Betogings olie op kiesvuur

'n Politieke ontleder en regs­kenner sê 'n fel stryd staar Swapo in die gesig in aanloop tot November se verkiesings.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die grondwetkenner en politieke ontleder prof. Nico Horn het gister by navraag gesê die regerende party moet hom regmaak vir 'n moeilike stryd in aanloop tot die streekraad- en plaaslike owerheidsverkiesings.

Hy sê: “Dis die swakste tyd vir 'n ­regering om aan 'n verkiesing deel te neem.”

Horn skoei dié mening daarop dat die regering in die spervuur bly vir sy hantering van die Covid-19-­pandemie en die gepaardgaande inperkingsmaatreëls.

In reaksie op die afgelope dae se ­onwettige landswye betogings sê Horn daar is strawwe mededinging vir die stem van jongelinge.

“Die kompetisie vir die jeugstem is baie kwaai op die oomblik – veral omdat ons drie nuwe partye het.”

Twee van dié drie partye, Affirmative Repositioning (AR) en Landless People's Movement (LPM), word ook deur relatiewe jong mense gelei, sê hy, verwysend na onderskeidelik dr. Job Amupanda en mnr. Bernadus Swartbooi.

Die derde nuwe politieke akteur is die Independent Patriots for Change (IPC) onder die leierskap van hul hoofpatriot, dr. Panduleni Itula.

Die drietal is “al drie sterk leiers en baie seker oor hul eie gewildheid”, meen Horn.

Oor die LPM sê Horn hoewel dié nuwelingparty slegs oor vier parlementêre setels beskik, kom dit dikwels voor asof hulle die meerderheidsparty in die Nasionale Vergadering (NV) is, sê Horn.

Die LPM, sê Horn, het “'n baie kort geskiedenis” teenoor die AR wat “stil was met verlede jaar se (presidensiële en NV-)verkiesings en nou daarvoor moet vergoed. Daar's 'n goeie rede hoekom dié partye nou so betrokke by die andersdenkendes en gegriefdes is”.

Amupanda het die afgelope Sater­dag­aand gehelp om meer as 20 ­betogers, onder wie joernaliste, vrygelaat te kry.

Hy het in die sosiale media gespog AR het vir die ­aangehoudenes regsverteenwoordiging gereël.

Horn sê hoewel die ­regering nie kan pa staan vir ál die ekonomiese ellende nie, sal hy altyd die skuld kry omdat mense iemand wil verkwalik.

“Die grendeltydperk en die verlies aan werk en inkomste en armoede het die land baie sleg geraak.”

'n Ander speek in Swapo se wiel is dat die regerende party – en die Swapo-geleide regering – geen maat­skaplike agenda dryf nie, sê Horn.

“Die geld is net nie in die regering se koffers om dit te doen nie, hoewel hulle hulself as 'n sosiaal-demokratiese party sien.”

Ondanks dié druk, meen hy hoewel die regerende party wel setels sal kwyt wees, sal hulle steeds baie steun behou. “Ek is nie seker of die woede vir Swapo só groot is dat hy baie kiesafdelings sal verloor nie.”

Stemgeregtigde Namibiërs neem op 25 November aan dié verkiesings deel.



'POLISIEGEWELD' VEROORDEEL

ACTION Coalition het Sondag die beweerde gewelddadigheid aan die hand van die Namibiese polisie veroordeel.

Die liggaam se voorsitter, mnr. Frede­rico Links, sê: “Dit is duidelik uit die beeldmateriaal van die ­betogings dat die polisie verkeerd opgetree het en hulle aan menseregtevergrype skuldig gemaak het – ironies genoeg meestal teen vroue wat teen geslagsgegronde geweld betoog het.

Links sê die gedrag van die wets­toepassers was onaanvaarbaar.

Hy doen 'n beroep op onder meer pres. Hage Geingob om die ­beweerde gewelddadigheid te veroordeel.

Intussen het lt.genl. Sebastian ­Ndeitunga, die nasionale polisiebaas, gistermiddag gesê betogers moet die oppergesag van die gereg gehoorsaam ondanks hul griewe.

Hy het gemaan wetteloosheid sal nie geduld word nie.

Die eerste minister, me. Saara ­Kuugongelwa-Amadhila, het Saterdagaand gesê die vlaag van geslagsgegronde geweld en die betogings is op die agenda vir vandag se kabinetsitting.

Horn sê wat Namibiërs tans sien, is “die resultaat van ons patriargale ­samelewing”.

Volgens hom speel die land se ­gewelddadige geskiedenis 'n rol in die hedendaagse geweld. “Ons hoop maar vir 'n beter toekoms vir ons kinders en kleinkinders.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer