Betogers maak luidkeels stem dik
Betogers maak luidkeels stem dik

Betogers maak luidkeels stem dik

Lede van ontevrede politieke, burgerlike en tradisionele organisasies het gister teen die grondkonferensie getoi-toi.
Denver Kisting
Denver Kisting - Mnr. Bernadus Swartbooi, leier van die Landless People's Movement (LPM), sê hulle sal nóóit verslaan word nie.

Hy het dié opmerking gisteroggend buite die Safari Hotel in Auasweg gemaak toe hy in 'n wit Mercedes Benz verby die betogers gery het.

Swartbooi het sy regtervuis gebal en deurgaans onder applous van die betogers op die Duitse spogmotor se toeter gedruk.

'n Groep ontevrede mense het gister omstreeks 06:30 te voet onder swaar polisiebegeleiding van Auss­pann­platz af na die hotel opgeruk.

Hulle het verskeie slagspreuke ­gedreunsing.

Die groep het hulle agter 'n versperring oorkant Auasweg tuisgemaak, terwyl van hulle geskreeu het daar moet weggedoen word met “Utoni se slypskool” en die “OPO se grondfees”.

Mnr. Utoni Nujoma is die huidige minister van grondhervorming.

Swartbooi was tot aan die begin van verlede jaar sy adjunk voor pres. Hage Geingob hom in die pad gesteek het.

Die OPO is Swapo se voorganger, die Owambo People's Movement.

Die betogende skare was gister ­plek-plek oproerig. Hulle het ook gevra dat Nujoma uit sy pos onthef moet word.

Kort op die hakke van nege organisasies wat verlede week aan die grondberaad onttrek het, het drie opposisiepartye ook hul stemme by dié ongelukkiges s'n gevoeg.

Die Rally for Democracy and Progress (RDP), die United People's Movement (UPM) en die All ­People's­ Party (APP) het ook die afgelope naweek gesê hulle neem nie meer deel aan die tweede nasionale grondkonferensie nie.

Intussen het die UPM ook gister 'n brief gerig aan die plaaslike verteenwoordiger van die Verenigde Nasies (VN).

Die UPM se visepresident, mnr. Jan van Wyk, sê dié party maak kapsie daarteen dat 'n VN-lidland – Namibië – aanhou om teen inheemse stamme te diskrimineer.

Volgens Van Wyk tel die Basters van Rehoboth onder die mense wat deurgaans deur die Namibiese regering uitgesluit word.

Hy sal sy plig as LP versaak deur nie die aandag van die VN op dié diskriminasie te vestig nie, sê Van Wyk in 'n brief.

Van Wyk en Nujoma was verlede week ook in 'n woordewisseling in die Nasionale Vergadering (NV) betrokke oor dié beweerde uitsluiting.

Die UPM-leier sê Namibië het sy onafhanklikheid in 1990 gekry te danke aan die hulp van die VN.

Van Wyk sê voorts die Swapo-­regering het tydens die afgelope 28 jaar nie daarin geslaag om die grondkwessie op te los nie.

Verlede Donderdag het die president van die PDM, mnr. McHenry Venaani, op 'n nuuskonferensie in die hoofstad eers sy party se beleidsdokument oor grond bekend gemaak waarná hy gesê het hulle onttrek ook.

Venaani het reeds vroeër verlede week uitgevaar teen die regerende party, omdat Swapo volgens hom reeds vooraf besluit het hoe die beraad behoort te verloop.

Hy was veral ontsteld daaroor dat sy spreekbeurt ál korter geraak het in die weke voor die beraad.

Venaani was ook van mening dat afstammelinge van die volksmoord van die Herero's en Namas hul sê op die beraad moet sê.

Pres. Hage Geingob het Sondag met sy aankoms in Windhoek van die VN se algemene vergadering in New York gesê die uitnodiging aan belanghebbendes om die beraad by te woon, staan steeds.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!