Beslissingsronde vir grondbelasting

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Die minister van grondhervorming is nie by magte om belasting van grondeienaars te eis nie.
“Artikels 76 tot 79 van die Wet op Kommersiële Landbougrondhervormings is teenstrydig met die Grondwet, wat sê net die parlement kan belasting hef.”
So het adv. Reinhard Tötemeyer gister tydens die verhoor van die gekonsolideerde saak oor grondbelasting betoog, waarvan die uitspraak tot 31 Oktober uitgestel is. Die saak is deur regters Shafimane Ueitele en Thomas Masuku aangehoor.
Tötemeyer, wat namens die aansoeker Constitution Watch optree en die Kambazembi Gasteplaas in die naam van grondeienaars verteenwoordig, het betoog dat die parlement nie belastingheffing as ’n uitvoerende mag kan delegeer nie. “Te veel mag word in verband hiermee aan die minister gegee.”
Hy het gesê dit word aan die minister oorgelaat hoe om plase se waarde, vir grondbelastingdoeleindes, te bepaal. “Geen voorskrifte hiervoor word in die regulasies uiteengesit nie. Die minister is gevolglik by magte om te besluit watter kriteria hiervoor gebruik word.”
Volgens die aansoeker is dit nie toelaatbaar dat die minister na goeddunke individue van grondbelasting mag kwytskeld nie en is dit die parlement se taak om gepaste wetgewing hieroor op te stel. “Dit kan nie aan iemand anders delegeer word nie, want dit is strydig met Artikel 10 van die Grondwet wat handel oor gelykheid en vryheid van diskriminasie.”


GAUNTLETT BETOOG
Volgens die staat, wat deur die bekende Suid-Afrikaanse adv. Jeremy Gauntlett (SC) verteenwoordig is, is dit toelaatbaar dat die minister regulasies instel. Hy het ook na ’n hooggeregshofuitspraak in 2012 verwys waarin bevind is dat mense begrip moet hê vir hoe die belastingstelsel werk en dat belastings, inherent, deur wetgewing of ’n ander bevoegde owerheid opgelê word.
“Geen parlement ter wêreld stel self die eiendomswaarde vas wat in ’n som gebruik moet word om eiendomsheffings of -belasting te betaal nie. Die Grondwet kan nie op so manier interpreteer word dat dit ’n onuitvoerbare verpligting op die parlement plaas nie,” het Gauntlett gesê.
Hy het aangevoer dat die minister se magte afhanklik van die bemagtigende wet is en dat die koers vir grondbelasting steeds deur die parlement goedgekeur word. Volgens Gauntlett is die omstandighede van voorheen benadeelde individue persoonlik en subjektief en is hulle nie noodwendig in die posisie om grondbelasting te betaal nie – wat kwytskelding nodig maak.
“Die kwytskelding kan nie deur middel van 'n voorafbepaalde, objektiewe en kategoriese wet uitgevoer word nie. Boonop word die mag om kwytskelding te gee deur wetgewing gemagtig,” het hy gesê.


ANDER AANSOEKE
Tötemeyer het verskeie van die regulasies van die grondhervormingswet bevraagteken. Ander sake wat gister aangehoor is, sluit in ‘n aansoek van 2015 waarin die aansoeker wil hê die grondwaardasie van die 2013-14 finansiële jaar moet hersien en tersyde gestel word. In nog ‘n aansoek uit 2016 is dieselfde oor 2015-16 se grondwaardasie gevra.
Die derde saak wat gekonsolideer word kom ook uit 2015, waarin die aansoeker beweer die 2014-15 grondwaardasies is teenstrydig met die wet. Hierin is versoek dat sekere wetswysigings in die hof nietig verklaar moet word en dat uitspraak op die meriete van ‘n saak gelewer word.


APPÈL?
Die saak is ’n uitvloeisel van ’n bevel wat op 27 Julie vanjaar deur die hoërhof gemaak is, wat opdrag gegee het dat die verhoor van verskeie hofsake tussen grondeienaars en die regering oor grondbelasting, saamgevoeg moet word.
Die saak word aangehoor terwyl waardasiehofsittings tot 19 September onverpoos in landdroshowe oral oor die land plaasvind. Die uitspraak kan moontlik die hele grondbelastingproses ter syde stel.
Maak nie saak wat die uitspraak gaan wees nie, 'n appèlsaak lyk na 'n uitgemaakte saak.
Gauntlett het die ministeries van landbou, water en bosbou, finansies, die advieskomitee oor grondhervorming, die kommissaris van binnelandse inkomste en die prokureur-generaal verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2025-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer