Beurtkrag wink dalk weens swak steenkool
Francois Williams
Eskom het die probleme met steenkoolvoorraad van verlede jaar uitgesorteer, maar die nuwe probleem is swakker steenkoolgehalte, wat binnekort weer tot beurtkrag kan lei.
Só waarsku ’n internasionale konsultant in die steenkoolbedryf wat onlangs op besoek was in Suid-Afrika en met Eskom-amptenare gepraat het.
Randy Fabi, adjunkredakteur van markte by die navorsings- en konsultantfirma IHS Markit, het in ’n webseminaar gesê Eskom-amptenare het aan hom vertel myne stuur nou steenkool van swakker gehalte na Eskom, wat tot lekkasies by stoomketels en ander bedryfsprobleme lei.
Eskom het nie die gehaltebeheer in plek om die steenkool reeds by die mynhekke na te gaan nie. Eskom wil dus R1 miljard bestee om die probleem reg te stel, wat ’n paar jaar kan duur.
Een Eskom-amptenaar is besorg dat die land weer beurtkrag kan ervaar ná meer as 100 dae sonder enige kragonderbrekings.
Eskom het tans net genoeg geld om sy rente tot en met Oktober te betaal. Van die geld wat Eskom nou gaan kry, gaan in koste-plus-myne belê word. Sowat R12 miljard word glo daarvoor beoog. Dié soort myne is waar Eskom kapitaalbesteding by die myne finansier in ruil vir langtermyn-steenkoolkontrakte.
Eskom wil kontrakte van so lank as vyf tot agt jaar sluit.
As gevolg van Eskom se sterk aankope van steenkool, word die binnelandse steenkoolmark nou aantrekliker as die uitvoermark, sê Fabi.
Hy waarsku egter Suid-Afrika se steenkoolgehalte is aan die verswak op die uitvoermarkte.
BELANGRIKER ROL SPEEL
Fabi sê dit lyk wel of die steenkoolbedryf ’n veel belangriker rol kan speel in die nuwe geïntegreerde hulpbronplan (IRP) noudat Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, ook die departement van energie onder sy vlerk het.
Die vorige hersiening van die IRP, wat die bloudruk is vir Suid-Afrika se kragleweringsplanne oor die volgende paar dekades, is onder toesig van Jeff Radebe, vorige minister van energie, gedoen. In die vorige weergawe het steenkool ’n veel kleiner rol as tans gespeel, met die plan dat steenkool se bydrae tot kragopwekking van die huidige 90% tot 65% sou daal.
Maar Radebe is sy kabinetspos kwyt ná pres. Cyril Ramaphosa se kabinetskommeling, en onder Mantashe se toesig word verwag steenkool gaan weer ’n sterk rol kry.
Mantashe sal na verwagting in September die finale IRP aan die kabinet voorlê.
Rabi sê steenkool-drukgroepe beskou die stryd om ’n groter rol in die IRP as ’n “oorlog”.
GEWELDDADIGE PROTES
Rabi sê daar is die afgelope jaar ’n skerp toename in gewelddadige protes by die steenkoolmyne in Mpumalanga.
Mantashe moes tussenbeide tree om by onrus by die myne van Glencore, South32, Wescoal, Exxaro en andere in Mpumalanga te probeer bemiddel.
Eskom is egter die grootste bekommernis. Met ’n jaarlikse vraag van 250 miljoen ton steenkool speel Eskom ’n kritieke rol in die bedryf. “As Eskom misluk, trek hy die plaaslike steenkoolbedryf saam af.”
Eskom het nog nie op navrae oor die swakker steenkoolgehalte en die risiko van ’n nuwe vlaag beurtkrag gereageer nie. – Netwerk24
GRYSBLOK
Steenkool in syfers:
· Suid-Afrika is die vyfde grootste steenkooluitvoerder en gee werk aan meer as 80 000 mense, dit verteenwoordig sowat 20% van alle mynbou-werksgeleenthede;
· Steenkooluitvoer groei met sowat 1 miljoen ton per jaar, met 80 miljoen ton wat verlede jaar uitgevoer is;
· Uitvoerverkope is meer as US$5 miljard per jaar werd;
· Eskom se 15 steenkoolkragsentrales lewer meer as 90% van Suid-Afrika se elektrisiteit.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie