Bevorder plaaslike en streektoerisme
Bevorder plaaslike en streektoerisme

Bevorder plaaslike en streektoerisme

Politieke partye gee hul mening oor hoe die toerismesektor, wat weens Covid-19 geknak is, weer kan opstaan en herleef.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg

Met die toerismesektor wat weens die Covid-19-pandemie en inper­kingsmaatreëls in duie gestort het, gee politieke partye hul mening oor hoe plaaslike en streektoerisme ondersteun en bevorder kan word.

Die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), sê die denkwyse van streekraadslede en dié van plaaslike owerhede moet drasties verander om die voordele van toerisme vir hul gebiede te verstaan deur nou met die private sektor saam te werk.

“Streekrade kan toerisme in hul streke bevorder deur druk op die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme te plaas om die paaie van toeristetrekpleisters soos die nasionale parke Etosha, Bwabwata en Mahangu op te gradeer,” het die tesourier van die PDM, mnr. Nico Smit, gesê.

“Streekrade moet nou met die toerismebedryf saamwerk om nuwe trekpleisters in ver­skeie streke te identifiseer en ontwikkeling aan te moedig. Hulle moet dit nie bestuur nie, maar die ontwikkeling daarvan deur die toerismebedryf fasiliteer.”

Smit sê plaaslike owerhede speel 'n unieke en belangrike rol in die bevordering van toerisme in dorpe en stede.

“Sekere strate in groter dorpe soos Rundu, Katima Mulilo, Oshakati, Swakopmund, Otjiwarongo, Keetmanshoop en in Windhoek moet toegemaak word om inkopiesentrums te skep waar daar straatkafees is, asook stalletjies waar plaaslike produkte verkoop word en vermaak soos straatmusikante en -dansers,” sê Smit.

“Maak dorpe skoon en hou dorpe skoon!”

Smit beklemtoon doeltreffende sekuriteit vir toeriste en burgers soos 24 uur voetpatrollies en meer straatbeligting om mense aan te moedig om saans te loop en restaurante en straatverkopers te besoek.

“Plaaslike owerhede moet met elke dorp se toerismebedryf saamwerk en 'n deeglike inligtingsentrum bestuur wat maklik toeganklik vir elke besoeker is,” sê Smit.

Die PDM meen daar moet duidelike padtekens in dorpe se strate wees en padkaarte moet vir 'n klein fooi beskikbaar wees.

“Plaaslike owerhede moet gereelde vergaderings met die toerismebedryf hou om nuwe trekpleisters – binne en buite dorpe – te identifiseer en ontwikkel met maklike en veilige toegang daartoe,” sê Smit.

Die leier van die Republican Party (RP), mnr. Henk Mudge, sê politieke partye kan baie moeilik toerisme ondersteun.

“Ons toerismeverenigings en -organisasies is uiters professioneel en weet wat om te doen om die toeriste hier te kry en dienste van hoogstaande gehalte te lewer,” sê hy.

“Die probleem lê by die regering. Namibië moet van die lande in die wêreld wees met die minste gevalle van hierdie Covid-ding en die minste sterftes, so ons regering is vas aan die slaap.”

Mudge meen die regering moes lankal begin het om Namibië as 'n veilige bestemming te bemark en dan “ophou om hierdie sinnelose maatreëls in te stel”.

'MAAK GRENSE OOP'

Die RP sê maak die grense oop en laat die lodges en akkommodasiegeriewe self die nodige voorsorgmaatreëls tref.

“Hulle is verantwoordelik en weet wat om te doen.”

Die Rally for Democracy and Progress (RDP) beaam dat die toerismebedryf deur die Covid-19-pandemie verwoes is en die regering het nie 'n gebeurlikheidsplan ingestel om die nadele op die bedryf te verlig nie.

“Afslagpryse moet aangebied word wat deur die regering gesubsideer word,” het die RDP se leier, mnr. Mike Kavekotora, gesê.

“Alle staatsbeamptes op amptelike reise moet aangemoedig word om ons lodges en hotelle te gebruik.”



'SADC MOET SAAMWERK'

Kavekotora beveel ook aan dat alle lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) byeenkom en op 'n geïntegreerde herlewingsplan vir die streek besluit.

Mnr. Rudi van Wyk, voorsitter van die Rehoboth Independent Town Management Association (Ritma), sê rakende Rehoboth, die huidige infrastruktuur en toeristetrekpleisters soos die Reho Spa, die warmwaterbronne, die stad­saal (Hermanus van Wyk-gedenksaal), monumente, asook geskiedkundige grafte moet gerestoureer word.

“Dit kan deur gemeen­skapsprojekte gedoen word. Rehoboth spog nie verniet met die beste ambagsmanne in die land nie,” sê Van Wyk.

“In dieselfde asem sal ons ons dorp op 'n ander vlak moet bring deur middel van positiewe plaaslike en internasionale bemarking.”

Van Wyk sê samewerking tussen die dorpsbestuur en inwoners is van integrale belang.

“Ritma gaan beslis sorg dat deursigtigheid en kommunikasie, wat tans nie die geval in die Rehoboth-dorpsbestuur is nie, 'n hoofprioriteit is.”

Volgens Van Wyk sal die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) ook aan boord gebring word ten einde 'n besigheids-gebaseerde dinkskrum van stapel te stuur.

“Stellenbosch (in die Wes-Kaap) is byvoorbeeld wêreldbekend vir hul wynroete, en daar is geen rede waarom Rehoboth nie ook op die wêreldkaart geplaas kan word vir 'n vleisroete nie,” sê Van Wyk.

“Gepaardgaande hier­mee is natuurlik 'n opgeknapte Reho Spa, die internasionaal befaamde Lake Oanob-oord net buite die dorp, asook ons Akasia-woud waar van die oudste bome in die wêreld gevind kan word,” sê Van Wyk.

“Voorts wil ons veral plaasboere aanmoedig om weer soos in die vroeër jare wild op hul plase te vestig.”

Hy verwys na die regering se wildteelprogram waar plaasboere hulp aangebied word om wild aan te koop.

“Ritma gaan beslis sorg dat Rehoboth en die omliggende area nie verder agterweë bly en uitgesluit word rakende hierdie tipe skemas nie. Dit sal tot voordeel van die dorp en inwoners strek,” sê Van Wyk.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!