Beter vleisopbrengs en hou00ebr uitslagpersentasie gee groter wins
Beter vleisopbrengs en hou00ebr uitslagpersentasie gee groter wins

Beter vleisopbrengs en hoër uitslagpersentasie gee groter wins

Ronelle Rademeyer
Karkaseienskappe
Daar is sekere karkaseienskappe wat alreeds op lewende diere gemeet kan word. Hierdie metings word dan gebruik om vleisopbrengs, uitslagpersentasies en BLUP-teelwaardes vir die twee eienskappe te bepaal. Die spesifieke dier wat gemeet is, se vleisopbrengs en uitslagpersentasie is belangrik vir ons – maar baie belangriker is die vermoë wat die dier beskik om die eienskappe na sy nageslag oor te dra. Jy wil ‘n dier gebruik wat nageslag teel wat baie goeie vleisopbrengs en uitslagpersentasie het. Dit is waar jou verhoogde inkomste vandaan kom – veral as jou teelbul dié twee eienskappe in die kudde vaslê.


Ultrasoniese skanderings
Op Hartebeestloop word ultrasoniese skanderings reeds vir ‘n dekade lank gedoen. Die syfers is betroubaar en dit word gebruik om diere met beter vleisopbrengs en uitslagpersentasie te selekteer.


Oogspieroppvervlakte
Die meting van oogspieroppervlakte gee ‘n goeie aanduiding van die bespiering van die dier. Bespiering bepaal die hoeveelheid rooivleis aan die karkas. Hoe beter die bespiering, hoe meer die rooivleis en hoe beter die vleisopbrengs.
Onthou, alle diere het dieselfde hoeveelheid spiere - party diere se spiere is net “groter” en beter ontwikkel. Hierdie “groei in spierweefsel” of anders gestel, die groter word van die spierweefsel, is hoogs gekorreleerd met die naspeense gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) van die dier.
In hierdie stadium van die dier se ontwikkeling, is die skeletale raamwerk amper klaar gegroei en is dit omtrent uitsluitlik spierontwikkeling wat plaasvind. Vleisopbrengs en gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) is gekorreleerd, want beide die eienskappe is afhanklik van bespiering.
Dit help dus nie om nét vir bespiering of nét vir GDT te selekteer nie – jy moet binne perke vir beide die eienskappe selekteer.


Uitslagpersentasie
Dit alles bring ons by uitslagpersentasie – en ek wil aan julle wys hoe dié eienskap wins kan verhoog!
Hartebeestloop Bonsmara-osse slag gemiddeld 58% uit. Hierdie syfer is verkry deur die gemiddelde uitslagpersentasie van die laaste 100 Hartebeestloop-diere geslag by Meatco (Meat Cooperation of Namibia).
Tabelle 1 & 2 wys die 100 osse se vetgradering en bouvorm klassifikasie aan.
Tabel 3 wys die opbrengs per dier aan vir verskillende uitslagpersentasies. Die heersende pryse behaal by Meatco gedurende Februarie 2015 is gebruik in die onderstaande berekeninge.
Die pryse gebruik in Tabel 3 is in presiese verhouding met die vetklassifikasie van die 100 Hartebeestloop-osse en die totale aantal verslagtings by Meatco gedurende 2015.
Hier word dus appels met appels vergelyk en geen aannames word gemaak nie. Die gemiddelde uitslagpersentasie van alle diere geslag by Meatco gedurende 2015 is 56%. Die werklike uitslagpersentasie van veldbeeste by Meatco is nader aan 54%.
Die groot hoeveelheid A-grade geslag vanaf die voerkraal dra by tot die groter uitslagpersentasie van 56%.
Tabel 3 wys die opbrengs per dier aan op uitslagpersentasies van onderskeidelik 58%, 56%, 54% en 52%.


Wye variasie
Daar is wye variasie in uitslagpersentasies wat behaal word. Daarom is Hartebeestloop se uitslagpersentasie van 58%, Meatco gemiddelde uitslagpersentasie van 56% gedurende 2015, 54% en 52% gebruik in Tabel 3.
Daar is N$318 per dier verskil in die opbrengs tussen uitslagpersentasies van 58% en 56%. Dit is N$31 800 oor 100 diere.
Die verskil in opbrengs tussen uitslagpersentasies van 58% en 54% en 58% en 52% is N$637 en N$955 onderskeidelik. Dit is onderskeidelik N$63 700 en N$95 500 oor 100 diere.
Hierdie verskille het ‘n wesenlike invloed op die winsgewindheid van jou boerdery. Boere moet veral mooi kyk na die verskil tussen 58% en 54% (meer korrekte waarde vir veldbeeste).
Dit lyk asof 58% ‘n baie goeie uitslagpersentasie is om te handhaaf vir mediumraam Bonsmara-diere. Die susters van hierdie osse bly agter in die kudde en is die boer se vervangingsverse en toekomstige koeikudde.
Hulle moet nog steeds onder ekstensiewe toestande goed wees om mee te boer. Dit beteken die koeie moet vrugbaar wees, hoogs produktief wees, jaarliks kalf en genoeg melk hê om ‘n ordentlike speenkalf te produseer.


Hoekom is ons versigtig om die uitslagpersentasie verder te verhoog?
1.Bespiering is negatief gekorreleerd met melk. Hoe meer spiere ons op die vroulike diere pak, hoe minder melk sal hulle produseer en die kalwers sal ligter speen.
2.Bespiering is negatief gekorreleerd met vrugbaarheid. Koeie wat te veel bespierd is, kalf oor die algemeen nie elke jaar nie.
3.Seleksie vir voortdurende verhoging in uitslagpersentasie bring negatiewe gevolge soos kleiner organe, afname in die inname van lae kwaliteit voer, swakker loopvermoë en verminderde aanpasbaarheid. Dit is almal negatiewe eienskappe wat ons nie in enige vleisbees benodig nie.


Oorweeg die regte bulle
Kommersiële boere en telers moet bulle oorweeg wat beter vleisopbrengs en hoër uitslagpersentasies in die kudde vestig – so sal jy inkomste verhoog.
Hartebeestloop Bonsmaras selekteer al meer as ‘n dekade lank vir goeie bespiering, hoë gemiddelde daaglikse gewigstoenames, uitstekende naspeense groeivermoë, beter vleisopbrengs en hoër uitslagpersentasies.
Alles word binne perke gedoen sonder om in te meng met die optimale prestasie van diere onder ekstensiewe toestande.
Boere sal opmerk dat die uitslagpersentasie gebaseer op die lewende massa op die plaas 53% is. Dit is belangrik in die besluit of jy die diere op die plaas wil verkoop of laat verslag by 'n abattoir en ook die prys wat jy op die plaas moet kry om gelyk te breek met byvoorbeeld Meatco se pryse.


Gebruik genetika om goeie vleisopbrengs te verseker
Die heel belangrikste is egter om die eienskappe van goeie vleisopbrengs en goeie uitslagpersentasie in jou kudde geneties vas te teel deur bulle te gebruik waar die eienskappe alreeds geneties vasgelê is.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer