Bid hier, spring daar in die nuwe jaar
Jo-Mare Duddy
Ek weet nie wie se oë die grootste is nie: Die jakopewers van die bidsprinkaan binne in die goggatenkie of die helder blou pierangs van die knapie wat in vervoering van buite af instaar nie.
“Idspingkaan, soos die kleutertong dié groot woord lomp in sy mondjie rondrol, se voelers krap-krap aan die binnekant van sy plastiekgrot. Aan die buitekant voel-voel die nuuskierige vingertjies. So asof die manne mekaar op die koel Sondagoggend “high-five”.
Met die reënmantel wat Windhoek die afgelope tyd so genadiglik toevou, kon hierdie ouma nie wag om vir 'n goggahuisie in die naaste speelgoedwinkel te gaan rondsnuffel nie. Kompleet met 'n vangnet en 'n vergrootglas. Dis tyd dat klein Brian nader kennis maak met die kleinvolk van 'n stadstuin; tyd dat hulle hul wonderwerke met hom begin deel.
Die amper heilige ritueel word stapgewys aangepak. Eers marjoram- en origanumstegies om die tydelike woning knus te maak.
Die skerp geure 'n hemelse kontras teen die vars plaasbeesmis wat in die nat aarde ingespit is. Dan koue reëndruppels wat van die laventelblare in die huisie afgeskud word – lafenis vir die oggendkuiertjie wat voorlê.
“Pasop, versigtig,” paai ek die gretige handjies wat die nuwe maatjie uit die net tot in die bendehuisie inwurm. Die senuagtige gegiggel van die seuntjie laat my reeds óórvol beker oorloop.
Die manne praat in vreemde tale, maar tog verstaan my hart élke woord van die groot geheime wat tydens die skattejag deur die tuin gedeel word.
Vir 'n beter eerste ontmoeting met my tuininwoners kon ek nie vra nie. Die San beskou die bidsprinkaan nie verniet as die oudste simbool van God nie. Elders in Afrika is dit 'n teken dat jou voorvaders en –moeders jou hand vashou.
Wyer in die wêreld is die bidsprinkaan die beeld vir die aarde en sy kleure en simboliseer dié vreemde wese se kamoeflering met die natuur vrede en harmonie, kalmte en stilwees.
Wat 'n gerustellende boodskap in hierdie tyd! 'n Tyd waarin ons – dóódmoeg en –bang ná 'n jaar soos verlede jaar – moed bymekaar móét skraap en die lewe moet optel. Weer begin, opbou, uitbou en aanhou.
Met verwondering, dankbaarheid en biddend.
Veral biddend, soos die buksie onder klein Brian se vergrootglas. Die insek se “handjies” immer gereed sodat, sodra sy gebed verhoor word, hy die lewe en sy eindelose geleenthede stewig kan vasgryp en nóg 'n môre kan verseker. 'n Beter môre, 'n veiliger môre, 'n mooier môre.
Die wyses wat in die simboliek rondvroetel, glo die bidsprinkaan verteenwoordig die krag van introspeksie, meditasie en die soeke na die mens se hoër self en doel.
Hoe gepas in hierdie jaar! Ons moet almal dieper in onsself delf, die waarheid binne onsself gaan soek.
Die ou normaal was vol harde lesse. Ons was uit pas uit met ons omgewing – die natuur en die mense om ons. Só gefokus op onmiddellike selfvervulling dat ons vergeet het om die saadjies vir môre se groei te koester. Dit eerder net in die dorre aarde van 2020 vertrap het.
Nie dat bidsprinkaan se 2021-paadjie nie met duwweltjies besaai gaan wees nie. Maar dit gaan hom ook nie stuit om sy rol voluit in die kosmos van my tuin te speel nie: Oë wawyd-oop teen gevaar. Vlugvoetig, maar rats en gefokus sal hy 'n kans vat as dit sy kant toe kom.
“'Idsprinkaan vertel anderdag sy storie verder,” oortuig ek my kannetjie om die delikate sespoot vry te laat om sy dag te gaan verken.
“Kom, ons het ook ons werkies in die huis.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie