Beste prestasies van 2018 opgeweeg

Die afgelope sportjaar het opnuut sy kwota uitblinkers op kontinentale en internasionale vlak opgelewer.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Namibië se twee Statebondspele-kampioene is die groot gunste­linge om met die groot prysgeld en vernaamste trofees weg te stap wanneer die Namibiese Sporttoekennings vir 2018 môreaand gehou word.

Die aanbieding van die galadinee by The Dome op Swakopmund verteenwoordig die eerste keer in die geskiedenis dat die Namibiese Sportkommissie dié nasionale spoggeleentheid buite die hoofstad aanbied. Danksy die hoofborg MTC en ander medeborge wink goeie prysgeld vir die wenners in elk van die kategorieë.

Die bokser Jonas Junias en die marathonhardloper Helalia Johannes het in April vanjaar goue medaljes by die Statebondspele in die Australiese kusstad Gold Coast verower.

Die 24-jarige Junias se triomf in die ligweltergewigklas het hom 'n stappie verder geneem as toe hy vier jaar tevore in die finaal geklop is en met die silwermedalje by die vorige Spele in Glasgow tevrede moes wees.

Johannes het op 38-jarige leeftyd een van die beste prestasies van haar loopbaan gelewer, toe sy die Statebondspele se vrouemarathon in 2 ure 32 minute 40 sekondes met 'n gemaklike voorsprong van sowat 40 sekondes gewen het.

Vir die toppryse is die bergfietsryer Tristan de Lange en gholfspeler Likius Nande die ander twee finaliste vir Sportman van die jaar, terwyl die nasionale hokkiekaptein Magreth Mengo, wie se span vanjaar by die binnenshuise Wêreldbekertoernooi in Duitsland net-net die kwarteindronde misgeloop het (negende), en die waterskiër Natascha Röttcher se prestasies teen dié van Johannes opgeweeg sal word.

Johannes het haar bestendige vertoningslys in groot byeenkomste later herhaal toe sy in September die Sanlam Kaapstad-marathon in 'n nuwe rekordtyd gewen het.

Johannes was verlede jaar ook die land se sportvrou van die jaar, terwyl Julius Indongo die sportman-trofee beklink het. Nog 'n beroepsbokser, die superkapokgewig Paulus Ambunda, se onlangse verowering van die IBO wêreldtitel was egter ná die laaste datum vir die tydperk onder oorweging vir die Namibiese sporttoekennings gebeur en sy prestasie sal dus eers vir 2019 getel word.

Die naweek se finaliste in die ander hoofkategorieë is soos volg:

Junior sportman van die jaar: Adriaan Grobler (boogskiet), Alex Miller (bergfietsry), Lance Potgieter (gimnastiek).

Junior sportvrou van die jaar: Carané van Zyl (trampoliengimnastiek), Kiana Cormack (hokkie), Quinn Reddig (boogskiet).

Sportvrou van die jaar met 'n gestremdheid: Johanna Benson, Lahja Ishitile, Sylvia Shivolo (almal Paralimpiese atletiek).

Sportman van die jaar met 'n gestremdheid: Ananias Shikongo, Johannes Nambala (beide Paralimpiese atletiek).

Junior sportvrou van die jaar met 'n gestremdheid: Beatha Hausiku, Emilia Musenge (beide Paralimpiese atletiek).

Junior sportman van die jaar met 'n gestremdheid: Alfredo Bernado, Bradley Murere, Dian Jansen (almal Paralimpiese atletiek).

Afrigter van die jaar: Barbara Fernandez Veitia (Namibiese Paralimpiese Komitee), Robert Kaxuxuena (atletiek), Tobias Nashilongo (beroepsboks).

Ontwikkelingsprogram van die jaar: Galz & Goals (Namibië Sokkervereniging), Kids on Bikes (­Namibiese Fietsryfederasie), Namibië Rugby-­unie.

Sportspan van die jaar: Namibië senior rugbyspan; Namibië senior vrou binnenshuise hokkiespan; Namibië junior mans rolskaatshokkiespan.

Skeidsregter van die jaar: Patrick Esterhuizen (beroepsboks), Jamal Madiane (gimnastiek), Bethold Karumendu (atletiek).

Sportjoernalis van die jaar: Limba Mupetami (Namibian Sun), Sheefeni Nicodemus (The Namibian), Hesron Kapanga (Nampa).

Korporatiewe kaartjies vir die geleentheid beloop N$800, terwyl gewone kaartjies vir N$300 op webtickets.com.na te koop is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!