'Beste span ooit' na Wêreldbeker

Die huidige groep is ongetwy­feld sterker, fikser en het beter vaardighede as enige Namibiese span in die geskiedenis, sê 'n oudkaptein.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die Eagles manspan wat komende naweek na die Emirate vertrek vir die naderende T20 Wêreldbeker, het 'n gloeiende lofprysing ontvang van die land se enigste vorige kaptein van 'n Wêreldbeker-krieketspan.

Deon Kotzé, wat die 2003-groep na die eendagkrieket-Wêreldbeker in Suid-Afrika aangevoer het, het nie gehuiwer om die huidige spelersgroep as die beste kombinasie in die geskiedenis van Namibiese krieket te bestempel nie.

Kotzé, die afgelope jare ook 'n nasionale keurder, was aan die woord by Maandagaand se seremonie waar Krieket Namibië nasionale kleure aan drie spanne oorhandig het, naamlik die senior mans, die o.19-span (op pad na Rwanda vir die kontinentale kwalifiserende toernooi vir die o.19 Wêreldbeker) en die senior vrouespan wat Maandag van die T20 Wêreldbeker-uitdun­toernooi in Gaborone teruggekeer het.

In sy vergelyking tussen die spanne van sy era en die huidige groep, het Kotzé gesê die storie begin in 2001, toe die Namibiërs ná vele vorige teleurstellings die eerste keer deurgebreek het met kwalifisering vir die Wêreldbeker.

“By die toernooi in Kanada moes ons tien of elf wedstryde op 'n streep wen as ons die Wêreldbeker wou haal. Ons het dit reggekry en dit was 'n merkwaardige prestasie, maar mense is geneig om te vergeet dat ons in die werklike WB-toernooi eintlik selde kompeterend was (afgesien van die wedstryd teen Engeland).

“Australië het ons byvoorbeeld uitgeboul vir net 45 lopies, wat destyds 'n toernooirekord vir die grootste verskil in 'n uitslag (256 lopies) was.

“Selfs die wedstryd wat ons gereken het ons kan wen, was 'n teleurstellende nederlaag teen Nederland.

“Ek onthou hoe ons by die ontvangsgeleentheid in Kaapstad met groot oë rondgeloop en vir mekaar gewys het – kyk, daar loop Ricky Ponting, Glenn McGrath, Sachin Tendulkar ... al hierdie ikoniese spelers na wie ons opgesien het.

“Ons het gedink ons was voorbereid, maar in werklikheid was daar geen manier waarop ons reg kon wees vir wat voorlê nie. Die oorsaak was nie 'n gebrek aan inspanning nie, maar eerder 'n gebrek aan blootstelling aan topvlak krieket.

“Hier is ons vandag, 18 jaar later. Enigiemand wat die Eagles in die laaste twee jaar dopgehou het, weet hulle speel met 'n absolute vreeslose benadering ongeag die reputasie van die teenstand. Die spelers is in 'n professionele opset; hulle is sterker, fikser en beskik oor beter vaardighede as wat ons ooit gehad het.

“Hierdie span onder afrigterskap van Pierre de Bruyn is die beste wat Namibiese krieket ooit in die veld gestoot het – daaroor het ek geen twyfel nie. Julle tyd om opskuddings te veroorsaak, is nou.

“Krieket Namibië het ook nog nooit 'n byeenkoms soos vanaand gehad, waar hy twee spanne op internasionale toere uitstuur en nog een se terugkoms vereer nie. Die visie van die organisasie en die harde werk van die raadslede agter die skerms word nie genoeg geprys nie.

“Alle voorspoed ook aan die o.19-span met jul kwalifiserende toernooi in Rwanda.”

Pas ná die landing van hul terugvlug uit Gaborone het die Capricorn vroue-Eagles ook hul nasionale kleure ontvang. Die span is eers in die eindstryd deur Zimbabwe gestuit.



VERTREK DIE NAWEEK

Kaptein Gerhard Erasmus en sy span het in 2019 die geskiedkundige eerste kwalifisering vir die T20 Wêreldbeker behaal, wat vanweë Covid-19 uitgestel en vanaf Indië na Australië verskuif is voordat die Verenigde Arabiese Emirate en Oman uiteindelik as gesamentlike gasheerlande bevestig is.

Die Namibiërs vertrek komende Saterdag landuit en ná hul verpligte kwarantyn van ses dae word opwarmwedstryde teen die Emirate, Skotland (twee keer) en Papoea-Nieu-Guinee (twee keer) beplan.

Hul toernooi begin op 18, 20 en 22 Oktober teen onderskeidelik Sri Lanka, Ierland en Nederland. Net twee uit hierdie vier lande sal na die Supertwaalf-fase teen die groot kanonne bevorder word.

• David Wiese, die voormalige veelsydige Proteas-speler en mees opspraakwekkende insluiting in die Eagles se WB-span, was nie by die oorhandiging van nasionale kleure teenwoordig nie.

Wiese, die professionele rondreisende T20-spesialis wat onder meer in die IPL en mees onlangs in die Karibbiese premierliga en die Vitality Blast in Engeland gespeel het, sal na verneem word in Johannesburg by sy spanmaats aansluit. Hy kwalifiseer vir Namibië op grond van sy pa wat hier gebore is en word as 'n groot aanwins gereken, hoewel hy nog nie vir die Eagles gespeel het nie.

[email protected]

FOTO’s
Deon Kotzé se profielfoto voor die 2003 Wêreldbeker in Suid-Afrika. Foto Getty Images
Die Eagles-spelers ná die ontvangs van hul amptelike nasionale baadjies (in swart) asook blou baadjies vir sosiale geleenthede. Saam met hulle is raadslede van Krieket Namibië, asook van die reisende en nie-reisende ondersteuningspan – insluitend Michiel Greeff (krag en kondisionering), Janine Snyman (fisioterapeut), Karlien Gouws (dieetkundige), Iani de Kock (kliniese sielkundige) en Riaan Minnie (regs, tegniese ontleder). Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!