Beter marktoegang vir kommunale boere beplan
Beter marktoegang vir kommunale boere beplan

Beter marktoegang vir kommunale boere beplan

Die ministerie het vandeesweek mediumtermynplanne voorgelê om veeboere in kommunale gebiede van toegang tot internasionale markte te verseker.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Boere in die noordelike kommunale gebiede (NCA’s) se toegang tot markte moet verbeter.

Dít deur die inwerkingstelling van abattoirs, die bekamping van siektes deur inenting, deur afdelings in die gebiede te skep en deur voerkrale te bou.

Die minister van landbou, water en bosbou, mnr. Alpheus !Naruseb, het Woensdag tydens ‘n dringende nuuskonferensie in Windhoek gesê hy wil groter duidelikheid bied rondom kwessies soos onder meer toegang tot lewendehawemarkte en die mediumtermyn-strategieë wat meer kommunale boere toegang hiertoe sal bied.

“Die verskuiwing van die veterinêre kordonheining vereis helder denke en ‘n weldeurdagte strategiese benadering. Die langtermynstrategie is om die kordonheining geleidelik verder noord na die grens tussen Namibië en Angola te verskuif,” het !Naruseb gesê.

Intussen sal die ministerie abattoirs en vleisverwerkingseenhede in die NCA’s bou en opgradeer sodat ontbeende vleis van die gebiede se uitvoergeriewe af by markte suid van die kordonheining, asook by streek- en nasionale markte kan uitkom.

!Naruseb het na geriewe by Opuwo, Outapi, Oshakati, Eenhana, Rundu, Katima Mulilo, Ongwediva en Bukalo verwys.

“Die ministerie sal ook voerkrale op uitgesoekte plekke in die NCA’s vestig, waar vee hoë gehalte voer deur middel van Groenskema-projekte kan ontvang. Die doel is om die vee se toestand te verbeter sodat kommunale boere beter pryse betaal kan word,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg sekere dele langs die kordonheining sal afgekamp word sodat siektevrye gebiede geskep kan word en soadt dié vee en veeprodukte ook aan internasionale markte gelewer kan word.

Gebiede wat hiervoor geoormerk is, sluit in Karikubis in die Okavango-Oosstreek, die Mangetti-Oos-plase in die Kavango-Wesstreek, die Mangetti-Wes- en Onalusheshete-plase in die Oshikotostreek, die Ombuga-gebied in die Oshanastreek, die Omutambo Maowe-gebied in die Omusatistreek, asook die Sesfontein-gebied in die Kunenestreek.

Die ministerie sal voortgaan met sy inentingsveldtogte in die NCA’s om beide bek-en-klouseer, asook longsiekte te beheer.

Die hoop is dat die veldtog kan help om dié siektes in kommunale gebiede uit te wis.

“Die inentingsveldtog teen veral bek-en-klouseer sal in geraakte gebiede, soos die Zambezistreek, asook die Mukwe- en Ndiyona-kiesafdelings in die Kavango-Oosstreek, verskerp word.

“Die hoop is dat uitbrekings dan minder gereeld hier sal voorkom,” het !Naruseb gesê.

Hy het gesê die gebiede ly dikwels onder bek-en-klouseer-uitbrekings as gevolg van die teenwoordigheid van vrylopende buffels, wat draers van dié virus is.

Hy het bygevoeg die inentingsveldtog word deur die verbeterde monitering van diere se bewegings bevorder.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!