Bewerings oor Guptas kos grootkop sy werk
Niel Joubert - Die omstrede en uitspattige Gupta-troue in 2013 by Sun City het ’n grootkop by Alexander Forbes sy werk gekos.
Moses Kgosana het as nie-uitvoerende direkteur van Alexander Forbes bedank, het dié maatskappy Maandag op Sens gesê. Sy bedanking tree op 3 Julie in werking. Kgosana sou op 31 Augustus voorsitter van die maatskappy word.
Sy bedanking kom ná onlangse berigte wat beweer KPMG Suid-Afrika, waarvan Kgosana die uitvoerende hoof en senior vennoot was, was bewus van ongerymdhede by Gupta-maatskappye.
Die sentrum vir ondersoekende joernalistiek amaBhungane en die nuuswebwerf Daily Maverick se ondersoekeenheid Scorpio het berig die Guptas het die Vrystaatse regering se suiwelprojek in Vrede vir miljoene rande gemelk om vir die luukse troue van ’n familielid van vier dae lank by Sun City te betaal.
Finansiële state wat in die #GuptaLeaks-e-posse gekry is, wys die projek het in 2013 in ’n tydperk van ses weke R84 miljoen na ’n Gupta-maatskappy se bankrekening in Dubai oorbetaal.
’n Forensiese ondersoek wys dat minstens ’n driekwart van dié geld kort daarna aan twee Gupta-maatskappye in Suid-Afrika oorbetaal is om vir die troue te betaal, wat minstens R30 miljoen gekos het.
Luidens die berigte en die #GuptaLeaks-e-posse was KPMG ten tyde van Kgosana se ampstermyn bewus van die betalings, berig Bloomberg.
Ondersoek
KPMG was ook na bewering bewus daarvan dat die Guptas die koste van die troue as sakeverwante uitgawes geëis het.
Kgosana het Vrydag aan Bloomberg gesê die ouditfirma was nie bewus van die betalings nie en dat enige geldwassery nie deur die boeke gegaan het wat KPMG geoudit het nie. Volgens Kgosana sou die maatskappy verplig gewees het om dit aan die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba) te openbaar as hy daarvan geweet het.
Irba het intussen aangedui hy gaan die bewerings ondersoek.
Kgosana glo sy bedanking is die regte stap “vir homself, die maatskappy, sy kliënte en aandeelhouers”, sê Alexander Forbes.
Hy meen die eise wat aan hom gestel gaan word terwyl hy op hierdie bewerings reageer, gaan inmeng met die verwagtinge waaraan hy moet voldoen in die rol, sê Alexander Forbes.
“Alexander Forbes verwelkom hierdie optrede.”
Sello Moloko, huidige voorsitter, sal aanbly as nie-uitvoerende voorsitter, sê die maatskappy.
Volgens Bloomberg het KPMG sy verhouding van 15 jaar met die Guptas twee jaar gelede beëindig nadat die ondersoek na hul bedrywighede deur die openbare beskermer begin is.
Die #GuptaLeaks-e-posse wys ook dat Kgosana, wat KPMG in 2015 verlaat het, een van die Guptas se gaste by die troue was. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie