Bestuiwers kritiek belangrik vir voedselsekuriteit
Bestuiwers kritiek belangrik vir voedselsekuriteit

Bestuiwers kritiek belangrik vir voedselsekuriteit

Skep vriendelike omgewing vir bye
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher – Na aanleiding van Internasionale Byedag wat gister gevier is, word hierdie week spesifiek aandag gegee aan bestuiwers en die rol wat die nederige heuningby speel.

Die hulde wat gebring word aan dié klein insek en ander bestuiwers, is nou noodsaakliker as ooit. Hulde is gepas, maar die eintlike doel is om die wêreld bewus te maak van die onontbeerlike rol wat bye en ander bestuiwers in terme van voedselsekuriteit speel.

Ongelukkig is daar toenemende bedreigings wat nie net bestuiwing kniehalter nie, maar bestuiwers op groot skaal uitwis.

Ongeveer 75% van alle plantproduksie is op die een of ander manier afhanklik van bestuiwing. Daar is egter rede tot kommer oor die afname in bestuiwers, veral bye en skoenlappers, met wetenskaplike bewys van die nadelige impak daarvan om honger te bestry.

In die lig hiervan het die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) begin met ‘n uitgebreide veldtog om mense bewus te maak van die rol van bestuiwers, met klem op wat kan gebeur as daar nie genoeg bestuiwing plaasvind nie.

Dit is ‘n baie negatiewe vooruitsig, want die vernietiging van hierdie uiters belangrike skakel in die voedselketting is 100 tot 1 000 keer méér as normaalweg, hoofsaaklik as gevolg van die mens.

Die toenemende gebruik van insekdoders, onkruidbeheer en besoedeling het geen genade vir bestuiwers nie en die situasie het in baie lande kritieke afmetings aangeneem.

Bestuiwing is die grootste bydraer tot landbou-oeste wêreldwyd en dra meer daartoe by as enige bestuursinsette. Na raming het bestuiwers soos bye ‘n impak op 35% van landbougrond globaal en ondersteun tot 87 van die belangrikste grane.

Die bydrae in volume van bestuiwers het na raming die afgelope 50 jaar met meer as 300% toegeneem. Plante afhanklik van bestuiwing vir produksie is tot vyf maal meer waardevol as dié wat sonder bestuiwing kan produseer, aldus die FAO.

Drie uit elke vier oeste van die sade, vrugte, groente en grane waarvan die mens afhanklik is, is ten minste ten dele afhanklik van bestuiwing.

Dié plante het ‘n bewese positiewe invloed op die gesondheid van kos en dra so by tot voedselsekuriteit.

Daarbenewens dra bestuiwers ook tot beter omgewings by, maar dié vermoë word bedreig. Meer bestuiwers per grondgebied is die antwoord.

Die mens hoef egter nie net te wag op wetenskaplike insette nie. Om op klein skaal op jou eie erf te begin, kan baie help.

Met Internasionale Byedag val die klem hoofsaaklik op bye en wat die mens kan doen ten opsigte van verbeterde werksomstandighede vir heuningbye. Ses eenvoudige wenke kan die wêreld vir bye ‘n baie beter plek maak.

Die keuse het op 20 Mei geval om hierdie dag te vier, want dit is die geboortedag van Anton Jansa, een van die pioniers van moderne landbou. Dié Sloween stam uit ‘n familie van byeboere in ‘n land bekend vir byeboerdery.

Die Republiek van Slowenië het met die steun van die Internasionale Vereniging van Byeboere die dag ingestel en word daarin ondersteun deur die FAO.

Gegewe die afhanklikheid van ‘n diverse groep plante, kan die plant daarvan in tuine van woonhuise bestuiwers lok en kos gee. Dit geld veral plante wat aangepas is in die omgewing.

Van die meer as 20 000 soort bye vervaardig net 7 spesies heuning. Heuning se kwaliteite is al van die vroegste tye raakgesien, soos deur die antieke Egiptenare wat die helende waarde daarvan besef het.

Moderne huishoudings sal ook getuig van die waarde van heuning. Verwerkte heuningprodukte soos byewas lewer ook ‘n belangrike inkomste in veral landelike gebiede. Deur byvoorbeeld rou heuning direk van klein boere aan te koop, kan dit die lewenstandaard van dié voorsieners baie help. Bye is harde werkers. Een by besoek tot 7 000 blomme per dag en dit kan tot 4 miljoen besoeke aan blomme verg om 1 kilogram heuning te produseer. Maak dit maklik vir dié harde werkers deur byvoorbeeld maklik bereikbare drinkwater in jou tuin te voorsien. Daar is ‘n smaakverskil tussen behoorlik bestuifde vrugte en waar dit nie die geval is nie. Werk dus oordeelkundig met insekdoders en ander plaagbeheermaatreëls om nie die wêreld vir bye onnodig moeilik te maak nie.

Almal van ons kan seker maak dat voedsel wat van bestuiwing afhanklik is, volhoubaar geproduseer word deur vir bestuiwers en veral bye te sorg. Maak dus seker dat die omgewing waarin ons werk, meer by-vriendelik is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!