Beste van land se skolerugby op vertoon

Vanaf o.14 word die topskole van 2018 se talent nou in die semifinaal geweeg.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Vier spanne wat wemel van potensiële wedstrydwenners spook die naweek sake uit in die halfeindronde van die Momentum onder 19 Superliga.

Vanmiddag en môre se program van uitklopwedstryde in die Hage Geingob-stadion bring die room van die land se skolespanne vanaf onder 14 byeen. Die atmosfeer van reisende ondersteuners van oral in die land behoort dus opnuut elektries te wees.

Vanaand se eerste o.19 Superliga-botsing is tussen die titelhouer, die Windhoek Gimnasium Leeus, en die WHS Koedoebulle vir wie elke ontmoeting soos ’n eindstryd benader word.

Die ligbloues en die rooi-en-swartes was gedurende Juniemaand op agtereenvolgende naweke slaags. Die eerste was die vriendskaplike interhoër by Gimnasium, waar die tuisspan met 20-5 aan die wenkant was. Gimmies se vaskopstut, Ethan Thiart, kon nie misgekyk word met sy twee drieë van stormlope naby die doellyn nie, terwyl Wiks Conradie as losskakel die kitaar geslaan het.

Sewe dae later in die premierliga-kragmeting in die Vegkop-stadion het WHS met 27-13 die bordjies verhang. Twee van sy ervare spelskeppers agterlangs, losskakel Delron Brandt en vleuel Elmarco Beukes, het op die regte oomblikke gedikteer, terwyl die WHS-poging ook deur uitstekende verdediging gekenmerk was.

Nog ’n opwindende tweestryd is vanaand in die vooruitsig met dissipline en besluitneming onder druk, asook die beperking van ongedwonge foute wat bepalend kan wees.

• Môreaand se tweede semifinaal is ’n stryd tussen een van die hoofstad se ontluikende grotes en ’n hardnekkige kleintjie van die platteland.

Skrumskakel Danie van der Merwe lei ’n goed afgeronde Windhoek Affies-span wat boaan die puntelys klaargemaak het en net een keer (deur WHS, 26-20) geklop is.

Affies het in 2016 hul eerste Superliga-eindstryd gehaal en verloor, maar is vanjaar oorgehaal om ’n nuwe hoofstuk te skryf, met ’n spelersgroep van wie verskeie die talent het om ook ná skool uit te skiet.

Hierteenoor was die debutant Privaatskool Moria vanjaar bo verwagting kompeterend in elke wedstryd en het uiteindelik vyfde uit die nege spanne geëindig.

Laas naweek het die Bere egter in Windhoek die uitklopwedstryd teen die begeesterde, vierde geplaasde Rubicon Tsumeb Gimnasium naelskraap (35-31) gewen. Dit was straks ’n sielkundige deurbraak, nadat al hul vorige oorwinnings vanjaar op hul tuisveld Outjo behaal is.

Die twee opponerende afrigters, Johan Zaayman van Affies en Lukas Holtzhausen van Moria, het in hul speeldae beide die 1999 Wêreldbekerspan gehaal.

Volgens Holtzhausen was dit ’n aanpassing vir sy jong span om in die hoogste liga onder soveel druk geplaas te word en by die nuwe kultuur van vier oefendae per week, pleks van net twee, aan te pas.

In die twee semifinaliste se liga-ontmoeting vroeër vanjaar het Affies ’n tuissege met 34-14 beklink.

Moria se losskakel, kaptein en skopper DJ Holtzhausen hou die sleutel tot die vreeslose, ondernemende rugby wat die noordespan vanjaar opgedis het.

Die spanne:

Schoemans-groep Windhoek Gimnasium I: 15 Wiks Tromp, 14 Lyle Beukes, 13 Kieron Diergaardt, 12 Léan Rossouw, 11 Mell Theunissen, 10 Cornez Liebenberg, 9 Archie Norval, 8 Monré Meyer (kapt), 7 Lean Mostert, 6 Christopher de Jager, 5 André van der Merwe, 4 Michael Thuynsma, 3 Ethan Thiart, 2 Louw Steenkamp, 1 Riyaruka Maurihungirire.

Reserwes: 16 Zane Feris, 17 Shaun van Wyk, 18 Marco Lombard, 19 Jaun-Louis Zaayman, 20 Ethan Gaya-Rittman, 21 Jahno du Plessis, 22 Samuel Poulton, 23 Lianzo Cupido. Afrigter: Jaco Engels.

Samsung Windhoek Hoërskool I: 15 AJ Zaahl, 14 Johanco le Roux, 13 Warren Ludwig, 12 Justin Muir (kapt), 11 Elmarco Beukes, 10 Delron Brandt, 9 Jacques Theron, 8 Dano Kotze, 7 Kyle Ducie, 6 Donaven Resandt, 5 Roy Grobbelaar, 4 Erik Straus, 3 Daniel Opperman, 2 JC Rossouw, 1 Adriaan Esterhuizen.

Reserwes: 16 Riekus van Staden, 17 Edmando Coetzee, 18 Marco Meuwesen, 19 Romario Janga, 20 Shaun van Wyk, 21 Louis van der Berg, 22 Geraldo Beukes, 23 Jiaan Beukes. Afrigter: Henry Kemp.

OK Foods Moria Privaatskool I: 15 Nico Krone, 14 Louis Burger, 13 Niel Holtzhausen, 12 Pieter-Daan Mostert, 11 Jako Oosthuizen, 10 DJ Holtzhausen (kapt), 9 Jan Willem van Zyl, 8 Ivan van Wyk, 7 Raiden Germishuys, 6 Lourens du Plessis, 5 Charlton Somseb, 4 Morné Malan, 3 Jaco Labuschagne, 2 Johann Janse van Rensburg, 1 Shaun Kavaa.

Reserwes: 16 Janes van Zyl, 17 Frederick Mostert, 18 Tuapeua Angula, 19 Oscha Katjaimo, 20 David Prinsloo, 21 Viuua Kuhanga, 22 Jarred Smith, 23 Christiaan de Sousa. Afrigter: Lukas Holtzhausen.

KMC/JCC Windhoek Affies I: 15 Keanu Engelbrecht, 14 Christo Liebenberg, 13 Zinzan Steenkamp, 12 Christiaan Celliers, 11 Louis Karsten, 10 Johan Zaayman, 9 Danie van der Merwe (kapt), 8 Bernhardt Wessels, 7 Hoffmeyer van Blerk, 6 Kobus Wilders, 5 Marius Wessels, 4 De Wet Oosthuizen, 3 Jurgen-Leigh Human, 2 Ruan Strydom, 1 Ernst Lowe.

Reserwes: 16 Lucas Maree, 17 Joshua Mienie, 18 Milne Becker, 19 Pieter du Preez, 20 Ruben du Preez, 21 Arthur Lewies, 22 Leon Maree, 23 Herman Steyn. Afrigter: Johan Zaayman.

SKANDAAL

Die Hoër Tegniese Skool (HTS Windhoek) se onder 15-span het laas naweek sy o.15B-liga kwarteindstryd teen Grootfontein Agri Kollege met 27-0 gewen.

Beamptes van die Namibiese Hoërskolerugbyvereniging (Nassra) het egter agterna klagtes ontvang dat van die HTS-spelers in werklikheid ouer as dié ouderdomsgroep is.

Volgens een bron was tot soveel as ses spelers betrokke en is selfs sover gegaan om die HTS-span se spelerskaarte te vervals.

’n Bevinding is gemaak en die HTS-span is gevolglik gediskwalifiseer, met Agri Kollege wat Woensdag ingelig is dat hy hom vir nog ’n reis na Windhoek kan klaarmaak om sy semifinaal teen Moria te kom speel.

Die vereniging se voorsitter, mnr. Abie van Wyk, het gister bloot gesê daar was ongerymdhede en dat hy nie te veel inligting bekend wil maak wat die ondersoek kan belemmer nie.

• Wedstrydprogram op bl. 19.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!