Beurtkrag: Groot tekort aan batterye vir alarms
Nellie Brand-Jonker – ’n Landwye tekort aan batterye vir alarmstelsels word ervaar sedert die byna weeklange fase 4-beurtkrag wat van middel Maart af plaasgevind het.
Nadat ADT in Kaapstad Woensdag gesê het dat hulle uit voorraad is, is vasgestel dit is ’n landwye probleem. (Sien ADT se reaksie wat later ontvang is na die berig gepubliseer is.)
Dave Waywell, besturende direkteur van die kusstreek vir Elvey Security Technologies, sê die strawwe beurtkrag onlangs in Maart het alarmstelsels se batterye beskadig. “Daar was ’n groot stormloop vir batterye landwyd wat tot ’n tekort daaraan gelei het.”
Hy sê dit het byna elke invoerder van batterye in Suid-Afrika onverhoeds betrap.
Volgens hom word alle battery vir alarmstelsels, motorhuisdeure en hekke ingevoer.
Omdat die batterye weens die chemikalieë daarin verskeep moet word, neem dit sowat drie tot vier weke ná ’n bestelling voordat die vraghouers die land bereik.
“Die goeie nuus is die voorraad begin nou stadigaan van China af aankom. As ’n invoerder sal ons ’n paar duisend inkry en na ons takke kan versprei.”
Hy meen die voorraadsituasie sal teen volgende week weer terug na normaal wees.
Die laaste beurtkrag het op 23 Maart plaasgevind.
Paul Garde, eienaar van die alarmstelsel-spesialis Trust Garde, sê talle alarmstelsels se batterye is beskadig tydens die fase 4-beurtkrag omdat daar tot drie keer per dag kragonderbrekings ervaar is.
Dit het veroorsaak dat die batterye nie genoeg tyd gehad het om behoorlik te herlaai voordat die krag weer afgaan nie. Elke keer as ’n battery gebruik word en dit word nie weer vol gelaai nie, kry hy skade.
Veral batterye wat ouer as twee jaar is, het ingegee.
“Maar (die ander) se batterye is beslis ook beskadig. As daar weer so ’n tydperk van strawwe beurtkrag kom, gaan hulle probleme kry.”
Volgens hom het sy verskaffers aan hom te kenne gegee hulle het voorraad wat “baie binnekort gaan opdaag”.
“Niemand het dit verwag nie en niemand kon daarvoor voorsien nie,” sê hy.
Waywell sê hulle het buffervoorraad om genoeg voorraad te hê tydens die verskeping van bestellings, maar die beurtkrag het onverwagse probleme veroorsaak. Hulle gaan nou hul buffervoorraad verhoog.
Volgens hom is ’n soortgelyke situasie sowat vier jaar gelede ervaar toe die eerste groot beurtkrag plaasgevind het. “Maar hierdie keer het die langer tye wat die fase 4-beurtkrag geduur het, dit baie erger gemaak.”
Garde sê ten opsigte van sekuriteit is die probleem dat sekuriteitsmaatskappye soos ADT se beheerkamers wat die alarms monitor, oorval word deur seine van alarmstelsels wat afgaan omdat die batterye pap word.
“Dit kan beteken hulle kan potensieel ’n (ware) sein mis, selfs van iemand wat ’n splinternuwe stelsel het.”
Waywell se raad is dat mense met hul sekuriteitsmaatskappye skakel voordat daar weer beurtkrag kom om seker te maak hulle het die korrekte grootte battery om die gereelde beurtkrag te hanteer.
“Maar as beurtkrag weke en weke voortduur, sal selfs ’n nuwe battery vrek.”
Hy maan ook selfs sonder beurtkrag moet mense minstens elke twee jaar hul alarmstelsel se battery laat nagaan.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie