Beskuldigde bieg teenoor joernalis
Beskuldigde bieg teenoor joernalis

Beskuldigde bieg teenoor joernalis

'n Misdaadverslaggewer het op 2 Maart getuienis gelewer in 'n moordverhoor ná 'n tienermeisie vier jaar gelede verkrag en vermoor­ is.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Staatsgetuie, me. Nomhle Kangootui, het gister in die getuiebank in Windhoek se hoërhof getuig hoe 'n beskuldigde in 'n moordsaak 'n skulderkenning teenoor haar gemaak het in die loop van haar pligte as joernalis vir The Namibian.

Dié getuienis is aangehoor in die verhoor van mnre. Fransiscus Narimab (29) en Ruben Fritz (21), wat aangekla is van moord, verkragting, roof en dwarsboming van die gereg. Daar word beweer dat dié twee gedurende die nag van 28 tot 29 Maart 2013 'n 18-jarige meisie in die Shandumbala-gebied in Windhoek verkrag en vermoor het.

Kangootui het getuig sy het die Katutura-landdroshof met 'n kameraman besoek om verslag oor die moordsaak van 'n jong meisie te lewer.

Sy het die kameraman na 'n area naby die polisieselle geneem om 'n foto van die beskuldigdes te neem.

Kangootui het aan die hof vertel sy het tydens dié geleentheid 'n paar woorde met die beskuldigdes gewissel, en toe sy met Fritz gesimpatiseer het omdat sy ma gehospitaliseer was, het hy haar in sy vertroue geneem en gesê: “Ja, ons het haar doodgemaak.”

Kangootui het Fritz toe gevra wat gebeur het, waarop hy gesê het hulle het “van kroeg tot kroeg gekuier”.

Mnr. Mbanga Siyomunji, wat vir Narimab optree, het tydens kruisondervraging Kangootui se joernalistieke etiek in twyfel getrek.

Hy het aangevoer dat sy nie toestemming gehad het om met die be­skuldigdes te praat nie.

Kangootui het bevestig sy het die toestemming van polisielede wat teenwoordig was gehad.

Op Siyomunji se vraag of Fritz ingestem het om vrae te beantwoord, het sy gesê: “Ek het my werk gedoen. Ek het gevra en hy het geantwoord.”

Fritz en Narimab het onskuldig gepleit op die twee klagte van verkragting en op klagte van moord, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg.

Me. Hester Sisamu, Fritz se moeder, het verlede week onder kruisverhoor getuig Fritz het haar vertel hy het iemand vermoor.

Die staat beweer Fritz en Narimab het saam met die oorledene kroeë in die Shandumbala-gebied die aand van 28 Maart 2013 besoek.

Gedurende daardie nag en in die vroeë ure van die volgende oggend het Fritz en Narimab die meisie glo na 'n beboste area tussen Shandumbala en die Westelike Verbypad geneem waar hulle haar om die beurt verkrag het.

Volgens die staat het hulle haar daarna vermoor deur haar te verwurg en haar met 'n klip teen die kop te slaan. Sy het glo op die toneel aan ernstige kopbeserings beswyk.

Die staat beweer verder dat hulle die oorledene ook van haar selfoon en klere beroof het.

Die verhoor sal op Maandag 6 Maart voortgesit word.

Staatsadvokaat Ethel Ndlovu tree namens die staat op.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!