Beter wolktegnologie nou binne bereik
Beter wolktegnologie nou binne bereik

Beter wolktegnologie nou binne bereik

'n Plaaslike telekommunikasieverskaffer neem die voortou met oplossings vir 'n ieder en elk.
Augetto Graig
Augetto Graig



Paratus het verlede week Donderdag hul verbeterde wolkdienste (“cloud services”) aan die Namibiese mark bekend gestel.

Hul aanbod vir bykomende buigsame oplossings verskaf aan veral die besigheidsgemeenskap die geleentheid om al die voordele van wolkdienste te geniet, sonder die hoë koste vir toerusting en mannekrag wat daarmee gepaard gaan.

Mnr. Cobus Burger, Paratus se inligtingstegnologie(IT)-bestuurder, het verduidelik dat “wolk” nie 'n tegniese term is nie, maar dit verteenwoordig eerder die idee van intekendienste wat deur iemand anders verskaf word.

Dít sluit alles in van e-pos tot die afstandsberging van data.

Mnr. John D'Alton, besturende direkteur van Paratus in Namibië, sê almal met 'n slimfoon gebruik waarskynlik reeds een of ander wolkdiens soos Google Drive, iCloud of Dropbox.

Selfs WhatsApp maak staat op toegang tot 'n wolk.

“Beter verbinding is die fundamentele dryfkrag vir wolkdienste,” sê hy.

Volgens Burger sou tradisionele besighede inligtingstegnologie-afdelings moes stig en hul eie bedienerrekenaars en bekwame personeel moes aanstel om hul data te stoor en te kan gebruik.

Toerusting soos rekenaars, rampherstelstelsels, die bewaring van e-pos en 'n “firewall” teen internetgebaseerde gevare hou groot onkoste vir ondernemings in.

IT-infrastruktuur moet ook bestuur en onderhou word.

“Ons maak voorsiening vir dinge nog voor dit jou bereik,” sê Burger.

Sy vertroue in die maatskappy spruit uit Paratus se eie hoëspoednetwerk en die maatskappy se verskaffing van verbindingsdienste.

Paratus bou sedert 2005 reeds aan sy kliëntebasis deur middel van ver­skeie IT-verbindingsmetodes en kan nou deur middel van vesel, mikrogolf, WiMAX en 4G LTE mobiele data die beste toegang tot wolkdiens verseker.

Omdat elke IT-oplossing uniek is, moet Paratus aanpasbaar wees en daarom tel die besit van hul eie netwerk in hul guns, sê Burger.

Wolkdienste kan volgens ­behoefte aangepas word. Kliënte wat hul data bloot veilig wil stoor, betaal slegs N$500 'n maand daarvoor, terwyl groter ondernemings tot N$100 000 'n maand kan bestee aan toegang tot meer dienste.

“Ons tref nie onderskeid tussen groot of klein kliënte nie,” sê D'Alton.

Hy sê Paratus het die afgelope finansiële jaar sowat N$100 miljoen in infrastruktuur, verbinding en ontwikkeling belê, en beplan om die volgende finansiële jaar nog N$150 miljoen daaraan te bestee.

Die maatskappygroep, wat ook in Botswana, Angola, Mosambiek, Zambië en Suid-Afrika gevestig is, beplan om US$110 miljoen (N$ 1,45 miljard) op al ses lande te bestee, sê D'Alton.

Volgens Burger is 'n groot deel van die maatskappy se belegging sy werknemers.

“Dit is moeilik om bekwame mense te kry. Ons het groot belê in die groep werknemers wat ons het. Ons het ­ingenieurs wat innoverend kan dink,” sê hy.

Paratus het 157 werknemers wat by hul hoofkantoor in Prosperita in Windhoek gebaseer is, en in totaal net onder 200 werknemers in Namibië.

Saam met werknemers op die res van die vasteland, kom hul personeel op 450 mense te staan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!