'Beurtkrag spook minstens nog 2 jaar by SA' u2013 Eskom
'Beurtkrag spook minstens nog 2 jaar by SA' u2013 Eskom

'Beurtkrag spook minstens nog 2 jaar by SA' – Eskom

Die kragreus se bedryfshoof sê mense moenie dink die risiko is weg nie al deel hy goeie nuus.
William Horne



Die donker wolk van beurtkrag sal minstens nog twee jaar swaar oor Suid-Afrika hang, het Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, Woensdag gewaarsku.

Dit is hoe lank dit die kragreus na verwagting gaan neem om sy situasie sodanig te verbeter dat kragverskaffing uiteindelik stabiel raak, het hy in antwoord op vrae gesê.

Oberholzer het gepraat op Eskom se kwartaallikse terugvoersessie by Megawatt Park in Johannesburg.

Hy sê mense moenie dink die risiko is weg nie al deel Eskom goeie nuus, soos wat hy ook Woensdag gedoen het.

Eskom meen daar sal waarskynlik oor die volgende sewe maande – wanneer sy somerplan geld – geen beurtkrag wees nie. Maar die somer kan sy eie unieke uit­dagings bring.

Die warmer winter wat daartoe bygedra het dat energieverbruik vanjaar laer as gewoonlik was en dus gehelp het om beurtkrag te vermy, sal waar­skynlik gevolg word deur 'n warm somer, wat 'n nega­tiewe uitwerking op steenkoolkragstasies kan hê.

Volgens Jabu Mabuza, waarnemende uitvoerende hoof, verlaag hitte die doeltreffendheid waarmee steenkoolkragstasies elektrisiteit kan opwek. Sake word bemoeilik deurdat Eskom se opwekkingsvermoë toenemend ­gesentraliseer word in groter enkele krag­stasies, aangesien kleiner en ouer stasies uit bedryf gestel word.

As een kragstasie dus probleme ondervind weens byvoorbeeld die weer, is die impak groter as wat dit sou wees as die opwekkingsvermoë oor 'n groter geografiese gebied versprei was.

Mabuza het die voorbeeld genoem van die Matimba-kragstasie in Limpopo wat swaarkry as die wind in Desember waai, veral noudat hy ouer word. Dié ouer ontwerp is uniek kwesbaar hiervoor.

Oberholzer sê die risiko lê juis daarin dat Eskom in die somer meer instandhoudingswerk wil doen. Maar dít vernou sy veiligheidsmarge as iets groot sou skeefloop.

Mabuza sê daar is ook nuwe probleme: transmissietorings word vir staal geteiken.

Mabuza sê Dinsdagaand in Roodepoort het 'n 30 m hoë toring omgeval nadat diewe eenvoudig die staal van sy voetstukke afgesny het. “Dit is dalk die grootste risiko wat ons tans het. As die drade breek wanneer so 'n toring ineenstort, kan dit wegholbrande skep, maar ook, in die geval van hoogspanningsdrade, ­miljoene mense sonder krag laat en die netwerk verwoes, sê Mabuza.

Oberholzer sê waar hy kan, het Eskom nou ­reserwes en gebeurlikheidsplanne.

Steenkoolreserwes is nou op een na by alle steenkoolkragstasies opgebou tot die vereiste 50-dae-voorraad. Vroeër vanjaar was die voorrade amper uitgeput.

Daar is ook genoeg diesel vir sy noodopwekkers ­opgegaar ingeval groot opwekkingstekorte ontstaan.

Maar Oberholzer sê hy hoop dié voorraad hoef nie weer ingespan te word teen die pas wat daagliks nodig was tydens Maart se kragkrisis nie.

“Ons kan nie bekostig om nog geld aan diesel te bestee nie,” sê hy.

“As die voorraad opraak, is daar ook 'n bottelnek by die hawens om nog te ontvang, en dan is die stelsel uiters kwesbaar vir beurtkrag.”

Slegs een eenheid van Eskom se twee nood-­dieselopwekkers gebruik 14 liter diesel per sekonde.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!