Bewaringsboerdery sukkel in Namibiu00eb
Bewaringsboerdery sukkel in Namibiu00eb

Bewaringsboerdery sukkel in Namibië

Bewaringsboerdery het groot waarde in ‘n droë land wat dikwels voedselonsekerheid beleef.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Selfs ná ‘n dekade en ‘n half se bevorderings- en steunprogramme kon bewaringsboerdery steeds nie ‘n vastrapplek in Namibië kry nie.

Die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) se mnr. Dietrich Remmert sê in ‘n navorsingsartikel oor dié manier van boer wat landbouproduksie verbeter en die natuur help beskerm, dat bewaringsboerdery-projekte deur implementerings- en geldelike kwessies in die wiele gery word.

Ook ‘n string ander tegniese en sosiale kwessies belemmer die plaaslike toepassing daarvan.

Remmert sê die rede is dat dit op drie sleutelbeginsels berus.

Dit is die minimale ontwrigting van grond, ‘n permanente, organiese grondbedekking asook die diversifisering van gewastipes en gewasrotering.

“Die ministerie van landbou, water en grondhervorming definieer dit as ‘n benadering om landbou-ekostelsels te bestuur vir verbeterde en volhoubare produktiwiteit, verbeterde wins en voedselsekuriteit. Dít terwyl die hulpbronne en omgewing bewaar en verbeter word.

“Dienooreenkomstig hou dit verskeie voordele in, wat insluit stabiele en verbeterde landbouproduksie asook die beskerming van natuurlike hulpbronne – in kontras met intensiewe of nywerheidslandbou, wat maksimum gewasproduksie ten koste van die omgewing verkry.

“Dit word ook as ‘n manier beskou waarop klimaatslim geboer kan word en by die nadelige uitwerking van klimaatsverandering aangepas kan word,” verduidelik Remmert.

“Namibië se ervaring van bewaringsboerdery is egter nie net tot dié land beperk nie aangesien boere in die groter Suider-Afrikaanse gebied sukkel om daarna oor te skakel.

“Dit is ook merkwaardig dat ten spyte van regeringsuitsprake en -beleide wat beide bewaringsboerdery en landbou-ontwikkeling - op papier - onderskryf, die regering die landbousektor konstant onderbefonds.

“Verder is inligting en statistiek oor die omvang en vordering van bewaringsboerdery in die land baie beperk, wat dit ‘n uitdaging maak om die ware stand van sake vas te stel.

“Die gebrek aan konkrete, openbare projekevaluasies en -assesserings beteken inligting oor potensiële probleme en lesse wat moontlik geleer kon word, is dun gesaai,” het Remmert gesê.

Hy sê daarteenoor gee dokumente oor die ervaring van bewaringsboerdery en aanpassing by klimaatsverandering op streeksvlak, wel ‘n aanduiding van die moontlikke struikelblokke vir die toepassing daarvan.

“Dit is egter nie duidelik of dié inligting genoeg sal wees om toekomstige bewaringsboerdery-projekte te vestig op 'n wyse waarop ons die harhaling van foute kan voorkom nie.”

Remmert sê die meeste internasionale navorsing is ten gunste van bewaringsboerdery en die waarde daarvan vir ‘n droë land soos Namibië wat dikwels nie oor genoegsame voedselsekuriteit beskik nie.

“Tog word dit ook duidelik gemaak dat bewaringsboerdery beduidende hulpbronne, bevordering en befondsing benodig sodat dit wyd aanvaar kan word.

“Boonop moet nasionale beleide en strategieë die bestaande struikelblokke vir toepassing in ag neem en dit doelbewus takel,” het Remmert gesê.

Hy stel voor dat 'n omvangryke opname gedoen word om vas te stel hoe bewaringsboerdery plaaslik vaar, terwyl dit duidelik is dat die landboubegroting en inisiatiewe vir bewaringsboerdery beter befonds behoort te word.

Hy meen skenkerorganisasies en kommersiële belange kan ook help om bewaringsboerdery te bevorder.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!