Beslaglegging van vliegtuie gevrees
Skuldeisers van die nasionale redery het skynbaar die ritteltits ná die staatshoof se likwidasiepraatjies verlede week.
Ronelle Rademeyer – Die regrukplan vir Air Namibia wat die minister van staatsondernemings (SOE’s), mnr. Leon Jooste, verlede week aan die kabinetskomitee op tesourie voorgelê het, stel nie die likwidasie van die nasionale redery voor nie.
’n Navraag hieroor is aan Jooste gerig nadat die redery eergister alle oorgrens-huurvlugte vir die vervoer van vrag of die repatriasie van mense met onmiddellike effek gestaak het.
Dit blyk die aankondiging volg op vrese dat skuldeisers op vliegtuie sal beslag lê nadat pres. Hage Geingob verlede week in sy staatsrede in die parlement gesê het “Air Namibia moet gelikwideer word; ons het ’n ernstige probleem met Air Namibia”.
Mnr. Werner Schuckmann, finansiële hoofbeampte by Air Namibia, het gister aan Republikein gesê dié uitlating het leweransiers en skuldeisers senuweeagtig gemaak.
Een van die redery se krediteure is Challenge Air in België aan wie Air Namibia nagenoeg N$400 miljoen skuld.
Dit spruit uit ’n geskil met Challenge Air 15 jaar gelede oor die verhuring en instandhouding van ’n Boeing 767-33 AER-vliegtuig.
Challenge Air het in 2008 ’n bevel in ’n Duitse hof gekry wat gelas het Air Namibia moet US$6,5 miljoen opdok vir onbetaalde onderhoud, huur en versekering van die vliegtuig. In ’n opvolgbevel in Julie 2011 is Air Namibia beveel om aan Challenge Air ’n verdere US$13 miljoen te betaal vir die rente op die agterstallige onderhoud, huur en versekering.
Republikein het in Desember berig die regering het laat verlede jaar waarborge gelewer vir N$578 miljoen sodat Air Namibia by handelsbanke geld kon leen om in Europa die wolf van die deur te hou en te keer dat Challenge Air op sy Airbus A330-200’s beslag lê. Die vliegtuie is tot voordat die internasionale reisverbod op 14 Maart ingestel is, op die Frankfurt-roete gebruik.
Volgens Schuckmann is die maandelikse betalings aan Challenge Air agterstallig.
Jooste het gister gesê die regrukplan is deur die kabinetskomitee op tesourie na die kabinetskomitee op oorhoofse beleid en prioriteite (CCOPP) verwys.
“Air Nam is deur die tesouriekomitee bespreek en sal van daar na CCOPP gaan aangesien eersgenoemde komitee slegs voorstelle kan maak en nie besluite mag neem nie.
“Die president se kommentaar was nie gegrond op die voorlegging aan die tesouriekomitee nie. Ons moet in gedagte hou dat die Air Namibia-probleme al ’n lang pad kom en al verskeie kere by die CCOPP gedraai het. Ek vermoed die president se kommentaar was geïnspireer deur die geskiedkundige gebeure,” het Jooste gesê.
VERLEDE JAAR
Die moontlikheid van likwidasie is in Junie verlede jaar geopper toe die voormalige minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, ’n ontledingsdokument oor die redery se voortslepende finansiële nood aan die kabinetskomitee op tesourie voorgelê het. Hierin is vier opsies vir die pad vorentoe en die koste daarvan uiteengesit.
Dit het behels om aan te gaan soos tevore en die belastingbetaler die volgende drie jaar ’n verdere N$3,5 miljard te kos, of om ’n valskermplan te ontplooi waarin die regering tussen N$2,5 miljard en N$3,3 miljard in Air Namibia pomp.
Plan nommer drie was ’n nuwe sakeplan en -strategie van N$4,1 miljard, en opsie vier was om Air Namibia te likwideer en ’n nuwe redery te begin wat net winsgewende plaaslike en streeksroetes bedien.
Schlettwein het gesê as die regering op laasgenoemde opsie besluit, sal die finansiële verliese tot sowat N$2,5 miljard beperk kan word.
Sy dokument het getoon die regering het in die 20 jaar tussen 1999 en 2019 ’n onvolhoubare N$8,3 miljard in die nasionale redery gepomp.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie