Bewaar die vrede met Botswana
Bewaar die vrede met Botswana

Bewaar die vrede met Botswana

President Geingob het 'n beroep op kalmte en samewerking gedoen terwyl die gesamentlike ondersoek voortduur.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die regerings aan beide kante neem stappe om die trant van die gesprekvoering en openbare opvattings rakende die skietvoorval waarin vier vissermanne deur die weermag van Botswana (BDF) op 5 November doodgeskiet is, te beheer en te bestuur.

Staatsinstellings word ingespan om opstoking van emosies te bekamp, ná 'n naweek van protes in Namibië, wat die bestoking van vragmotors uit Bo­tswana met klippe by die Namibiese Ngoma-grenspos ingesluit het.

In Namibië word 'n NamPower-werknemer intern ondersoek oor 'n dreigende boodskap wat op sy persoonlike sosiale mediarekening geplaas is. In die boodskap word Botswana-burgers in weerwraak met die dood gedreig indien hulle in die komende vakansietyd Namibië se weskus sou besoek.

NamPower het hom Maandag gedistansieer van enige haatspraak of die opstook tot geweld nadat die boodskap op hul amptelike sosialemediablad aangemeld is. “Die kwessie word intern hanteer en ontvang die aandag wat dit verdien,” sê die nasionale kragverskaffer se skakelafdeling.

Intussen het Botswana een van sy burgers in hegtenis geneem oor die verspreiding van foto's van die oorskotte van die skietvoorval, op 'n Whatsapp-groep na ander lede van sy opposisieparty. Volgens Botswana se weekblad The Monitor is mnr. Isaac Keleagetse van die Botswana Patriotic Front laas Donderdag in hegtenis geneem en teen Saterdag was sy selfoon steeds in die regering se besit, as deel van die ondersoek.

Die vissermanne was drie broers, mnre. Tom, Wamunyima en Martin Nchindo, asook hul neef mnr. Sinvula Munyeme, 'n burger van Zambië. Saam met hul moeder me. Alphonsina Nkungano Mubu (69), wat dae later vermoedelik weens skok en trauma oorlede is, is almal Maandag op Impalila-eiland begrawe.

Botswana se president Mokgweetsi Masisi het intussen drie van sy kabinetslede afgevaardig op 'n besoek om inwoners van dorpies naby die grenslyn met Namibië te kalmeer. Dié taak is aan die ministers van buitelandse sake (dr. Lemogang Kwape), verdediging, justisie en sekuriteit (mnr. Kagiso Mmusi) en adjunkminister van onderwys (mnr. Machana Shamukuni) opgelê.

President Hage Geingob het sy boodskap van meegevoel met die betrokke familie uitgereik. Geingob sê hy was onmiddellik en deurlopend in kontak met sy eweknie van Botswana.

“Om by die waarheid te kom en om soortgelyke gevalle in die toekoms te vermy, het Namibië en Botswana ooreengekom om 'n gesamentlike span diplomate, kenners en beamptes opdrag te gee om deeglik en objektief ondersoek in te stel,” volgens Geingob.

Die Namibiese staatshoof het wel Botswana se doodskietbeleid teen stropers as strydig met die internasionale en streekbeginsels van vreedsame naasbestaan en stabiliteit beskryf. “In enige demokrasie is elke persoon onskuldig totdat hy in 'n geregshof skuldig bevind word,” sê Geingob. Mense wat Namibië onwettig betree, word so behandel, sê hy.

Geingob betreur “die gru-moord op vier onskuldige Namibiese burgers deur die Botswana-weermag (BDF) langs die Choberivier, wat na bewering die grenslyn na Botswana oorgesteek het om vis te vang,” sê hy.

Geingob sê hy het tevore die kwessie met Botswana se vorige president Seretse Khama Ian Khama opgeneem en praat nou weer met Masisi hieroor.

“Ek kan met oortuiging sê dat daar welwillendheid by die huidige president van Botswana is, om die dood­skietbeleid te herroep. Daarom sien ek uit na 'n spoedige diplomatieke oplossing vir die probleem,” sê hy.

Namibië se president het burgers se reg tot vreedsame protes herbevestig, maar hy het die geweld by Ngoma-grenspos betreur. “Ons verwelkom betogings as 'n integrale deel van ons burgers se regte, binne die vasgestelde prosedures en kanale,” sê hy.

“Ek doen 'n beroep op alle Namibiese burgers, om met die owerhede saam te werk en kalm te bly en op 'n vreedsame manier op te tree, sonder om die reg in eie hande te neem,” sê hy. “Die lewens van alle Namibiërs is belangrik en moord op ons onskuldige mense sal nie geduld word nie,” sê Geingob.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!