Beslissende tyd vir SA se koers
Meer as 30 munisipaliteite sukkel om salarisse te betaal – soos trouens ook Denel, Metrorail en die SAUK.
Leopold Scholtz
’n Mens wil sake nie onnodig dramatiseer nie, maar dis heel moontlik dat historici die tyd waarin ons tans leef, later as beslissend vir die koers van Suid-Afrika sal beoordeel. Dis ’n tyd waarin die regerende ANC in ’n burgeroorlog met homself is.
Die twee kante is onderskeidelik die konstitusionaliste onder leiding van pres. Cyril Ramaphosa, en die populiste van Ace Magashule, met Jacob Zuma en Julius Malema wat van die kant af na Ramaphosa se hakke hap.
Natuurlik is die skeidslyn nie absoluut en haarfyn nie. Adj.pres. David Mabuza was vroeër duidelik ’n aanhanger van die populiste; deesdae hang sy bene aan albei kante van die draad af terwyl hy naarstig probeer balanseer.
Daar is meer sulke voorbeelde.
Wat die saak kompliseer, is die rol van die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, wat haar grondwetlike posisie duidelik skaamteloos misbruik deur haar as wapen vir die populiste te laat inspan. Haar aanslag teen die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, laat geen ruimte vir ’n ander gevolgtrekking nie.
Wat op die spel is, blyk uit die jongste verslag van die ouditeur-generaal. Van die 278 munisipaliteite en munisipale entiteite in die land het slegs 18 ’n ongekwalifiseerde skoon oudit ontvang.
Bowendien is oor die naweek berig dat geld wat aan munisipaliteite geskuld word, van Maart 2015 tot Maart vanjaar met 55% (van R105 miljard tot R163 miljard) toegeneem het.
Meer as 30 munisipaliteite sukkel om salarisse te betaal – soos trouens ook Denel, Metrorail en die SAUK.
GETUIENIS OOR STAATSKAPING
Dit wys twee dinge. As jy dit koppel aan al die getuienis wat oor staatskaping na vore kom, wys dit die skrikwekkende omvang van korrupsie in die land. Dit gaan in die tweede plek saam met ’n ongelooflike agteruitgang in bekwaamheid.
Die afgelope Sondag het Rapport berig dat Eskom (doelbewus?) nagelaat het om in te gaan op die aanbod van 480 ervare en kundige oudwerknemers om die organisasie uit sy reguit pad na ondergang te help dwing. Onder hulle is 12 projekbestuurders, 101 ingenieurs, 98 ambagslui, 67 tegnici, 11 finansiële bestuurders en 7 kontrakteurs.
Eskom het nie eens gebodder om op die aanbod te antwoord nie; ’n woordvoerder het net geskuil agter die flou ekskuus dat die organisasie nooit so ’n lys name ontvang het nie.
Agter dié korrupsie en onbekwaamheid skuil één woord: kaderontplooiing, oftewel baantjies vir boeties.
Dis niks nuuts in die wêreld nie; ook nie in Suid-Afrika nie. ’n Mens hoor soms hoe Broeders vir poste aanbeveel is of hoe lede van dié of daardie kerkgenootskap juis nié aanbeveel is nie.
Maar hier gaan dit om iets wat ligjare dáárvan verwyder is. Destyds het 99% van diegene wat ’n pos gekry het, desnoods deur voortrekking, tog daarvoor gekwalifiseer.
MAGSTRYD IN ANC WEN
Nou is die kwalifikasies van 99% hul velkleur (die kwotastelsel word byna net so rigied soos die ou apartheidsbeleid toegepas), en of hulle die regte faksie van die regte party steun.
Dit beteken dat talle van die mense wat in hoë poste aangestel word, nóg die kwalifikasies nóg die ervaring nóg die kundigheid daarvoor het. Dis dié agteruitgang wat Ramaphosa, Gordhan en die konstitusionaliste moet omkeer.
Ek is nie een van die pessimiste wat sê dit sal nooit gebeur nie, maar dan moet Ramaphosa eers die magstryd in die ANC wen. Intussen moet ons nie stilsit nie. Daar is baie wat die burgerlike samelewing kan doen. Op die platteland is byvoorbeeld lofwaardige inisiatiewe vir beskerming aan die gang; iemand moet net die voortou neem.
Uiteindelik moet ons, soos Solidariteit al lankal doen, kreatief dink.
· ?Scholtz is ’n onafhanklike kommentator. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie