Beurtkrag: Du00edt is hoe ver dit strek
Beurtkrag: Du00edt is hoe ver dit strek

Beurtkrag: Dít is hoe ver dit strek

Ekonome sê die jongste vlaag beurtkrag wat die land die afgelope week getref het, kan die ekonomie weer in ’n resessie laat terugsak.
Elvira Wood – Beurtkrag gaan nie net oor die ligte wat nie werk nie.

Dit strek veel verder en ekonome sê die jongste vlaag beurtkrag wat die land die afgelope week getref het, kan die ekonomie weer in ’n resessie laat terugsak.

Hier is die agt gebiede waar beurtkrag die afgelope week groot amok gemaak het.

1. Vertroue

Een van die grootste probleme wat die uitgebreide kragonderbrekings die afgelope week veroorsaak het, is die totale gebrek aan vertroue wat dit by beleggers, sakelui en verbruikers laat ontstaan het.

Dit is luidens Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group.

Roodt meen die boodskap wat die land aan die res van die wêreld stuur, dat daar nie krag is om sake te doen nie, gaan die ekonomie in ’n resessie laat terugsak én kredietgradeerders noop om die land se kredietwaardigheid net verder af te gradeer.

2. Ekonomie

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, het aan Fin24 gesê beurtkrag kos die Suid-Afrikaanse ekonomie waarskynlik R1 miljard per dag per fase wat ingestel word.

Met dié dat fase 4-beurtkrag nou vir die sesde agtereenvolgende dag ingestel is, het die land reeds sowat R24 miljard net dié week verloor.

Dit is weens dié enorme verliese dat ekonome soos Roodt en Johan Willemse, ekonoom by Agrimark Consultants, hul kommer uitspreek.

Willemse som die situasie as volg op: “Die werklikheid is dat fabrieke nie teen hul volle kapasiteit bedryf word nie, boere ly erge skade want hulle kan nie genoeg besproei nie weens beperkte ure, terwyl ander besighede soos restaurante en winkels tussen 20% en 30% van hul werksdag weens beurtkrag verloor. Tóg moet hulle steeds hul werkers en oorhoofse koste betaal.

3. Water

Isaac Dhludhlu, woordvoerder van Johannesburg Water, het op 19 Maart gewaarsku dele van dié stad sal beslis sonder water wees sou beurtkrag langer as vier of vyf uur duur.

“Die krane sal opdroog.

“Ons het reeds ’n probleem in gebiede rondom die Brixton-watertoring geïdentifiseer waar ’n erge watertekort Sondag weens die toepassing van beurtkrag ondervind is. Die watervlak van dié toring is laag.”

Munisipaliteite het krag nodig om watertorings en reservoirs te vul. Dit is dus nie net Johannesburg Water wat dié probleem ervaar nie.

4. Veiligheid

Wanneer die krag afgaan, beteken dit veiligheidstelsels by huise en werkplekke werk ook nie noodwendig meer nie.

Christelle Colman, versekeringskenner by Old Mutual, sê mense moet bewus wees van die sekuriteitsrisiko’s wat beurtkrag kan veroorsaak.

As batterye oud is, kan dit beteken hekke en alarms hou op werk tydens ’n kragonderbreking.

Dit is dus dan makliker vir misdadigers om toegang tot ’n perseel te kry. Boonop word beurtkragskedules wyd en syd gepubliseer. Dit beteken misdadigers kan presies sien waar en wanneer daar kragonderbrekings gaan wees.

Die veiligheidsmaatskappy ADT sê Woensdag in ’n verklaring beurtkrag plaas druk op sy stelsels en hy sukkel om sy kliënte terug te skakel as hul alarms afgaan.

Hy sê al hoe meer huise en ondernemings se alarms gaan af weens beurtkrag.

5. Verkeer

Een van die grootste ongerieflikhede weens beurtkrag is verkeersligte wat nie werk nie.

Enorme verkeersopeenhopings veroorsaak nie net dat mense laat by die werk of skool opdaag nie, dit maak baie motoriste ook ongeduldig. Dit kan weer tot motorongelukke lei.

Straatligte wat saans nie werk nie, maak dit moeilik om voetgangers raak te sien.

Misdadige elemente kan ook voordeel uit die donker trek wanneer motoriste by kruisings stilhou.

Wat betref verkeersligte, geld die standaard-verkeersreël dat dié kruisings as vierrigtingstopstrate gehanteer moet word.

6. Landbou

AgriSA het reeds in Februarie gewaarsku dat beurtkrag ’n baie nadelige invloed op landbou sal hê.

Dit is veral van toepassing op boere wat op besproeiing staatmaak.

Nicol Jansen, voorsitter van AgriSA se Sentrum van uitnemendheid: ekonomie en handel, sê “die negatiewe uitwerking raak sowel produsente as verbruikers, omdat dié subsektore ’n belangrike rol het om Suid-Afrika se voedselsekerheid te verseker”.

“Meer as 25% van die land se kos word gelewer deur dié bedrywe wat afhanklik is van besproeiing en energie-intensief is.”

7. Mynwese

Die Mineraleraad van Suid-Afrika waarsku dat beurtkrag nie net mynbouproduksie benadeel nie, maar ook ’n ernstige veiligheidsrisiko meebring.

Hoewel myne hul skofte aanpas om by geskeduleerde beurtkragfases te pas, kom die probleem in wanneer krag op ander tye onderbreek word.

Dit kan veroorsaak dat mynwerkers ondergronds of selfs in hysbakke gestrand raak.

8. Selfoonsein

Selfoondiensverskaffers gaan gebuk onder beurtkrag en sukkel om selfoontorings tydens kragonderbrekings aan die gang te hou.

MTN én Vodacom het bevestig die voortslepende probleme by Eskom plaas druk op die netwerk en dit gaan soms broekskeur om die selfoonsein aan te hou wanneer die ligte afgaan.

Albei diensverskaffers gebruik ’n kombinasie van batterye en kragopwekkers om tydens beurtkrag elektrisiteit aan selfoontorings te verskaf.

MTN waarsku egter dat sy batterye nie kans kry om behoorlik te herlaai nie omdat Eskom oor die laaste paar dae so gereeld beurtkrag instel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!