteurs en subkontrakteurs ewe erg raak,” lui die verklaring.
“Vir doeltreffende kontantvloeibestuur is dit krities dat die regering hom tot ‘n realistiese tydraamwerk vir die betaling van uitstaande skuld, asook die betaling van toekomstige fakture van bestaande projekte verbind. Dit sal ‘n mate van vertroue meebring wat uiters belangrik vir die stabilisering van die bedryf is,” het Badenhorst gesê.
Die CIF het ook benadruk dat alle organisasies en individue wat by openbare aanskaffing betrokke is, moet fokus op ‘n baie sterk plaaslike Namibiese bou- en konstruksiebedryf. Om hierdie rede is dit krities dat die korrekte keuses gemaak word deur almal wat by openbare aanskaffing betrokke is, en dat ‘n sterk verbintenis ter ondersteuning van Namibiese kontrakteurs bestaan.
Me. Bärbel Kirchner, raadplegende hoofbestuurder van CIF, het op haar beurt gesê: “Die aankondiging dat die regering ‘n moratorium op alle nuwe tenders geplaas het, was ‘n skok. Uit ‘n ander perspektief gesien, moet ons egter probeer om die huidige finansiële situasie as ‘n geleentheid te sien om ernstig na te dink oor hoe Namibië kan fokus op die ontwikkeling van ‘n volhoubare plaaslike konstruksiesektor.
“Ons behoort sommige belangrike veranderinge vir die blywende positiewe impak op ons bedryf in te stel. Dit is nie net belangrik dat Namibiese kontrakteurs in staat is om in die huidige omstandighede te oorleef nie. Sodra ons deur die drif van hierdie moeilike tye is, wil ons eerder sien dat ons plaaslike bedryf in belang van Namibië en ons bevolking in sy geheel vooruitgaan.”
Die CIF is ook van voorneme om toepaslike navorsing te doen onder sy lede asook ondernemings wat nie lede van die organisasie is nie. Die federasie is ook van voorneme om met instansies op alle vlakke van die regering te skakel om inligting oor regeringsprioriteite te bekom, sodat die regte strategieë ter ondersteuning van Namibiese kontrakteurs aanvaar kan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!