Bevolking- en behuisingsensus tot Augustus 2022 uitgestel
Bevolking- en behuisingsensus tot Augustus 2022 uitgestel

Bevolking- en behuisingsensus tot Augustus 2022 uitgestel

Regering
Tanja Bause
Luidens ’n verklaring wat op 14 Junie deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) uitgereik is, is die 2021 bevolking- en behuisingsensus, wat in Augustus vanjaar sou plaasvind, uitgestel en word dit nou vir Augustus volgende jaar beplan.
“Soos vroeër deur een van die dagblaaie berig, kan hierdie uitstel hoofsaaklik togeskryf word aan mededingende prioriteite soos die huidige Covid-19-begroting,” lui die verslag wat onderteken is deur die statistikus-generaal en uitvoerende hoof van die NSA, mnr. Alex Shimuafeni.
Die bevolking- en behuisingsensus vind elke tien jaar plaas en bestaan uit verskeie fases. Die NSA is die afgelope paar jaar besig met die beplanning van die verskillende fases, wat sensuskartering insluit.
Die laasgenoemde proses behels die verifiëring van alle fisiese infrastrukture wat landswyd opgerig is, wat NSA in staat stel om verskillende databasisse te skep en by te werk, soos ’n behuisingsregister; inligting oor skole, klinieke en huishoudings; sowel as ’n volledige raamwerk om mee te werk wanneer die sensus begin.
In hierdie stadium het die NSA die huishoudelike komponente van die sensuskartering voltooi, terwyl hulle besig was om die kartering van ondernemings en instellings te finaliseer. Die NSA het 517 werklose mense gewerf om 955 037 opgerigte strukture landwyd te besoek en te verifieer.
Tydens die beplanningsfase het die NSA daarin geslaag om die kartering af te handel, wat besoeke aan elke struktuur in die land behels om te verifieer of hierdie strukture vir verblyf- of vir sakedoeleindes gebruik word.
“Ons wil in die eerste plek die hele land bedank vir jul hulp en samewerking met ons opnemers wat jul huise en besighede tydens die karteringsproses besoek het. Die sukses van dié projek kan deels toegeskryf word aan jul samewerking en hulp,” lui die verslag.
Die NSA het ’n versoek om voortgesette ondersteuning aan die land gerig in verband met die uitvoering van die volgende fase van die proses, naamlik die proefsensus wat later vanjaar sal plaasvind. Die proefsensus dien as ’n toetslopie vir die werklike bevolking- en behuisingsensus.
Gegewe die onsekerheid oor die situasie rondom die pandemie wat tans in die land heers, sal die NSA die Covid-situasie monitor en die land op hoogte hou van die proefsensus en die werklike bevolkingstelling-fase.
[email protected]
Foto ter illustrasie, Tanja Bause

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer